GVK-wenner: Keagan slaag sy oudisie!
Die vyfde seisoen van Gekies vir die Kollig, uitgesaai op VIA (DStv-kanaal 147), het Woensdagaand ’n hoogtepunt bereik toe Keagan Cooper van die Hoërskool Noordheuwel as die ATKV-DigiToneel 2025-wenner aangewys is. Met sy indrukwekkende produksie, Oudi(sies), stap Keagan met ’n kontantprys van R10 000 én die gesogte ATKV-DigiToneeltrofee weg.
’n Magnetiese seisoen
Onder die tema “magneties” het hierdie seisoen van ATKV-DigiToneel en Gekies vir die Kollig weereens die kreatiewe krag van jong stories opnuut bevestig. Uit honderde inskrywings is net agt finaliste gekies om deel van ’n intensiewe kreatiewe proses te word waar mentorskap, tegniek, verbeelding en deursettingsvermoë hand aan hand loop.
Agt produksies het oor vier episodes afgespeel, elk met ’n toegewyde mentor – Jacques Bessenger, Marlo Minnaar, Hannah Borthwick en Lindsey Abrahams. Hierdie jaar het ook ’n unieke vyfde episode ingesluit, waar ’n verrassende smaakmakeruitdaging 15% van die finale punt bepaal het. Dit het kreatiwiteit op ’n nuwe manier laat vibreer.
Toppresteerders van 2025
Die derdeplekwenner, wat met R5 000 kontant wegstap: Janru Steenkamp
Produksie: ’n Montage vir die man in die maan
Hoërskool Durbanville
Janru het die beoordelaars betower met sy vermoë om elke toneelsnit as ’n storie op sigself te laat funksioneer. Sy produksie kombineer skerp spel met visuele kreatiwiteit wat kykers by die wêreld van sy karakters intrek en hulle by elke draai verras.
“Jy kry ervaring van al die kante van rolprentvervaardiging,” sê Janru. “Die hoeveelheid storievertelling in elke skoot – dit is iets om oor na te dink.”
Die naaswenner, wat met R7 500 wegstap: Liné Allen
Produksie: ’n Lem sonder ’n landlyn
Hoërskool Noordheuwel
Liné het sagtheid en emosionele diepte na die stel gebring met ’n monoloog wat kykers op ’n reis van introspeksie neem. Haar vermoë om kritiek aan te neem en dit kreatief te gebruik het haar werk laat groei tot iets wat sowel eerlik as indrukwekkend is.
“Kritiek help jou groei,” vertel sy. “Waag net en glo – die uitkoms kan só mooi wees.” Haar produksie herinner ons dat moed en selfvertroue dikwels die sleutel tot kuns is wat regtig resonansie skep.
Die wenner: Keagan Cooper
Keagan, wat vanjaar vir die tweede keer aan die kompetisie deelgeneem het, het met sy eerlike, rou en tegnies skerp monoloog die beoordelaars se aandag vasgenael. Sy werk toon ’n fyn begrip van spel, kamera en storievertelling – alles elemente wat ATKV-DigiToneel vier.
“Harde werk klop talent,” vertel Keagan. “Dit is ongelooflik om te sien hoe die ATKV vir ons geleenthede skep om te groei. As jy tyd en moeite insit om iets besonders te skep, kan daar iets goed uit kom.”
Hy is verder ook aangewys as die wenner van die magnetiese smaakmaker-uitdaging, wat hom die geleentheid gee om saam met die ATKV ’n kreatiewe veldtog te ontwikkel.
Kyk hier na die terugflitse van die seisoen en die aankondiging van ons wenners:
ATKV-DigiToneel-monoloogbundel steeds deel van groeiende tradisie
Die sesde ATKV-DigiToneel-monoloogbundel is bekendgestel. Die bundel is gratis beskikbaar op die ATKV se webwerf by www.atkv.org.za en bevat die toptekste wat vanjaar goud of cum laude behaal het.
Die monoloë bied vars, magnetiese stemme – elkeen ’n bewys dat jong storievertellers die toekoms van Suid-Afrikaanse teater en film lewendig hou.
Gaan lees. Gaan deel. Gaan voel.