Gamka Klassiek betower Prins Albert
Geen verspoelde brug of dreigende natuurramp kon gaste van Prins Albert in die Karoo weghou nie. Die Swartbergpas en Meiringspoort was gesluit na swaar reën in die noorde van die streek, en die N1 by Leeu-Gamka asook die brug op Prins Albertweg was tydelik gesluit.
Ten spyte van hierdie strawwe weeromstandighede het die derde jaarlikse Gamka Klassiekfees bewys dat die krag van musiek, kultuur en gemeenskapsontwikkeling sterker is as die elemente.
Die fees, wat ’n trotse viering van die Afrikaanse kultuur is en Afrikaanse musikante na die platteland bring, het as ’n droom begin van die bekende Stellenbosse pianis Elna van der Merwe (feesbestuurder en artistieke direkteur) en haar man, Deon.
Gamka Klassiek word jaarliks in samewerking met die Prince Albert Community Trust (PACT) aangebied om die plaaslike gemeenskap te ontwikkel en platforms vir jongmense te skep.
Die Vriende van Afrikaans (VVA) het hande gevat met PACT by die plaaslike jeugsentrum om die fees op ’n hoë noot te begin. Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, het afgeskop met ’n lewendige storievoorlesing en die oorhandiging van boektrommels aan kleuterskole van Klaarstroom en Leeu-Gamka. Hierdie skenking is moontlik gemaak deur Maretha en Albert Geldenhuys van die Sursum Corda 100 Welsynstrust.
“Vir die VVA was dit ’n groot voorreg om deel van die fees te wees,” sê Chareldine. “Die VVA kan nie die belangrikheid van lees en boeke meer beklemtoon as in dié tyd waarin die wêreld hom tans bevind nie. Om ’n boek oop te slaan en te verstaan wat die woorde vir jou sê, is vir baie kinders maar ’n droom. Daarom bied die VVA deur ons boektrommelprojek die geleentheid dat kinders so vroeg as moontlik aan die wêreld van woorde en stories blootgestel word.”
Benewens die kindersessies, wat teaterspel deur Ilzebet Oosthuizen en ’n terapeutiese oefening deur Dokka Swart (Doen en Leer) ingesluit het, was daar ook ’n deurslaggewende bemagtigingsessie vir vroeëkinderontwikkeling (VKO)-ouers.
Dokka, Chareldine en Euria Hendrickse (EH Training and Development) het onder die temas, “Hoe maak ek my kind gereed vir skool?”, “Die belangrikheid van lees en voorlees” en “Effektiewe kommunikasie met jou kind” gesels.
Chareldine vertel verder: “Ons besef elke dag hoe belangrik hierdie ouersessies is, sodat ons ouers kan help en ondersteun om te verseker dat kinders se boublokke in plek is en hulle uiteindelik gereed kan voel om skool by te woon.”
Dokka voeg by dat dit altyd ’n spesiale ervaring is om besoek by PACT af te lê.
“Hulle laat ’n mens besef dat bemagtiging en samewerking ’n groot verskil vir die jeug kan maak, en ook dat daar so ’n groot behoefte aan hierdie tipe sentrums is.
“Ouers wil graag hul kinders help, maar weet nie altyd hoe nie. Tydens die sessies is hulle met basiese tegnieke toegerus, wat ’n groot verskil in verhoudings en hul kinders se leesvaardighede kan maak. Die ouers was baie dankbaar en besef nou die waarde van kommunikasie en hoe belangrik dit is om aandag te gee wanneer hul kinders leeshuiswerk doen. Hulle verstaan ook nou hoe noodsaaklik ouerbetrokkenheid by alle huiswerk is,” vertel Dokka.
Euria eggo hierdie sentimente: “Dit was van onskatbare waarde om te sien hoe die kinders die aktiwiteite en leessessie geniet het. Die ‘aha’-oomblikke wat ouers en versorgers ervaar het, het ’n diep gevoel van dankbaarheid geskep – dankbaarheid dat ons die geleentheid gehad het om die gemeenskap op so ’n betekenisvolle manier te verryk.
“Die kinders is blootgestel aan nuwe vaardighede, aangemoedig om hul verbeelding te ontwikkel, en geïnspireer deur ’n liefde vir lees wat iets besonders in hulle wakker gemaak het. Hierdie blootstelling het nie net hul belangstelling in boeke aangewakker nie, maar ook hul selfvertroue versterk,” sluit sy af.
Die naweek se kultuurprogram het gewys dat diversiteit koning kraai in die Karoo:
- Kinderkonsert: Plaaslike laerskoolkinders se gesigte was prysloos toe musikante Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit), Zanta Hofmeyr (viool), Annien Shaw (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Susan Mouton (tjello) die klassieke klanke van onder meer Mozart, maar ook die polsende ritmes van Mango Groove en Henry Mancini, op hul klassieke instrumente opgetoor het.
- Die Langtafelfees: Die verrigtinge is amptelik met ’n splinternuwe inisiatief geopen – ’n indrukwekkende tafel van 66 meter, aangebied deur die Swartberg Hotel, waar 188 gaste saamgekuier het.
- Tydens Afrikaans my hart het gewilde Afrikaanse liedjies nuwe betekenis gekry, met Johan Rademan van RSG as seremoniemeester.
- Plattelandse geur: Saterdagoggend het die dorp gelewe met ’n plaaslike markie vol jaffels, pannekoek en moerkoffie, terwyl ’n Marimba-orkes en die energieke rieldansers, die Prins Albert Vastrappers, die strate warm gedans het.
Die absolute hoogtepunt van die naweek was die ATKV-Galakonsert, Opera Gunstelinge, wat Saterdagaand in die plaaslike NG Kerk gehou is. Die internasionale bariton William Berger het as seremoniemeester opgetree en met sy skerp kwinkslae vermaak.
Berger het saam met die gevierde sopraan Magdalene Minnaar (artistieke direkteur van Kaapstad Opera) en die fees se twee opkomende gaskunstenaars, Chloë van Loggerenberg (sopraan) en Ryan Hurst (liriese bariton), die gehoor met wêreldklas-duette en -solo’s betower.
Die fees is Sondagoggend ná ’n erediens afgesluit met die emosionele Koffiekonsert in The Showroom-teater. Dié konsert deur die Take Four Piano Quartet is opgedra aan wyle Rudolf Gouws, die voormalige voorsitter van die Woordfees se adviesraad en ’n geliefde kuns- en musiekliefhebber.
Die derde Gamka Klassiekfees het onteenseglik bewys dat ten spyte van die uitdagings van die natuur, samewerking, gemeenskapsbemagtiging en die skoonheid van musiek die dryfkrag bly wat gemeenskappe saamsnoer en verryk.