Fraaiskrywers tydens tak se skoonskrifkompetisie gekroon
Een van die ATKV se Oos-Kaapse takke het vanjaar weer ’n spesiale kompetisie aangebied wat kinders help om hul vaardighede te ontwikkel. Die ATKV-tak Kapaailand se ATKV-Skoonskrifkompetisie het die leerders van die Laerskool Ugie entoesiasties aan die skryf gekry – dit is immers ’n kuns om jou letters mooi te kan vorm!
Lida Grové is ’n oudonderwyseres wat reeds vir ’n paar jaar met pensioen is. Sy vertel dat sy destyds ’n liedjiefees as deel van die ATKV-tak Kapaailand se projekte voorgestel het. Dit is wel vir ’n paar jaar gehou, maar toe die entoesiasme daarvoor kwyn, het sy met ’n blinknuwe plan vorendag gekom: ’n Skoonskrifkompetisie waaraan die grondslagfaseleerders van die skool kon deelneem.
“Uit ondervinding weet ek hoe baie kinders se skrif agteruitgaan. Daar is van die juffrouens wat nie meer genoeg aandag aan lettervorming en die ontwikkeling van skrif gee nie. Ek het gedink dit sal ’n goeie idee wees om só ’n kompetisie te loods. Dit was egter belangrik om dit onderhewig te maak aan die vereistes van die CAPS-dokument oor skoonskrif, waaraan elke skool moet voldoen, en ons het dit toe só aangepak,” sê Lida.
Die kompetisie is nog elke jaar met groot entoesiasme aangepak. Elke leerder wat deelneem, ontvang ’n sertifikaat vir deelname. Daar word ook wenners in die graad 2- en graad 3-kategorieë aangewys. Daarmee saam skenk die ATKV pryse soos waterbottels en pennesakkies aan die onderskeie wenners.
“Die Laerskool Ugie gebruik die ATKV-Skoonskrifkompetisie op ’n baie slim manier as deel van hul assessering en die punte wat die leerders in die kompetisie behaal het, word ook op hul rapporte aangedui. Die graad 3-leerders moes in lopende skrif skryf en die graad 2-leerders in drukskrif. Hierdie jaar kon die graad 1-leerlinge ook deelneem deur letters en syfers te vorm. In die verlede was die kompetisie vroeg in die jaar en kon hulle nog net letterpatrone maak. Alhoewel baie van die skool se leerders Engelssprekend is, moes hulle gedeeltes uit hulle Afrikaanse leesboeke kopieer – só het Afrikaans ook hierby gebaat,” sê Lida.
Vir haar lê die grootste waarde van die kompetisie daarin dat daar opnuut aandag aan skrifvorming gegee word. Onderwysers wat toegegooi word onder werk kry nie altyd tyd vir die fyner afronding nie. Danksy ’n kompetisie soos hierdie word daar opnuut aandag aan al hierdie aspekte gegee en hierby baat die leerders voorwaar. Die positiewe resultate van die kompetisie spreek – of skryf – vanself.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.