Jazz-towenaar en musikale genie van ATKV-Crescendo
As jy al ooit ’n vertoning van ATKV-Crescendo bygewoon het, het jy waarskynlik al vir William Jacobs agter die klawers gewaar.
Hy is amper soos die kompas vir die deelnemers van dié vlagskipprojek van die ATKV.
“My lewe en passie is musiek. Heeldag en aldag. Ek eet, slaap en droom met musiek,” sê William.
William, ’n voltydse jazz-musikant, is die musikale regisseur en vervaardiger van ATKV-Crescendo en is verantwoordelik vir die musiekbegeleiding van die liedjies wat die finaliste tydens die kompetisie sing.
“Ek mentor en gee raad aan die finaliste. Ons probeer altyd vars en unieke maniere kry om hulle liedjies te verpak en aan te bied.”
William sê musiek was nog altyd deel van sy lewe.
“Sedert ek kan onthou, het daar musiek in ons huis gespeel. My pa was ook ’n musikant en ek het grootgeword met hom wat instrumente speel. Hy het my van ’n jong ouderdom af geleer om klavier te speel.”
William het in 2015 by ATKV-Crescendo aangesluit.
“Ek het ’n groot liefde vir die gemeenskap en vir ontwikkeling in die gemeenskap. ATKV-Crescendo is die ideale platform vir aspirantkunstenaars om hulle talente te ontgin en te slyp. Hulle kry ook die geleentheid om deur gevestigde kunstenaars gementor te word, sodat hulle ’n sukses van hul loopbane kan maak.”
Sedert William by ATKV-Crescendo aangesluit het, het hy kunstenaars soos Jodi Jantjies en Whaden Johannes help ontwikkel.
Hy is ook die musikale regisseur van die Platformsessies, waar William die kollig gedeel het met drie van 2022 se ATKV-Crescendo-finaliste.
“Tydens die vertoning het Athina Jansen, Selby Williams en Suné Damons hulle enkelsnitte vrygestel en hulle musiekvideos is ook die aand opgeneem.
“Dit is bevredigend om saam met jong talent te kan reis en te sien hoe hulle ontwikkel en ’n sukses van hulle loopbane maak.”