‘GVDK’: Span De Kock wil kollig steel!
Die vierde seisoen van die ATKV se gewilde realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, het verlede Maandag die land aan die praat gehad en vanaand is dit ’n nuwe span wat beoordelaars Cindy Swanepoel en André Lötter moet beïndruk.
Die natuurskoon van die Thaba Eco-hotel in Johannesburg gee ’n simbiotiese gevoel aan die program en die spabederf bly ’n hoogtepunt vir ons finaliste.
Solomon Cupido het die ys gebreek tydens die eerste episode en is nou opgewarm vir die drie episodes wat wag. Sy simbiose-uitrusting in episode 1 het reeds die tonge laat klap. Wat dink jy van sy blou pakkie vir episode 2? Lewer gerus kommentaar op die albums op ons Facebook-blad, waar jy deur al die foto’s kan blaai en sien wat agter die skerms tydens Gekies vir die Kollig se verfilming gebeur.
Liezl de Kock is die mentor van ons volgende span, bestaande uit Marioné Muller en Izaan Kotze.
Liezl is baie opgewonde oor haar span en kan nie uitgepraat raak oor die talent van die jongmense in terme van die gebruik van verskillende kameraskote, kreatiewe tekste en boeiende spel nie. Sy voeg by dat sy ook as mentor baie uit die seisoen kon leer.
Liezl glo dat niemand by Marioné se mooi kinematografie gaan kom nie en prys ook die unieke toon van Marioné se monoloog. Liezl verklap dat Sprokie in suburbia ’n goeie dosis Ierse mitologie het, wat geluk vir haar span gaan bring. Haar gesig helder op as sy Izaan se liefde vir toneelspel waarneem en sê dit is vir haar ’n baie lekker ervaring om na Izaan as akteur te kyk
Marioné Muller (18) is ’n graad 12-leerling in die Hoërskool Hugenote Springs. Haar monoloog, Woorde in die water, is geskryf deur Kobus van der Schyff-Smal.
Lees die monoloog hier.
Marioné vertel oor haar ervaring op stel en sê dat sy vir ewig sal onthou hoe vriendelik en hulpvaardig almal was.
“Niemand kritiseer jou werk as amateur nie, inteendeel, hulle gebruik hul kennis en gee advies om jou produk te verbeter. Hulle laat jou voel of jou werk waardevol is en betekenis het.”
Sy is terselfdertyd opgewonde en senuweeagtig oor vanaand se episode. Sy meen haar stuk is iets heeltemal anders en dit maak haar opgewonde, maar sy verduidelik dat daardie iets anders nie altyd aanklank by almal vind nie en dit maak haar effens op haar senuwees. “Dankbaarheid is die emosie wat vanaand oorvloei. Hierdie is ’n geleentheid wat geen ander platform bied nie.”
Oor wat sy anders sou doen, sou sy die geleentheid kry, sê Marioné dat sy vir seker die monoloog in ’n ander seisoen sou laat afspeel, aangesien die proses behels het dat sy tonele in die water moes oorskiet in die middel van Julie.
Marioné wil graag hê dat kykers vanaand ’n gevoel van berusting uit die episode moet neem. Sy wil hê elke kyker moet besef dat die wêreld se definisie van sukses nie dieselfde hoef te wees as jóú definisie nie.
“Jy, jou werk en jou menswees is genoeg en is suksesvol. Roem is wat jy daarvan maak.”
Marioné vertel wat haar ATKV-DigiToneelreis vir haar beteken het.
“As akteur het die reis my bitter baie laat groei. Dit het aan my vaardighede en kennis gegee wat ek selfs in ATKV-Tienertoneel kon toepas. Dit het my geïnspireer om ’n toekoms in die kunste na te streef.”
As mens voel sy dat hierdie belewenis by haar ’n gevoel van aanvaarding geskep het. “My werk, my talente en my vermoëns was genoeg. Dit het my laat besef dat indien ek iets régtig wil doen, ek dit kán doen!”
Izaan Kotzé (18) is die vierde ATKV-DigiToneelfinalis en is ’n geheime wapen in Liezl de Kock se span. Sy is ’n graad 12-leerling in die Hoërskool Ben Viljoen.
Izaan onthou die vriendelikheid en absolute liefde en passie waarmee elkeen die dag op stel aangepak het.
Sy is superopgewonde oor haar episode vanaand en hoop dat elkeen wat kyk die sprokieseffek sal beleef en dan die regte-lewe-verwondering, wat ons almal partymaal miskyk, sal koester.
Kykers kan ook vanaand ’n boodskap van hoop en magiese realisme verwag wat hulle dalk so ’n bietjie sal laat ontsnap van al die negatiewe en somber momente van die samelewing.
Lees die monoloog, Sprokie in suburbia deur Inamari Schoonraad, hier.
Izaan glimlag en beklemtoon dat hierdie ervaring lag-lag die grootste en mees opwindende geleentheid in haar lewe was. “Ek het eers hierdie jaar my hand aan drama gewaag, so alles is ’n eerste vir my!”
Sy sê hierdie “nuwe” wêreld wat sy op reis saam met die ATKV leer ken het, is een waarvan sy nog meer wil sien en beleef.
Sy vertel trots dat sy ongelooflik baie van haarself geleer het en dat sy nooit besef het hoeveel deursettingsvermoë en toegewydheid sy aan die dag kon lê om ’n stuk lewe te gee nie.
Moenie vanaand se episode misloop nie!
Gekies vir die Kollig is Maandae-aande om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) te sien, met herhalings op Donderdae om 22:30.
Hierdie reeks is ook op DStv Catch Up beskikbaar.