Gatvol? Zastron-tak maak nou gate vol

In Zastron is die slaggate só groot, jy kan daarin swem … Maak dus nie saak hoe oud óf hoe luuks jou kar is nie, jou bande gaan aan die kortste end trek.
Die ATKV-tak Zastron het besluit hulle is gatvol vir die stukkende paaie en nou maak hulle self ’n gat (of in die geval gate) vol.
“Ons het by die ATKV se Kultuurkuier by ATKV-Klein Kariba na Schalk van Heerden van Betereinders se inspirerende praatjie geluister oor hul Gatvol Mix om slaggate te herstel en net daar besluit om ook so ’n verskil in ons dorp te maak,” vertel Incke van Wyk, sekretaresse van die tak.
ATKV-hoofkantoor was só beïndruk met hul entoesiasme dat hy die eerste tien sakkies van die slaggatmengsel geborg het wat die tak by Betereinders aangekoop het.
“Ons het by nog borge gaan aanklop en spog nou al met 33 sakkies.
“Dit is tyd dat ons as ’n gemeenskap saamstaan. Ons vra R120 vir ’n sakkie en dis vir seker baie goedkoper as ’n nuwe band.”
Omdat Zastron ’n arm gemeenskap is, is dit volgens Incke nie altyd so maklik om die gemeenskap te kry om deel te neem nie. “Maar met dié projek kan ’n klomp mense saam een sakkie borg. Elke R5, R10 of R20 kan ’n verskil maak as ons dit saamsit.
“Op die oog af is dit iets klein – iemand maak ’n gat vol – maar die impak is groot. Dit gaan ’n wonderlike manier wees vir die dorp om hande te vat en om ook die gemoedere van die mense ’n bietjie te lig.”
Volgens Incke kan hulle as ’n gemeenskap saamwerk as daar by die regering nie noodwendig ’n wil of ’n weg is nie. “Ons hoef nie vir ander te wag nie en op die koop toe verhoog ons ook die sigbaarheid van die ATKV.”
Mense wat ’n sakkie borg, kan self besluit of hulle iemand wil kry om die gat op te vul en of hulle self ’n handjie wil bysit.
“Ons het reeds met die munisipaliteit gesels en hulle is baie gewillig om ons te help. Hulle het dalk nie noodwendig die geld nie, maar hulle het die mannekrag. Selfs die taxibestuurders is uitgenooi om deel te neem.” Die tak het ook hande gevat met die Quest-vulstasie op die dorp.
“Ons wil begin met die ingangsroete na die dorp. ’n Mens kan netsowel die hele teerpad oplig en dit ’n grondpad maak, so vol gate is dit. Die pad is onbegaanbaar en mense ry aan die kant daarvan.”
Die projek is ook volhoubaar, omdat daar so baie gate in die dorp en omgewing is, vertel Incke laggend.
“As ons hierdie eerste fase van die projek voltooi het, keer niks ons om weer sakkies aan te koop en die gate op te vul nie.”
As jy die ATKV-tak Zastron se Gatvol-projek wil ondersteun, kontak vir Incke by 076 066 4219.