‘Idi en Ome’ ontsluit idiomewêreld
Sit skouer aan die wiel en word deel van die ATKV se nuwe veldtog voor dit neusie verby is, want as jy weer sien, is die kalf in die put ...
Die ATKV spog met ’n nuwe idiomeveldtog, Die Wonderlike Wêreld van Idi en Ome, en neem jou vir die volgende paar weke op ’n humoristiese reis deur die ryk taalskat van Afrikaans.
Hou die ATKV se sosialemediaplatforms elke Donderdag vir ’n nuwe video dop en jy kan die ATKV se idiomebordspel, Meer bek as binnegoed, wen deur ’n idioom te identifiseer.
Van waar, Gehasi?
Die veldtog is die geesteskind van die aktrise Cindy Swanepoel en die fotograaf André Badenhorst (wat vir Taalgenoot se indrukwekkende voorblaaie verantwoordelik is). Die aktrise en stemkunstenaar Anél Wood het ’n groot rol in die konseptualisering gespeel en hulle het ook die regisseur Alan Sayers betrek om ’n wenspan te vorm.
“Ek en André Badenhorst het al voorheen saamgewerk en ons het met die ATKV oor ons plan vergader,” vertel Cindy.
“Ons het my vennoot, Anél Wood, betrokke gekry en ek en Anél het die sketse geskryf en die ontwerp gedoen. Ons het vir Alan gevra om deel van die vervaardiging te wees en ons vier was ’n lekker span. Ek en Anél het met die idee van ’n kartonwêreld gespeel en hoewel Alan en André eers daarvan oortuig moes word, het hulle darem gou ingewillig.”
Dit het baie knip en plak geverg om die tonele reg te kry, maar Cindy en Anél het dit baie kreatief en inspirerend gevind om alles vir die video’s te ontwerp en te maak.
“Ons het uiteindelik op ses idiome besluit en die idee was om die idioom self te laat uitstaan. Ons het elke dag twee idiome geskiet en daar was ’n kleur vir elke idioom. Ek het dit vreeslik geniet!
“Ek het ’n agtergrond in poppekas en skaduteater en dit was vir my ’n baie lekker ervaring. Ons wou regtig ’n wow-element aan die video’s gee en grootmense weer soos kinders laat voel,” gesels sy.
Volgens Cindy het hulle besef dat hul video’s ’n mooi kunselement gaan hê, maar hulle wou dit ook prettig en snaaks vir mense maak.
“Ons het daarom besluit om ons vriend, die akteur Botha Enslin, deel van die video’s te maak. Botha is baie snaaks en doen graag klugte en hy bring ’n lekker verrassingselement na die video’s. Waar iets op die video gemanipuleer moet word, het ons vir Botha gebruik,” noem sy.
Cindy meen dat so ’n veldtog van groot waarde is, want ’n mens kan tegelykertyd speel en leer, en kinders én volwassenes kan daaraan deelneem.
“Ek dink dis juis wonderlik dat dit vir grootmense en kinders kan werk, want kinders leer oor idiome en grootmense herontdek weer ou idiome. Ek het sommer self weer nuwe waardering vir idiome en my taal gekry. My verloofde, Craig, is Engels en ek het vir hom ook ’n paar idiome geleer en hy het my weer van sy gunstelinge vertel.
“Ons gebruik elke liewe dag idiome, maar besef dit nie altyd nie. Ek dink idiome is wonderlike skeppings, want dit speel met woorde en speel met ons verbeelding. Ek sou graag sommer al ons idiome deel van die veldtog wou hê, want dit was so lekker om daarmee te speel,” vertel sy.
En haar gunsteling-idioom? “Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie! Want dit skep ’n visuele prentjie ...”
Moenie Die Wonderlike Wêreld van Idi en Ome misloop nie. Die video’s word elke Donderdag op al die ATKV se sosialemediaplatforms gedeel. Jy het dan kans tot die volgende Dinsdag om te raai watter idioom ter sprake is. Maak die hele gesin sommer deel van die pret!
As jy dit nog nie doen nie, volg die ATKV sommer op die daad:
Facebook: https://www.facebook.com/ATKVSA
Instagram: https://www.instagram.com/atkv_sa/
Twitter: https://twitter.com/atkvsa
TikTok: @ATKVSA