Hier is die witwarm RUK EN RYM-semifinaliste
Taalgenoot-RUK EN RYM word in 2024 vir die tweede keer aangebied en die semifinale rondes van dié musiekkompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, skop eersdaags af.
RUK EN RYM het ten doel om ’n platform vir alternatiewe musikante daar te stel en die byna 80 inskrywings wat vanjaar ontvang is, is sprekend van die behoefte aan só ’n verhoog en geleentheid.
Twintig semifinaliste is uit vanjaar se inskrywings gekies om aan die semifinale rondes van RUK EN RYM 2024 deel te neem. Vanjaar se twee semifinale beloof ’n uiteenlopende program waarin van die mees innoverende musikante in Suid-Afrika te sien sal wees.
Die semifinaliste is:
Semifinaal 1:
- Aya Nixon
- CEAEL
- Die Bom en Die Ster
- Edwin
- Emma B
- Just Mia
- M.A.L
- MC IBEX
- Moeilikheid
- Skelm
Semifinaal 2:
- Ben die Afrikaan
- Die Fak Boiz
- Dierbaar na die Maan
- Floris Voges
- Kobus.
- Katjie
- Liv Die
- Mieke
- princess chris
- The Karriers
Die eerste semifinaal is op 14 September om 15:00 by Railways Café in Centurion, terwyl die tweede semifinaal op 2 Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch gehou word. By laasgenoemde geleentheid is Karen Zoid die gasbeoordelaar en gaskunstenaar, en deur ’n kaartjie vir die semifinaal te koop, het gehoorlede ook toegang tot Karen se vertoning, wat na afloop van die semifinaal en die aankondiging van vanjaar se finaliste plaasvind.
Die keurders vir die eerste ronde van beoordeling was Jaco van der Merwe, ook die kreatiewe regisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar/Die Heuwels Fantasties), Albert “Vuurwolf” van der Merwe (Spoegwolf), Jerome Rex (organiseerder van Expression Session en ATKV-Crescendo-vennoot) en Rosey die Rapper.
Jaco meen die kompetisie gee vir alternatiewe klankskeppers ’n geleentheid wat nêrens anders beskikbaar is nie.
“My twee gunstelingdinge van RUK EN RYM is die ontdekkings van nuwe klanke, en dan ook die gemeenskap wat gevorm word wanneer die kunstenaars mekaar ontdek. Dit is die beste manier om nuwe platforms te bou: mense wat met mekaar connect deur hulle kreatiwiteit. As ek so luister na die 20 semifinaliste se musiek, kan ek nie wag vir die lewendige optredes nie, hierdie is die cutting edge van wat aangaan in Afrikaanse musiek op die oomblik,” sê hy.
Angie Gallagher, assistentregisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, sê die ATKV is verheug om ook op hierdie manier kreatiwiteit in die kunste aan te moedig.
“Taalgenoot-RUK EN RYM is anders as elke ander musiekkompetisie in die land in die sin dat dit ’n werklike geleentheid vir alternatiewe kunstenaars bied. Vanjaar se semifinaliste is dalk tans vir die algemene Afrikaanse luisteraar onbekend, maar hierdie is name wat ons beslis nog in die toekoms gaan hoor. Die semifinale rondes bring ’n groep diverse kunstenaars byeen wat elkeen oorloop van talent en kreatiwiteit en die gehoor kan hulle regmaak vir ’n vertoning wat hulle sal verras en meevoer.”
Noudat die alternatiewemusiekvlam aangesteek is, is dit die 20 semifinaliste se taak om tydens ’n lewendige vertoning hul staal te wys en die vuur verder aan te blaas. Die beoordelaars van die semifinale en die finaal is Jaco van der Merwe en die musikante Paul Riekert en Augusta Zietsman. ’n Gasbeoordelaar sal ook by elke semifinaal en by die finale ronde help om die wenner van RUK EN RYM 2024 te bepaal.
Groot pryse, insluitend kontantpryse, is weer vanjaar op die spel. Die finale ronde van RUK EN RYM 2024 vind op 12 Oktober by Sognage in Randburg plaas. Kaartjies vir hierdie vertoning en vir die semifinale rondes is binnekort beskikbaar – hou asseblief RUK EN RYM se Facebook-, Instagram- en TikTok-blaaie dop vir meer inligting oor hoe om jou kaartjie te kry.