Skip to main content

'Grondwethofuitspraak is ’n wen vir moedertaalonderrig'

Die Grondwethof se uitspraak oor Engelse onderrig in Afrikaanse skole is “nie net ’n oorwinning vir Afrikaans nie, maar vir alle tale en moedertaalonderrig in sy geheel”.

Só sê Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, nadat dié hof Donderdag die Gautengse departement van onderwys se verlof tot appèl met koste van die hand gewys het.

Die uitspraak bepaal dus dat indien daar naburige Engelse skole is wat die kapasiteit het om leerders in te neem, kan Afrikaanse skole kan nie gedwing word om Engels as onderrigtaal te gebruik nie.

Die Gautengse hooggeregshof het in Januarie beslis dat die Hoërskool Overvaal nie 55 Engelse leerders hoef te aanvaar nie, aangesien twee nabygeleë skole oorgenoeg plek het vir dié leerders. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het hom toe tot die Grondwethof gewend.

Karien sê deur jou kind na ’n skool te stuur waar hulle opvoeding voortgesit word in hul moedertaal, word die grondslag vir beter kognitiewe en sosiale ontwikkeling gelê. Moedertaalonderrig bevorder ook geletterdheid en help om fundamentele vaardighede soos kritiese denke vas te lê.

“Moedertaalonderrig vanaf die grondslagfase lei tot verbeterde taalvaardigheid in ’n tweede taal. Moedertaalonderrig kan jou kind dus help om makliker ander tale, soos Engels, aan te leer. Om te verseker dat kinders vaardig raak, nie net in tale nie, maar op alle vakgebiede, moet hulle geleer word in ’n taal wat hulle verstaan, ’n taal waarin hulle tuis voel  ̶  hul moedertaal,” sê sy.

“Die voordele van moedertaalonderrig strek egter verder as net kognitiewe ontwikkeling, akademiese prestasie, kreatiwiteit en selfvertroue. Kyk ons na die groter geheel, word ons erfenis en kultuur deur moedertaalonderrig bewaar terwyl dit ook meertaligheid in ons gemeenskappe bevorder.” 

In ’n studie oor moedertaalonderrig wat deur Somnath Mukherjee aan die Utkal-universiteit in Indië onderneem is, word die verband tussen moedertaalonderrig en meertaligheid getrek: Kinders leer gewoon beter in hul moedertaal en dit dien as ’n inleiding en aanvulling tot meertalige onderwysbenaderings. Deur moedertaalonderrig kan kinders makliker meer tale aanleer en sodoende meertaligheid in ons land bevorder.

Die ATKV se moedertaalonderrigprojek is gerig op die ouers van voorskoolse en skoolgaande kinders. In hierdie projek word die belangrikheid van moedertaalonderrig beklemtoon met die doel om ouers te motiveer om hul kinders na skole te stuur waar hulle in hul moedertaal gehalte onderrig kan ontvang.

Vir meer inligting hieroor kontak gerus vir Karien by 011 919 9136 of karienb@atkv.org.za.