‘GVDK’: Karookind se Kaapse span gereed!
Die finale episode van die simbiotiese seisoen van Gekies vir die Kollig word vanaand uitgesaai. Die Karookind Marlo Minnaar se span uit die Kaap sluit vanjaar se reeks af voordat ons uitvind wie vanjaar wegstap met die titel van ATKV-DigiToneelwenner en ’n kontantprys van R7 000.
Die Thaba Eco-hotel in Johannesburg, wat die tuiste van die vierde seisoen was, rol vir oulaas die tapyt uit. Aanbieder Solomon Cupido wys dat hy ook ’n langbroek op stel kan dra as hy met sy laaste spoggerige simbiose-uitrusting vir die seisoen spog.
Dit is Marlo Minnaar se eerste jaar op die stel van Gekies vir die Kollig, maar hy is geen onbekende op die professionele verhoog of filmstelle nie. Marlo deel vanjaar sy wysheid en ervaring uit ’n kalm Karoo met sy finaliste Nina Strydom en Darren Cloete.
Marlo glo in Nina Strydom en beskryf haar as ’n sterk en slim aktrise. Hy kan sien sy ken die kamera en haar teks. Hy gee haar waardevolle raad deurdat sy haar stil oomblikke moet gebruik en dat hy juis wil sien wat haar karakter sê wanneer sy nie praat nie. Hy maak ook slim voorstelle rakende die boom in die monoloog wat eintlik ’n karakter op sigself vertolk.
Marlo ken vir Darren Cloete goed op die Tienertoneelverhoog en is opgewonde vir hierdie jong akteur wat nou ook sy hand waag aan spel vir kamera. Die uitdaging is egter groot om sy spel aan te pas van die verhoog na die kamera, maar Marlo gee slim wenke om die uitdagings te oorbrug. Marlo het ook lekker gewerk met Darren oor sy tydsberekening en tempo sodat die storievertelling nog meer geloofwaardig vertolk word. Darren probeer self alle aspekte van filmmaak en kry ook raad van Marlo oor die kleurgradering in sy redigeringsproses. Hy beklemtoon aan Darren dat dit nie te donker moet wees nie en dat beligting ’n film kan maak of breek.
Sal Marlo Minnaar se span die beoordelaars kan beïndruk om die trofee in die Kaap te hou? Vind vanaand uit!
Nina Strydom (17) is ’n graad 11-leerling in die Hoërskool Parel Vallei. Haar monoloog, Tree hugger, is geskryf deur Lindie Strydom.
Lees die monoloog hier.
Nina gesels oor haar dag op stel en sê behalwe vir die groot bederf en soveel verrassings regdeur die dag, van ’n wildrit en piekniek in die bos tot ’n spabederf, is dit hoe professioneel die span mense wat almal betrokke was, voor of agter die skerms, hulle as finaliste hanteer het. “Almal het soveel respek en waardering vir elkeen se bydrae, jy kry regtig die gevoel van ons almal werk saam aan hierdie produksie en hulle sien jou as ’n gelyke.”
Nina is senuweeagtig vir haar episode vanaand omdat sy altyd voel daar was iets wat sy dalk anders kon doen, maar dan is dit te laat. Sy is egter baie trots op haar produk en wil hê dat die kyker wat al so iets beleef het, sal voel hulle kan resoneer met die storie en hoe sy dit vertolk het. Sy voeg by: “Dalk bring dit selfs vir iemand, soos vir my karakter, finaal ’n deurbraak om te kan aanbeweeg ... En as iemand nog nie self deur so iets is nie, hoop ek dat dit vir hulle dit empatie sal gee sodat ons mekaar bietjie beter kan verstaan ...”
Ons het met Nina gesels oor wat sy anders sou wou doen as sy weer die geleentheid gehad het en watter uitdagings sy in haar filmmaakproses beleef het. Nina vertel:
“Ons het hierdie jaar ander lesse geleer as wat ons gedink het ons sou. Soos die risiko om buite te skiet in die Kaap (in ’n jaar met die meeste reën ooit!). Middagson is nie dieselfde as oggendson nie en jy het ongelukkig nie die luuksheid om te wag vir die beste lig op ’n dag wat dit nie reën nie … maar só het ons juis ’n ander kant van die blink filmmaakproses gesien waarvan ’n mens nie altyd besef nie.”
Nina lag en verklap dat sy daarom eerder binne sal wil skiet waar alles van die lig tot honde wat blaf, Checkers-aflewerings en voëls wat klink of hulle hoogtevrees het, kan beheer.
Hierdie begeesterde filmmaker hoop dat daar iewers ’n jong dogtertjie is wat geïnspireerd sal voel om ook te probeer en wat inspirasie sal vind om ook te skryf en hulle storie te speel!
Dit is die derde keer dat Nina deelneem aan ATKV-DigiToneel en sy is nou regtig opgewonde vir die bedryf wat wag en die mense saam met wie sy eendag sal kan werk.
“Ek het nog nie spel vir die kamera op ’n ander platform as ATKV-DigiToneel beleef nie en die klein spel was vir my ’n uitdaging wat ek as akteur geweldig geniet het!”
Nina wil haar verstout om te sê dat dit dalk nou haar gunstelingmedium is om in te speel!
Sy beskryf haar reis saam met die ATKV as ’n geleentheid om weereens haar passie vir drama en stories te kon uitleef.
“Dit is ’n geleentheid en platform wat jy elke keer met altwee hande moet vasgryp en geniet – die ontwikkeling van jou eie vaardighede en werk, maar geniet ook die mense met wie jy dit deel! Ek wil die ervaring van hoe spesiaal mense my laat voel het en hoe hulle my hanteer het met my saamvat om met ander te deel.”
Nina se groot wens en doelwit is om altyd ’n stukkie van die verskillende karakters wat jy oor die jare vertolk het met jou saam te neem, sodat jy meer en meer empatie sal hê vir die mense met wie jy die wêreld deel.
Darren Cloete (18) is die finalis wat die seisoen gaan afsluit met sy selfgeskrewe monoloog Maskers.
Hy is ’n graad 12-leerling in die Hoërskool Jan van Riebeeck en dit is die eerste keer dat hy aan die kompetisie deelneem.
Darren is baie opgewonde oor vanaand se episode en sien al vir so lank daarna uit. Hy is opgewonde en senuweeagtig oor wat die res van Suid-Afrika se reaksies gaan wees, maar hy is bowenal bly dat hy ’n stukkie van homself met die res van die land kan deel.
In sy profielonderhoud neem hy ons vinnig terug na sy dag op stel en beskryf sy ervaring as vyfster.
“Almal was so gemaklik en verwelkomend en ons is verskriklik bederf. Dit het gevoel asof ek ’n Hollywood-ster is. My heel gunstelingdeel van die bederf was die massering na ons ekorit. Daardie Sinzinani-vrouens het my in ’n ander dimensie in masseer. Ek was op cloud number 9.”
Darren gesels oor wat hy graag wil hê die kyker vanaand uit Maskers moet kry.
“Die samelewing het hierdie manier om jou in te sluk en te vorm in die manier wat hulle jou wil hê en soms is dit moeilik om die gevaar te sien tot dit te laat is en jy jouself verloor het. In ’n tyd soos vandag is dit kardinaal om jouself te bly en nie verlore te raak tussen anders se idees van jou nie. Dit is oukei om met jou mengelmoes van emosies te kom en nie skaam te wees daarvoor nie. Jou bagasie maak jou beeldskoon. Soms dink jy dat jy alleen hierdie gevoelens en vrae dra, maar inteendeel is daar soveel ander wat presies soos jy voel. Ons moet begin praat oor die dinge wat ons pla, die moeilike onderwerpe en die bitter pille. Net só sal ons vrede en genesing vind binne onsself en mekaar.”
Lees sy selfgeskrewe monoloog, Maskers hier.
Darren stap al vier jaar ’n pad met die ATKV en hy vertel trots oor sy reis: “Dit het vir my soveel nuwe wêrelde en geleenthede oopgemaak waarvan ek net kon droom. Ek het begin as ’n onseker, angsbevange akteur in graad 9 wat nie geweet het waarnatoe hierdie toneelpad sou gaan nie, maar ek kan vir seker sê dat ek as akteur en as mens getransformeer het om met selfvertroue en nuwe insigte te kan speel.
Die ATKV het vir my speelvlakke gebied om myself uit te daag en ’n wêreld geskep waar ek net myself kon wees en eksperimenteer met die verskillende kante van myself. Ek sou nie die akteur of mens wees as dit nie vir al die lesse, foute en vryheid was wat ek langs die pad geleer het nie. Die ATKV skep werklik ’n platform om in jouself te belê en dan weer vir ander te inspireer om dieselfde te doen. Ek is ewig dankbaar om my loopbaan saam met die ATKV te kon begin.
Moenie vanaand se finale episode om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) misloop nie. Onthou, die herhaling is op Donderdae om 22:30. Hierdie reeks is ook op DStv Catch Up beskikbaar.