Hekel saam en maak ’n verskil

Die ATKV-tak Arendsnes se idee vir ’n takprojek – om ’n klompie mense bymekaar te kry om saam te hekel – het soveel momentum gekry dat daar binnekort regoor die land saam gehekel gaan word tydens die tak se 30 ure-hekelsafari. Hierdie unieke hekelmarathon begin op Vrydag, 26 Mei om 12:00 en die hekelpenne word dan 30 ure later neergesit op Saterdag, 27 Mei om 18:00. Die marathon vind in 95 venues regoor die land plaas, maar dit is nie net beperk tot hierdie venues nie. Elkeen kan in die gerief van sy of haar eie huis ook sit en hekel en op hierdie manier help om ’n verskil te maak en mense hierdie winter warm te hou.
Leandra van Wyk van die ATKV-tak Arendsnes sê sy en haar dogter Monique Brink, die voorsitter van hierdie tak, het gesels oor ’n moontlike takprojek waaraan oud en jonk kan deelneem. Sy het hekel as ’n idee genoem en gedink dit kan werk deur ’n klompie mense bymekaar te kry om sommer in haar woonhuis saam te hekel. Daar is van die begin af beplan om met dubbeldraad-wol (double knit) en ’n 4 mm-hekelpen blokkies te hekel van 20 cm by 20 cm. Die voltooide blokkies sal dan versamel word en as komberse aanmekaar gewerk word.
“Afgesien van die vroue wat dan hier in my sitkamer sou hekel, het ons besluit om drie ouetehuise in ons omgewing ook te nader, waar daar in elk geval gereeld saam gehekel word. So is die idee van ’n hekelmarathon gebore. Ons het die idee op WhatsApp-groepe gedeel en toe ontplof dit en voor ons ons kom kry, is daar venues landwyd en nou is dit voorwaar ’n volwaardige hekelsafarimarathon,” sê Leandra.
Sy vertel dat sy self ’n ywerige hekelentoesias is, maar dat Monique aanvanklik haar oë effe gerol het vir haar ma se idee. Terwyl hulle met vakansie was by ATKV-Buffelspoort het sy vir Monique nader getrek en touwys gemaak. Nou kan Monique nie ophou hekel nie en sy het al genoeg blokkies gehekel vir vyf komberse.
“’n Projek soos hierdie word nog meer opwindend gemaak deur die idee dat daar ’n rekord nagejaag gaan word. Ons hoop om ’n Guinness World Records-inskrywing te kry as die meeste mense wat op een slag saam gehekel het oor ’n tydperk van 30 uur. Dis natuurlik nie net die vroulike geslag wat moet saamhekel nie – baie mans is deesdae ook heel vlytig met ’n hekelpen, sê Monique.
Hierdie ATKV-takprojek word in samewerking met Maak ’n Verskil aangebied en dit is dan ook Maak ’n Verskil wat na afloop van die marathon al die blokkies aanmekaar sal werk. Die komberse sal dan versprei word aan mense in nood. Daar sal ook ’n geleentheid wees vir enigeen wat aan die marathon deelneem om voorstelle te maak van waar die komberse gestuur kan word. Die ATKV sal ook help om ’n behoeftebepaling te doen, sodat dit werklik kan gaan na die mense wat dit broodnodig het, verduidelik Leandra.
’n Mens hoef nie self te kan hekel om deel te neem aan hierdie wonderlike projek nie. Daar is ’n groot behoefte aan wol vir die hekelentoesiaste om te gebruik. Kontantskenkings sal ook momentum aan hierdie projek gee, aangesien daar koerierkostes gaan wees om die voltooide blokkies van regoor die land terug te stuur na die ATKV-tak Arendsnes, waar dit dan aan Maak ’n Verskil oorhandig sal word. Skenkings kan inbetaal word in die volgende bankrekening:
Arendsnes Wesrand
FNB-tjekrekening
Rekeningnommer: 630102287571
Takkode: 250655
Leandra vertel dat daar reeds oraloor ywerig gehekel word. Die tydperk van die marathon sal bloot gebruik word om die rekord na te jaag. Enigeen kan dus nou begin om hierdie blokkies, in enige patroon of kleur, te hekel.
Woldonasies en voltooide blokkies kan gestuur word aan Leandra van Wyk, Somersetstraat 4, Florida Park, Roodepoort. Skakel Leandra by 085 451 4548 vir enige navrae oor die naaste lokaal waar daar op 25 en 26 Mei gehekel gaan word.
Hoe sê die spreekwoord nou weer? Vele hande maak ligte werk – so, waarvoor wag jy?
Vir verdere navrae oor skenkings en donasies, kontak gerus vir Magon Mouton, ATKV-streeksbestuur, by 076 098 4765 of magonm@atkv.org.za.