Inskrywings oop vir ATKV-Applous-koorkompetisie
Koorlede en koorleiers van alle Suid-Afrikaanse skole moet ’n knoop in die oor maak – Dinsdag, 28 Februarie 2023 is die sperdatum vir inskrywings vir vanjaar se ATKV-Applous-koorkompetisie.
Die meeste mense weet dat musiek ’n universele taal is wat van die vroegste tye af gebruik is om stories te vertel. Die eerste kore en koormusiek waarvoor daar bewyse bestaan, dateer uit twee eeue voor Christus in Griekeland. Die struktuur was Delfiese gesange. Twee eeue ná Christus het Mesomedes koormusiek gekomponeer. ATKV-Applous, die oudste skoolkoorkompetisie in die land, word al vir 46 jaar aangebied. In 2022 het 186 kore ingeskryf en die beoordelaars het 12 542 leerders hoor sing!
As jy voorheen ’n rondte van ATKV-Applous bygewoon het, sal jy weet dat skool- en koorleiers dié landswye kompetisie ernstig opneem – al mag leerders se oorgawe terwyl hulle optree dit na groot pret laat lyk. Om ATKV-Applous ’n oorrompelende sangfees te noem, is nie oordrewe nie.
Wat ATKV-Applous so buitengewoon maak, is dat enige skoolkoor mag inskryf. Of daar nou 10 skoliere netjies staan en saamsing aan ’n gewyde lied en of daar 180 bulletjies is wat dreunskreeu en voete stamp, gaan dit hier oor die emosies wat deur sang gekommunikeer word.
Skoolkoorsang bring talle fasette byeen: spanwerk en dissipline, groepskommunikasie, ’n groeiende kennis van en genot in musiek, en spesiale optredes en toere. Die slyp van koorlede (en koordirigente) verbeter interkulturele kommunikasie en ontwikkel koorsangers se selfvertroue. Die dae toe bebrilde bloukouse die enigste koorlede was, is inderdaad iets van die verlede en die woelige tegno-generasie Z se konsentrasie word goed gefokus. Natuurlik bou ure se dissipline ook die jonges se sosiale vaardighede. Lang dae van oefen, ’n skerp oor vir musiek, en kreatiwiteit in die fisieke uitvoering van die koorsang is belangrike vereistes vir koorleiers wat ’n groep koorsangers moet dirigeer.
Die ATKV vereis in verskeie afdelings die uitvoering van werke deur ’n Suid-Afrikaanse komponis, wat sodoende die repertorium van plaaslike koormusiek vergroot.
Kore wat inskryf kan die hoogste gehalte en ervaring van beoordelaars – dikwels internasionale kenners – verwag. Die streekskompetisies en finaal is ’n smorgasbord van kompetisie, goeie organisasie, uitbundige emosies en perfeksionisme.
Daar is verskillende kategorieë, en of jou skoolkoor nou bloedjonk, piepklein of van net een ouderdom of taal is, of net uit seuns of dogters bestaan, is daar ’n plek vir hulle by ATKV-Applous met die belofte van baie pret en goeie bemarking vir die skool.
Gee jou skool om vir sang – en boonop sang in Afrikaans? Spring dan vinnig om jou skoolkoor nóú vir ATKV-Applous 2023 in te skryf!
Vir navrae, kontak gerus: Bessie Keun: 012 804 5396, Bessie@applous.co.za of Braam de Kock: 011 919 9012, Braamd@atkv.org.za.
Klik hier om meer uit te vind oor ATKV-Applous.