George-langtafel vier Afrikaans

Hoe proe jou Afrikaans? Die ATKV-tak Sommer Net Ons en Afrikaans Amptelik 100 nooi ondernemings, skole en organisasies uit om op 1 Augustus 2025 hul gunstelingkos ten toon te stel ter viering van Afrikaans se uiteenlopende koserfenis.
“Die publiek sal letterlik én figuurlik aan George se ryk verskeidenheid ‘proe’ in ’n langtafel-ervaring wat kos, taal, musiek en stories verweef,” sê Beverley McKelly, voorsitter van die ATKV-tak Sommer Net Ons.
McKelly sê die Proe-proe deur George-langtafel beloof om ’n ryk sintuiglike belewenis te wees, wat begrip en kulturele uitruiling tussen diverse groepe binne die Afrikaanse taalgemeenskap bevorder. “Dit is ’n viering van Afrikaans as taal van insluiting, uitdrukking en verbondenheid.”
René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, sê Proe-proe deur George-langtafel wys dat die mense in George en die Suid-Kaap se harte warm klop in Afrikaans.
“Dit is vir Afrikaans Amptelik 100 ’n groot voorreg om in Afrikaans se eeufeesjaar deel te wees van hierdie wonderlike inisiatief en viering. Die projek getuig dat Afrikaans aan almal behoort wat dit praat. Ons wil die verskillende tongvalle binne ons taal laat blom, want Afrikaans is tereg die som van al sy variëteite.”
Die Proe-proe deur George-langtafel vind op Vrydag 1 Augustus om 19:00 by die George-vervoermuseum plaas.
Tafels van tien mense elk is beskikbaar teen R350 per tafel. Die gasheeronderneming is verantwoordelik vir die uitnodiging van gaste, die voorbereiding en opdiening van die ete wat ’n streek, styl of tradisie verteenwoordig, asook die versiering van die tafel volgens die gekose tema. Elke tafel sal vir kreatiwiteit beoordeel word en daar is heerlike pryse op die spel.
Die aand sluit musiek, poësie en storievertelling deur plaaslike kunstenaars in.
Die Proe-proe deur George-langtafel vorm deel van ’n vier dae lange gemeenskapsprojek, Proe-proe deur George, waartydens Afrikaans op verskillende kreatiewe maniere uitgebou word.
Op Woensdag 30 Julie word ’n werkswinkel vir leesfasiliteerders om 10:00 in die konferensiesaal van die George-burgersentrum gehou.
Petronel Baard tree Woensdag 30 Julie om 18:30 by Attic Atelier by die Benz in Markstraat op tydens ’n gesellige aand van musiek, dans en visuele kuns. Bernedette Botha sal uit haar debuutbundel by die huis voorlees.
Tydens VVA-Ommietafelgesprek, wat Donderdag 31 Julie om 18:30 ook by Attic Atelier plaasvind, kom die onderwerp “Hoekom ’n musiekloopbaan in Afrikaans?” onder die loep in ’n paneelbespreking onder leiding van McKelly en Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van Vriende van Afrikaans (VVA).
Op Saterdag 2 Augustus word ’n leesmarathon, Kô lat ons lees, by Pacaltsdorp Primêre Skool gehou ter bevordering van lees, geletterdheid en moedertaalonderrig.
’n Feesmark vind Saterdag 2 Augustus vanaf 10:00 tot 18:00 by die George-vervoermuseum plaas met kosstalletjies, opvoedkundige gesprekke en vermaak.
Kontak gerus vir Beverley McKelly per e-pos by sommernetons@atkv.org of telefonies by 071 604 2007 om by Proe-proe deur George betrokke te raak of om ’n tafel vir Proe-proe deur George-langtafel te bespreek.
Bespreek ’n stalletjie by die Feesmark by Herman Pienaar van Love George telefonies by 064 881 8392 of stuur ’n WhatsApp na 082 829 6428.
Proe-proe deur George is ’n inisiatief van die ATKV-tak Sommer Net Ons in samewerking met die ATKV, Afrikaans Amptelik 100, VVA, die George-munisipaliteit, Love George, die Wes-Kaapse onderwysdepartement en die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON).
Klik gerus hier indien jy by die Proe-proe deur George-langtafel-dinee betrokke wil word.