Hoë bome word vereer
Sommige mense groei soos bome met diep wortels en wydgespreide takke, en bied oor die jare skaduwee en inspirasie aan almal wat in hul omgewing is.
Dit is juis sulke mense wat die ATKV vanjaar met sy Prestigetoekennings vereer. Die rolprentregisseur en aktrise Katinka Heyns, die akteur Tobie Cronjé, die skrywer en rolprentghoeroe Leon van Nierop, die sangeres Laurika Rauch en die komponis en liedjieskrywer Christopher Torr, die dramaturg en kunste-administrateur Ismail Mahomed, en die komediant en rolprentmaker Leon Schuster het dié eerbewys op Woensdag 11 November by The Northcliff-boetiekhotel in Johannesburg ontvang.
Die tema van die aand was dan ook heel gepas “bome”.
“Ons vereer diegene wat, soos hoë bome, bo ander uitgestyg het,” vertel Nita Cronjé, die ATKV se koördineerder van feeste en toekennings.
“Elke bekroonde het ook ’n unieke boomkunswerk ontvang, wat die bekende sangeres en kunstenaar Lize Beekman spesiaal vir hulle geskep het. Die ontvangers is mense wat oor ’n leeftyd heen ’n blywende verskil in ons kultuurlandskap gemaak het.”
Die ATKV se hoogste eerbewys
Die ATKV-Prestigetoekenning is dié organisasie se hoogste eerbetoon aan individue wat ’n groot impak in hul spesifieke veld gemaak het. Dit sluit aan by die ATKV se lang geskiedenis van taal- en kultuurbevordering, wat terugdateer tot die organisasie se stigting in 1930.
Die toekennings was in die verlede deel van die ATKV-Mediaveertjies en -Woordveertjietoekennings, maar word sedert 2024 as ’n afsonderlike, jaarlikse geleentheid aangebied.
Die erkenning van ontvangers is ’n deurlopende proses, en hulle hoef nie aan spesifieke standaardkriteria te voldoen nie – hulle moet mense wees wat in hul leeftyd ’n buitengewone impak en verskil in hul veld gemaak het.
Vanjaar se ontvangers sluit aan by ’n lang lys formidabele mense, soos die sakeleier dr. Anton Rupert, die skrywer PG du Plessis, die musikant Nico Carstens, die operasanger Mimi Coertse, die digter prof. TT Cloete, die skrywer Elsa Joubert, die televisienuuslegende Riaan Cruywagen, die digter Antjie Krog, die sanger Amanda Strydom, die akademikus Richard van der Ross, die musikant David Kramer en die digter Diana Ferrus. Prof. Hein Willemse, Magdaleen Kruger, Max du Preez en Philip de Vos is verlede jaar by Die Boekklub in Johannesdal buite Stellenbosch met Prestigetoekennings vereer.
Woorde uit die hart
’n Besonderse deel van die aand is die commendatio – ’n Latynse woord wat op ’n lofbetuiging dui. Dit is ’n persoonlike huldeblyk waarin iemand wat die ontvanger goed ken, sy of haar werk, invloed en nalatenskap belig.
Die mense wat die ontvangers se vereringsboodskappe lewer, is mense wat hulle goed genoeg ken en uit persoonlike ervaring kan praat.
Só word nie net erkenning aan uitsonderlike mense gegee nie, maar word hul bydraes ook vir toekomstige geslagte opgeteken.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dit is vir die ATKV ’n voorreg om die ontvangers met ’n Prestigetoekenning te vereer.
“Hierdie huldiging onderstreep die reusebydrae wat die ontvangers oor baie jare tot die taal- en kultuurlandskap gelewer het. Die skadu wat hierdie groot bome gooi, skep ’n ruimte waarin dié wat ná hulle kom werklik kan floreer,” sê Sonél.
Die ontvangers en hul vereringsboodskappe
Katinka Heyns is ’n bekroonde aktrise, rolprentregisseur en vervaardiger wat as een van die baanbrekers van die Afrikaanse rolprentbedryf beskou word. Sy is veral bekend vir rolprente soos Fiela se kind, Paljas en Die wonderwerker.
Die akteur Tobie Cronjé het haar commendatio gelewer. “Die slimste, inspirerendste, mees uitdagende rolprentregisseur waarmee ek tot nou toe gewerk het, is Katinka Heyns,” sê hy. “Omdat sy ’n aktrise is, verstaan sy die sielkunde van hoe ’n akteur sy of haar rol benader, en kan sy op ’n wonderlik skelm manier die akteur kry om sy of haar beste vir die rol te lewer.”
Tobie Cronjé is op sy beurt ’n geliefde akteur en komediant wat oor meer as vyf dekades in teater, televisie en rolprente naam gemaak het. Katinka Heyns vat hom só saam: “Tobias Cronjé is nie net ’n ikoniese grapjas en ’n nar nie. Hy is ’n towenaar en ’n heler.”
Leon van Nierop is ’n skrywer, rolprentresensent, draaiboekskrywer en omroeper wat onder meer Ballade vir ’n enkeling geskryf het. Hy is ook bekend vir sy romans, radiodramas en jarelange bydrae tot rolprentresensies.
“Leon is my beste vriend, en ná dekades is hy eintlik my ‘boetie’,” sê die radio- en televisiepersoonlikheid Derrich Gardner. “Hy het die grootste hart, hardkoppigste gemoed en talent sonder perke. Skryf is sy kos. Hy griffel met woorde wat sal bly staan soos die skrif teen die muur. Sy woorde loop diep.”
Laurika Rauch en Christopher Torr word as ’n skeppende duo vereer. Laurika is een van die land se mees geliefde Afrikaanse sangers en het met treffers soos “Kinders van die wind” bekendheid verwerf. Christopher is die komponis en liedjieskrywer van van haar bekendste liedjies, soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”.
“Ons moet noodwendig terugval op oorgebruikte etikette soos ‘legendaries’ of ‘ikonies’,” sê die sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers. “Laurika Rauch en Christopher Torr is al hierdie dinge, maar daar is eintlik net een woord wat hul oeuvre as individue en as skeppende duo omskryf: tydloos.”
Ismail Mahomed is ’n bekroonde dramaturg en kultuuradministrateur wat al meer as vier dekades lank ’n belangrike rol in die kunste speel. Hy is die direkteur van die Universiteit van KwaZulu-Natal se Centre for Creative Arts, en was voorheen hoof van die Market Theatre Foundation en artistieke direkteur van die Nasionale Kunstefees.
Die akteur, regisseur en kunste-administrateur Hugo Theart beskryf hom as “vreesloos in sy beskerming van regverdige bestuur en verantwoordbare besteding van fondse tot voordeel van die kunste”, maar met “’n sagte hand in die ontwikkeling en bemagtiging van kunstenaars en jong kunste-administrateurs. Só span hy die kunste in as ’n kragtige instrument vir dialoog, wedersydse begrip, versoening en nasiebou.”
Leon Schuster is ’n komediant, akteur, en rolprentmaker wat veral bekend is vir sy poetsbakkerstreke en gewilde rolprente soos You Must Be Joking! en Oh Schucks... It’s Schuster!
“Leon Schuster is enig in sy soort,” sê die veteraanomroeper Heinrich Marnitz. “Hy het dit reggekry om met sy unieke aanslag alle Suid-Afrikaners saam te laat lag – vir mekaar en vir onsself. Hy is ’n brugbouer en ’n ongeneeslike platjie.”
Vir navrae oor die ATKV-Prestigetoekennings 2026, kontak asseblief vir Mercia Eksteen by MerciaE@atkv.org.za.