Hupstoot vir AbbAsorg danksy Die Kinderfonds
Die ATKV-AbbAsorg het pas ’n wonderlike hupstoot ontvang met ’n skenking ter waarde van R100 000 van Die Kinderfonds (voorheen bekend as Beeld-Kinderfonds).
AbbAsorg, die ATKV se maatskaplike verantwoordelikheidsprogram fokus daarop om ’n veilige omgewing te skep waar kleuters gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang. In ’n land waar armoede dikwels drome versmoor, staan Die Kinderfonds as ’n baken van hoop. In die afgelope finansiële jaar alleen het die fonds sowat R3,2 miljoen uitbetaal aan projekte wat ’n tasbare verskil in jong lewens maak.
Die fonds fokus op kinders uit alle bevolkingsgroepe wat vasgevang is in haglike omstandighede – van mishandeling en verwaarlosing tot hongersnood. Die hulp word spesifiek geoormerk vir ontwikkelingsprojekte wat volhoubare verandering teweegbring, eerder as bloot die dekking van daaglikse bedryfskostes.
Adrie van Staden, uitvoerende beampte van Die Kinderfonds, sê daar is gelukkig verskeie suksesstories om op te noem – van kinders wat uit ’n agtergrond van mishandeling gekom het en só kon herstel dat hulle selfs verder studeer het na skool, tot kleuters wat deur hul befondsing kleuterskool toe kon gaan en goed vorder op skool.
“Die ontwikkelingsgeleentheid wat ATKV-AbbAsorg aan behoeftige kleuters gee, het ons opgeval. Voorskoolse onderrig en vroeë leer is noodsaaklik vir ’n kind se fisieke en kognitiewe ontwikkeling en speel ’n kardinale rol in hulle vermoë om op skool te vorder en matriek te behaal. Dit is vir Die Kinderfonds belangrik dat soveel moontlik kinders vroeë leergeleenthede kry.”
Jerome Steenkamp, nasionale bestuurder van AbbAsorg, beaam dit: “Ons fokus spesifiek op kinders tussen drie en ses jaar wat deur armoede geraak word. In ons sentrums volg ons ’n akademiese program wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is, maar ons werk ook hard aan die kinders se selfbeeld en verhoudings.
“Ongeveer 220 kinders ontvang ten minste twee gebalanseerde etes wat noodsaaklik is vir hul fisieke en kognitiewe groei. Die program betrek ook die ouers deur hulle met nodige vaardighede toe te rus.”
Elsie Helberg, sentrumhoof van ATKV-AbbAsorg se Promosa-sentrum, vertel: “Die Kinderfonds is sedert 2016 ’n vennoot van AbbAsorg-Promosa en vanjaar vier ons tien jaar van samewerking. Oor hierdie tydperk het ons herhaaldelik ondersteuning ontvang, wat ’n wesenlike bydrae tot die volhoubaarheid en kwaliteit van ons dienste gelewer het.
“Vorige skenkings is aangewend vir die aankoop van voedsel, die befondsing van terapeutiese dienste soos arbeidsterapie, asook programme soos rekenaargesteunde onderrig deur Stimulus Maksima en bewegingsontwikkeling deur Monkeynastix. Daarbenewens is fondse gebruik vir die verkryging van opvoedkundige hulpmiddels, insluitend skryfbehoeftes.”
Jerome sê die nuutste skenking sal voortbou op die sukses van ATKV-AbbAsorg. Hy beklemtoon dat arbeidsterapie en musiekterapie as brûe dien om ontwikkelingsagterstande in kwesbare gemeenskappe aan te spreek. Dit bied emosionele veiligheid en bou veerkragtigheid by kinders wat dikwels met beperkte hulpbronne grootword.
Hy sluit af deur die betrokkenheid van die privaatsektor te beklemtoon vir die volhoubaarheid van vroeëkinderontwikkeling.
“Sonder organisasies se betrokkenheid word ongelykhede verdiep en sosiale uitdagings soos armoede, werkloosheid en swak onderwysuitkomste neem toe. Samewerking met korporatiewe vennote het ’n meetbare impak op die verligting van armoede. Deur vandag in ’n kind se opvoeding te belê, skep ons ’n sterker grondslag vir toekomstige indiensneembaarheid en ekonomiese deelname.”
Langtermynvolhoubaarheid van vroeëkinderontwikkelingsentrums is tot ’n groot mate afhanklik van die betrokkenheid van korporatiewe Suid-Afrika. Die privaatsektor beskik oor hulpbronne, kundigheid en netwerke wat noodsaaklik is om projekte te skaal en oor tyd volhoubaar te maak.
Indien jy ’n skenking aan ATKV-AbbAsorg wil maak, stuur ’n e-pos na woekerfonds@atkv.org.za. Kontak gerus vir Jerome Steenkamp by JeromeS@atkv.org.za as jy meer oor hierdie projek te wete wil kom of om betrokke te raak.