Skip to main content

Zara van der Westhuizen het die mentorbeoordelaars van 2021 se ATKV-DigiToneelkompetisie veral beïndruk met haar natuurlike spel in haar monoloog Kop. Sy het daarmee die derde plek verower in hierdie kompetisie. Zara verklap dat sy ’n televisieslaaf is wat graag misdaad- en spanningsreekse kyk, maar ook dol is oor periodedramas.

Zara wat vanjaar aan die Hoër Meisieskool Bloemhof voltooi het, was die hoofmeisie van haar koshuis en het haar in haar matriekjaar veral toegespits op haar leierskapspligte en die akademie, maar haar liefde vir toneelspeel en drama het natuurlik nie agtergebly nie.

Zara vertel dat sy grootgeword het op Bredasdorp en kleintyd al ballet gedoen het en aan Eisteddfods deelgeneem het. Vanaf Graad 8  het sy by Hoër Meisieskool Bloemhof skoolgegaan. Haar ouers woon die afgelope paar jaar in Hermanus. Sy het ’n jonger broer Luca met wie sy besonder goed oor die weg kom en wat haar liefde vir drama deel. Tans is sy baie opgewonde oor die vooruitsig om volgende jaar ’n BA Drama-graad aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer.

“’n Paar jaar gelede het ek nog gedink ek sal myself as sielkundige of dermatoloog bekwaam omdat dit dalk finansieel ’n meer standvastige toekoms vir my sou bied, maar in my Graad 9-jaar het ons Van Stof tot Stilte saam met Dr. André Gerber gedoen. Ons het die hele stuk in ’n werkswinkel beplan en daaruit het die dialoog gevloei. Ek kon letterlik nie wag vir die volgende dag wat ons weer daarmee sou besig wees nie. Die hele ervaring het my so gelukkig en opgewonde gemaak, ek het besef dis hoe ek oor die res van my lewe wil voel. Daar was dus nie vir my ‘n ander opsie as drama vir ’n loopbaankeuse nie,” sê Zara.

Al is sy ’n spontane ekstrovert, lap sy uit dat mense haar soms kan moeg maak, en dat sy glo diere verstaan haar veel beter as wat mense haar verstaan. Sy is ook ’n dromer wat gereeld dagdroom juis omdat die werklikheid soms bloot te vervelig is. Haar koshuisjare het ’n uitstekende grondslag vir haar persoonlike ontwikkeling gelê aangesien sy haarself met wonderlike mense omring het. Naas haar familie is haar vriende besonder belangrik vir haar.

Oor een ding is Zara besonder bly: dat haar ouers bankvas agter haar staan. “Hulle sal alles in hulle vermoë doen om my drome te laat waar word. Hulle was by elkeen van my Eisteddfods en optredes en hulle ondersteuning beteken vir my ongelooflik baie. Dis ook juis my ouers wat in Graad 9 daarop aangedring het dat ek Tienertoneel doen by die skool. Dit was die jaar van Van Stof tot Stilte en dit het my hele lewensverloop verander.”

Zara is iemand wat baie van orde en struktuur hou, maar wanneer daar iets oor haar pad kom wat haar op ‘n manier uitdaag, is dit soms vreeslik lekker. Juis omdat dit haar roetine verbreek en sy nie weet wat die uitkoms gaan wees nie. Wanneer ’n klomp vriendinne impromptu besluit om vir ’n naweek weg te breek Kleinmond of Hermanus toe, klop haar hart altyd vinniger. Dieselfde ervaring het sy met die ATKV-DigiToneelkompetisie beleef. Sy het aan die begin van die jaar, toe sy haar monoloog ingeskryf het, glad nie geweet wat om te verwag nie, en uiteindelik het die uitslag haar uitgeboul.

“Om met die derde prys en ’n kontantbedrag van R2000 weg te stap, is wonderlik en was ’n groot kompliment. Dit het aan my soveel selfvertroue gegee en laat besef dat dit wat ek met my lewe wil doen, is haalbaar. Hierdie is geen dagdroom nie en daar is potensiaal om te gaan doen wat ek wil. Ek is ook besonder dankbaar dat die monoloog wat ek spesiaal vir die kompetisie geskryf het, ingesluit is in ’n digitale bundel van die ATKV,” sê sy. 

Zara droom groot en maak geen geheim daarvan dat sy hoop om eendag ’n Oscar te wen nie. Die oomblik wat sy daar met die trofee in die hand staan, sê sy, sal sy weet dat sy dit gemaak het, en dat sy trots kan wees op hoe ver sy gekom het. Sy het geweldige bewondering vir twee akteurs: Emma Stone en Joaquin Phoenix. Albei hierdie akteurs weet voorwaar hoe om met hulle gesigspel en lyftaal baie van die innerlike konflik en innerlike landskap van die karakter oor te dra, sê sy. Sy hoop om eendag self so te kan speel voor die kameras.

“Afgesien van my droom om eendag die Oscar te wen, wil ek baie graag oorsee ook my merk maak as akteur,” sê Zara. “Ek droom van ‘n internasionale loopbaan omdat ek iemand is wat glo dat jou drome jou bang moet maak. Indien dit nie doen nie, droom jy nie groot genoeg nie. Jy weet mos: The sky is the limit!”