Jeugleiersimposium 2026: Jong leiers uitgenooi
Die ATKV se Jeugleiersimposium bied vanjaar aan graad 11-hoofleiers van regoor Suid-Afrika en Namibië’n unieke geleentheid om hulself voor te berei vir die uitdagings en verantwoordelikhede van leierskap.
Die simposium, met die tema “Jeugleiers – wees die stem,” is veel meer as net ’n leierskapkursus – dit is ’n ruimte waar jong leiers byeenkom, nuwe perspektiewe ontwikkel, waardevolle vaardighede aanleer en met groter selfvertroue voorberei word om hul nuwe rolle as ingeligte en verantwoordelike leiers aan te pak.
Die program fokus op kernbeginsels wat nodig is om werklike leierskapseienskappe te ontwikkel. Deelnemers word onder meer blootgestel aan spanwerk en medewerking, effektiewe kommunikasie en konflikhantering in uitdagende situasies.
Een van die hoogtepunte van die Jeugleiersimposium is die deelname van topklas-gassprekers wat kundiges op hul onderskeie terreine is. Deur inspirerende en relevante gesprekke word deelnemers bekendgestel aan onderwerpe wat aansluit by die realiteite en uitdagings van hedendaagse leierskap.
Die doel is om jong leiers toe te rus met praktiese vaardighede en kennis wat hulle nie net in hul skole kan toepas nie, maar wat hulle ook op hul verdere lewenspad sal ondersteun. Die simposium wil deelnemers inspireer om ’n positiewe verskil te maak en as transformerende leiers ’n betekenisvolle rol in hul skole, gemeenskappe en die breër samelewing te speel.
Twee geleenthede – een onvergeetlike leierskapservaring. Hierdie unieke simposium word op twee datums en by twee gewilde ATKV‑oorde aangebied: van 30 November tot 3 Desember by ATKV‑Buffelspoort in Rustenburg, of van 7 tot 10 Desember by ATKV‑Goudini Spa in Worcester. Hier wag ’n program vol uitdagings, gesprekke en ervarings wat jou nie net toerus vir die toekoms nie, maar ook herinner dat ware leierskap begin met die moed om jou stem te laat hoor.
Jou geleentheid wag. Die ATKV-Jeugleiersimposium bied meer as net ’n leierskapskursus – dit bied ’n transformerende ervaring wat jong leiers toerus om die uitdagings van 2027 en daarna met vertroue en vaardigheid aan te pak.
As jy in 2027 ’n leier by jou skool gaan wees, kan jy hierdie geleentheid eenvoudig nie misloop nie.
Die deelnemersgids is hier beskikbaar. Klik hier vir die inskrywingsvorm en die vrywaringsvorm.
Kontak gerus vir Ewaldt Scholtz per e-pos by EwaldtS@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9023 vir meer inligting.