‘GVDK’: Span Bessenger in die bokskryt
Ons is verby die halfpadmerk van die vierde seisoen van die ATKV se gewilde realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, en vanaand is Jacques Bessenger terug in die bokskryt met ’n nuwe span wat hopelik vanjaar se beoordelaars, Cindy Swanepoel en André Lötter, gaan beïndruk.
Die konferensiefasiliteite van die Thaba Eco Hotel in Johannesburg, waar die mentorsessies verfilm word, is luuks en keurig gestileer en die skote van die wild wat gemaklik saamleef op die reservaat gee ’n egte bosveldgevoel, al is elke skoot in die hart van Johannesburg geskiet.
Jacques Bessenger is die mentor van ons volgende span, bestaande uit Marelee Ferreira en Keagan Cooper.
Jacques vertel sonder om te wyfel dat hy nie ’n strategiese mentor is nie en dat hy staatmaak op die talent van sy finaliste. Hy is beïndruk met sy span se uiteenlopende talent, hul kwaliteite en vaardighede, en die feit dat elkeen die proses anders benader. Jacques sê dit is vir hom opwindend.
Hy vertel Marelee se groei as skrywer, speler, kinematograaf en boonop regisseur was inspirerend en dat hy nie kan wag om te sien hoe haar finale opname daar gaan uitsien nie – juis omdat sy die kyker op ’n interessante reis neem met haar monoloog en omdat hy glad nie teruggehou het met sy notas en kommentaar in die mentorsessie op stel nie. Jacques beskryf Marelee se stuk as indrukwekkend en merkwaardig en hy glo in die potensiaal van haar “filmatiese brein”, soos hy dit in een van die sessies beskryf het.
Jacques het ook lekker kaalvuis ingeklim in Keagan se mentorsessie deur met hom te gesels oor die intensie van die stuk, die verhouding tussen die karakter en sy pa, spraakritmes en variasie in woede. Jacques voel egter dat die kamerabeweging en atmosfeer van die produksie mooi is en dat Keagan baie eerlik en geloofwaardig die karakter vertolk, wat hom ’n voorsprong gee in die strawwe finaal.
Marelee Ferreira (18) is ’n graad 12-leerling in die Curro Windhoek Gymnasium. Haar monoloog, In my kop, het sy self geskryf.
Lees die monoloog hier.
Marelee gesels oor Jacques as mentor en getuig dat sy meer geleer het as net hoe om haar eie stuk te verbeter. “Dit was raad en lewenslesse wat my sal help om die gaping tussen hoërskool en professionele stelle in die bedryf te oorbrug.”
Dit was die eerste keer dat Marelee saam met ander kreatiewe mense na haar werk op ’n groot skerm gekyk het. Sy voel daardie samewerking, ondersteuning en advies is vir haar kosbaar en dat sy daar werklik besef het dat dit nie saak maak op watter vlak sy is nie, sy sal altyd nog kan leer, by ander leer en daar is altyd nog ruimte vir groei en ontwikkeling.
Marelee vertel dat sy opgewonde is oor vanaand se episode ná haar ondervinding op stel. “Ek het geen idee wat om te verwag wanneer ek as kyker gaan sien hoe my werk vertoon nie en natuurlik na myself te kyk uit die oogpunt van ’n realiteitsreeks. Ek is ook opgewonde om my mededeelnemers se werk te sien en ook by hulle te leer,” voeg sy by.
Hierdie dinamiese tiener glo deursettingsvermoë is die enigste werklike weg na sukses. “Afrigters en omstandighede hoef nie ’n struikelblok in jou pad te wees nie. As jy passievol oor iets is en elke geleentheid met albei hande aangryp en die beste daarvan maak, oop is om altyd iets nuut te leer, en deursettingsvermoë het, kan jy bo uitkom, al het jy nie dieselfde geleenthede of blootstelling in jou gemeenskap nie,” vertel sy trots.
Marelee is uit en uit ’n storieverteller en dit is haar droom om stories wat ’n verskil kan maak aan mense te vertel. Sy wil graag in die bedryf ontwikkel en agter die skerms ook ’n plek inneem om stories te vertel.
Vanaand wil sy hê kykers se visie moet verbreed sodat hulle mense wat hulle normaalweg as antagoniste sou beskou, nie op hul baadjie sal takseer nie en, maak nie saak hoe absurd die situasie nie, sal leer om empatie teenoor mense te wys omdat ’n mens nooit regtig iemand se omstandighede ken nie.
Verder hoop Marelee ook dat kykers die nie-realiteitselement sal raaksien en daaraan sal dink dat mens jou eie tronke bou en jou eie vlerke afknip as jy vaskyk in die verlede en bitterheid saamdra.
Keagan Cooper (17) is die sesde ATKV-DigiToneelfinalis en dit is die eerste keer dat hy aan hierdie gewilde kompetisie deelneem. Keagan is ’n graad 11-leerling in die Hoërskool Noordheuwel.
Keagan vertel oor sy dag op stel en onthou net hoe vriendelik almal was om hom gemaklik te laat voel. Dit was ook sy eerste keer op ’n TV-stel, so die ervaring was vir hom ook leersaam en opwindend. Hy lag as hy sy ervaring opsom as ’n simbiotiese belewenis tussen professionele harde werk, vervleg met ’n lekker en unieke ervaring.
Hy sien uit na vanaand se episode en natuurlik om te sien wat al die verskillende spanne na die kryt bring.
Hy wil graag hê dat die kyker ná sy monoloog kan besin oor die krag wat woorde dra en die invloed van ’n geslote of oop verhouding. “Die manier hoe baie tieners regtig voel ná ’n kwetsende argument en die gevoel van vryheid wanneer hulle die geleentheid kry om hul passies te kan nastreef, lê opgesluit in ’n verhouding wat blom of breek.”
Sy ATKV-DigiToneelreis het baie vir Keagan beteken. “Ek waardeer dat ek raakgesien is, al die harde werk wat ingesit word, die erkenning. Dit was baie lekker om deel te kon wees van die reis. Die algehele ervaring het my as mens laat besef as jy glo, jouself geniet en hard werk, sal jy enigiets kan bereik.”
Lees die monoloog, Toneel is tydmors deur Robert Kruger hier.
Moenie vanaand se episode misloop nie!
Gekies vir die Kollig is Maandae-aande om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) met herhalings op Donderdae om 22:30.
Hierdie reeks is ook op DStv Catch Up beskikbaar.