Jeugpotensiaal ontsluit by berade
Twee dinamiese en transformerende ATKV-Jeugberade is onlangs by ATKV-Goudini Spa en ATKV-Klein-Kariba vir leerders in graad 10 en 11 aangebied. Die ATKV-Jeugberaad is ontwikkel om die volgende generasie leiers te inspireer, op te voed en te bemagtig, met die fokus op interaktiewe programme, die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte, onderwys, leierskap en jeugaktivisme.
Die onlangse aanbiedings van die ATKV-Jeugberaad was propvol ’n verskeidenheid aktiwiteite wat ten doel gehad het om kreatiwiteit, kritiese denke en samewerking te bevorder. Van spanbou-oefeninge tot probleemoplossingswerkswinkels, is leerders aktief betrek by praktiese leerervarings.
Een van die hoogtepunte was ’n aktiwiteit waar leerders ons stede en gemeenskappe herbedink het deur hul eie volhoubare gemeenskap van die toekoms te “bou” en te beplan. Hierdie oefening het hulle aangemoedig om innoverend oor stedelike ontwikkeling en volhoubaarheid te dink deur te visualiseer hoe ’n beter, groener wêreld kan lyk.
’n Beduidende deel van die berade se program is gewy aan die opvoeding van leerders oor die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG). Deur middel van interaktiewe sessies het leerders ’n diepgaande begrip gekry van die 17 doelwitte en die belangrikheid daarvan om wêreldwye uitdagings soos armoede, ongelykheid, klimaatsverandering en vrede en geregtigheid aan te spreek. Deur van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te leer, is leerders aangemoedig om globaal te dink en plaaslik op te tree, en hul rol in die bydrae tot ’n volhoubare toekoms te verstaan.
“Om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te verstaan, is van kardinale belang vir jongmense. Dit is nie net doelwitte nie, maar ’n padkaart om ’n meer regverdige en volhoubare wêreld te skep,” sê Magon Mouton, bestuurder: jongvolwassene-ontwikkeling en innovasie by die ATKV.
’n Kernfokus van die berade was die ontwikkeling van sosiale vaardighede deur selfbewustheid. Leerders het deelgeneem aan interaktiewe ontledings van hul persoonlikheidstipes en ondersoek hoe hierdie eienskappe ’n rol speel om ’n span te lei. Deur hul sterkpunte en areas vir groei te verstaan, het leerders geleer hoe om effektief te kommunikeer, saam te werk en ander te motiveer. Hierdie selfontdekkingsproses was deurslaggewend om hulle te help om die diverse dinamika binne ’n span te verstaan en hoe om individuele eienskappe vir kollektiewe sukses te benut.
Hieroor sê Magon, “Selfbewustheid is die grondslag van effektiewe leierskap. Deur hulself te ken, kan jong leiers diegene rondom hulle beter verstaan en inspireer.”
Die reaksie van leerders was oorweldigend positief. Baie leerders het hul opgewondenheid en dankbaarheid gedeel oor die geleentheid om van die ATKV-Jeugberaad deel te wees.
Een leerder het opgemerk, “Hierdie beraad was ’n lewensveranderende ervaring. Dit was glad nie wat ek verwag het nie! Ek het soveel geleer en ek voel bemagtig om ’n verskil in my gemeenskap te maak.”
Nog ’n leerder het vertel hoe die ATKV-Jeugberaad hulle verryk het. “Die interaktiewe aktiwiteite was baie lekker en het my regtig gehelp om komplekse woorde en begrippe waarvan ek nog nooit van gehoor het nie, beter te verstaan – maar op ’n lekker manier!”
“Terwyl ons hierdie twee weke afgesluit het, was ons gevul met hoop en optimisme vir die toekoms. Die passie en entoesiasme wat hierdie jongmense gewys het, bevestig weer ons geloof in die krag van onderwys, leierskap en jeugaktivisme,” sê Magon.
“Die ATKV is daartoe verbind om voort te gaan met ons pogings om die volgende generasie te ondersteun en te bemagtig, en hulle toe te rus met die gereedskap en geleenthede wat hulle nodig het om positiewe verandering te skep. Ek besef elke dag dat die grootste illusie van ons moderne samelewing is dat geluk en vryheid suiwer ’n individualistiese reis is, terwyl dit in werklikheid diep verbind is met die welstand van almal om ons.”
Hou ’n ogie op die ATKV-webwerf en -sosialemediablaaie vir meer inligting oor die opkomende ATKV-Jeugleiersimposiums wat in Desember aangebied word.
Magon deel ’n woord van dank: “Dankie aan almal wat deelgeneem en hierdie ATKV-Jeugberaad ondersteun het. Jou toewyding en entoesiasme is die dryfkrag agter ons missie om die leiers van môre te bemagtig.”