‘Gekies vir die kollig’ seisoen 6 is hier!
Die sesde seisoen van Gekies vir die Kollig skop op Dinsdag 6 Oktober om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) af, en vanjaar kry agt jong stemme die geleentheid om hul stories voor die kamera te laat asemhaal.
Met “asem” as die kreatiewe tema neem die nuwe seisoen kykers vir vier weke op ’n reis saam met die top 8-finaliste van ATKV-DigiToneel 2026. Die agt finaliste is uit honderde inskrywings gekies en word elk aan een van vier ervare mentors gekoppel wat saam met hulle aan spel, kamerategniek, karakter en storie werk.
Die nuwe seisoen word aangebied deur Minke Marais en Xander Venter, wat kykers vanuit Rosemary Hill Farm in Pretoria-Oos deur die vier episodes neem. Hulle ontmoet die finaliste, volg die mentorsessies en beleef saam die oomblik wanneer elke jong kunstenaar se werk van teks en repetisie na ’n finale vertolking voor die kamera beweeg.
Gekies vir die Kollig gaan oor veel meer as net wie uiteindelik wen. Dit gaan oor groei. Oor die oomblik voordat ’n jong kunstenaar waag. Oor die stilte voordat emosie deurbreek. Oor wat gebeur wanneer iemand genoeg vertroue kry om hul eie stem te vind en hul storie te vertel.
Die vier mentors wat vanjaar hierdie reis saam met die finaliste aanpak is Karli Heine, Bianca Flanders, Jacques Bessenger en Liezl de Kock. Elkeen bring ’n eie benadering en ervaring na die proses – van verhoog- en kameraspel tot skryfwerk, regie, karakterontwikkeling en storievertelling.
In die eerste episode, wat op 6 Oktober om 20:30 uitgesaai word, val die kollig op mentor Karli Heine en haar twee finaliste, Vian van Breda en Markus Knop.
Karli, ’n aktrise met ervaring op verhoog, televisie en die silwerdoek, werk met twee jong kunstenaars wie se stories en speelstyle hemelsbreed verskil, maar wat dieselfde doelwit deel: om hul werk eerlik en geloofwaardig voor die kamera te laat leef.
Vian bring Side Swipe, ’n monoloog propvol ongemak, humor en die soort oomblikke tydens ’n eerste afspraak wat jou laat wens die aarde wil jou insluk. Maar komedie wat moeiteloos lyk, verg fyn spel. Karli werk saam met hom om die balans tussen humor en waarheid te vind voordat sy storie voor die kamera moet asemhaal.
Daarteenoor neem Markus kykers met Waak na ’n veel stiller ruimte. Dit is ’n verhaal van verlies, herinneringe en die dinge wat ons wens ons kon terugneem – ’n storie wat nie hard hoef te praat om hard te tref nie. In sy mentorsessie lê die uitdaging juis daarin om minder te doen en elke woord, stilte en emosionele oomblik die ruimte te gee wat dit nodig het.
Die twee vertolkings word ook deur beoordelaars Hannah Borthwick en Wilhelm van der Walt onder die loep geneem.
Soos die seisoen ontvou, ontmoet kykers al agt finaliste en vier mentors. Die stories beweeg tussen humor en hartseer, verlies en hoop, identiteit, druk, verwagtinge en die dinge wat jongmense soms sukkel om hardop te sê.
Dit is juis hierdie verskeidenheid wat die hart van die sesde seisoen vorm: agt unieke stemme, maar agt jong kunstenaars met dieselfde moed om hul stories te vertel.
En wanneer die kameras uiteindelik afskakel, hou die stories nie noodwendig op asemhaal nie. Die seisoen vier nie net jong akteurstalent nie, maar ook nuwe skryfwerk en die vermoë van ’n enkele storie om lank nadat dit vertel is, by ’n gehoor te bly.
Wie gaan uiteindelik gekies word vir die kollig?
Haal asem – die reis begin nou.
Kyk Gekies vir die Kollig se sesde seisoen vanaf Dinsdag 6 Oktober om 20:30 op VIA, DStv-kanaal 147.