‘Hak-kel-land’: Leespret vir kleuters
Toe Incke van Wyk van die ATKV-tak Zastron by haar eie kinders ’n behoefte raaksien om op ’n prettige manier te leer lees, het sy as mamma én onderwyser met ’n blink gedagte vorendag gekom.
Sy het stories op ’n visuele en ouditiewe manier aan haar drie kinders begin vertel – en gou besef dit het werklik ’n invloed op hoe hulle klanke aanleer en begin lees.
“Lees is die boublokke van enige taal en van uiterse belang vir vroeëkinderontwikkeling,” sê Incke.
Twee jaar gelede het sy haar eerste boek, Getalleplaas, gepubliseer. Dié boek help kinders tussen twee en vyf jaar oud om op ’n speelse manier hul eerste wiskundige begrippe vas te lê. Danksy die ATKV is Getalleplaas gedruk en landswyd aan kleuterskole versprei.
Nou verskyn haar tweede boek, Hak-kel-land, wat kinders op ’n opwindende manier klanke leer.
“Dit bevat die eerste klanke wat ’n kind moet leer om hulle te help lees. Dit gee op ’n speelse manier vir hulle blootstelling aan die klanke.”
Maar Hak-kel-land gaan nie net oor klanke nie. Volgens Incke loop daar ook ’n ondertoon van antiboeliegedrag deur die storie.
Die boek handel oor die hakkelende Koning Karel, wat gedurig deur sy maatjies gespot word. Dan besluit die olifant om met sy towerstaf ál die maatjies te laat hakkel. Skielik word almal oor dieselfde kam geskeer en almal word gestraf.
“Dit was vir my belangrik dat kinders op dieselfde tyd ook ’n lewensles moet leer en moet besef jy moenie ander spot wat anders as jy is nie.”
Incke vertel Hak-kel-land is só geskryf dat dit kinders op ’n ouditiewe wyse stimuleer. Soos met Getalleplaas is daar ook baie visuele elemente.
“Kinders onthou die klanke makliker as hulle dit met ’n prentjie assosieer.”
Waar haar eerste boek uit ’n taak gespruit het wat sy as studenteonderwyser moes doen, is Hak-kel-land gegrond op haar eie ervaring as ouer.
“Baie ouers dink skryfwerk is die uitweg om kinders te leer klank, maar dit is nie. ’n Kind moet ouditief leer. Dié boek bevat oulike stories en rympies wat ’n holistiese benadering tot klank bied.”
Hak-kel-land gaan na verwagting teen einde Julie beskikbaar wees. Die ATKV behartig weer die druk en verspreiding van die boek.
Of daar nog boeke in die reeks sal volg, sal Incke laat bepaal deur wat sy by haar eie kinders raaksien.
“Ek beplan nooit ’n storieboek nie. ’n Storieboek vind my. Dis moeilik om te sê, maar miskien in die toekoms. Wie weet?”
Vir navrae of om hierdie boek aan te skaf, kontak gerus vir Incke van Wyk by 076 066 4219.