Jodi Jantjies genomineer vir ’n Aitsa-toekenning

SAMA-genomineerde sanger-liedjieskrywer, Jodi Jantjies, is weereens genomineer vir haar uitstaande musikale talent, hierdie keer deur Pretoria FM-radiostasie se Aitsa-toekennings vir Afrikaanse musikante.
“Hierdie nominasie is vir my ongelooflik. Dit is die derde een hierdie jaar – ’n teken dat my eerste album, Woorde, van uitstaande gehalte is,” borrel die 21-jarige musikant van Kaapstad wat in twee kategorieë genomineer is vir Nuweling van die jaar, asook Gospelliedjie van die jaar.
Sy het die eerste snit, Gee my die woorde, saam met haar musikale ikoon, Karen Zoid opgeneem. Ek is so bevoorreg dat ’n musikant van Karen se kaliber saam aan my debuutalbum gewerk het. Ek glo haar bydrae is beslis een van die redes waarom ek genomineer is,” meen sy.
Dié boorling van Mitchellsplein se musikale pad was nie net altyd met rose besaai nie. Hakkel is een van die uitdagings in haar lewe waarvan sy baie stories het om te deel. “Die gehakkelry het ’n lewe van sy eie,” verduidelik Jodi. “Soms praat ek soos ’n normale persoon en ander kere voel dit of my tong aan my verhemelte vasklou, maar wanneer ek sing, verloop alles seepglad.”
Sy het in ’n musikale huis grootgeword met haar broer Adrian wat ’n professionele musikant in Spanje is. Jodi en haar tweelingsus, Jade, het van kleins af in haar ma, wat ’n pastoor is, se koor gesing.
Jantjies het die eerste keer aandag getrek toe sy as skaam tiener ’n oudisie by die Cedar Secondary School in Mitchellsplein voor die ATKV-Crescendo-paneel gehad het. Dit was ’n liedjie wat sy self geskryf het. Die res is as‘t ware geskiedenis: Sy was ’n finalis daardie jaar en het by die projek betrokke gebly as Crescendo-ambassadeur en -kunstenaar. Saam met die Crescendo-span het sy, onder andere, al by Aardklop, Suidoosterfees en #Onse Fees opgetree. Al haar musiek word deur die ATKV opgeneem.
Een van haar noemenswaardige talente is die vermoë om in Afrikaans én Engels te kan sing. In hierdie stadium fokus sy op haar Afrikaanse erfenis en liedjieskryfvaardigheid. “Dit is vir my ’n riem onder die hart dat my oorspronklike komposisies waardeer word. Dit beteken ek hoef nie soos iemand anders te wees of te klink nie.”
Haar lewenslange droom om haar eie musiek as ’n album op te neem, het waar geword toe haar album op alle musikale digitale platforms vrygestel is. Haar selfvertroue is duidelik sigbaar deur haar musiek van die eens skaam jong meisie na ’n storieverteller met diepte as gevolg van die struikelblokke wat sy al op haar pad oorwin het.
Volgens ATKV-Crescendo se projekorganiseerder, Morné van Staden, is die organisasie oorstelp met Jantjies se Aitsa-nominasie. “Dit is ’n eerste vir Crescendo en vir die ATKV. Dit beteken vir ons baie omdat dit ’n erkenning is van die projek se sukses om ’n daadwerklike bydrae tot Afrikaanse musiek te lewer.”
Besoek gerus https://www.pretoriafm.co.za/aitsa-toekennings/ om vir Jodi te stem.
Die Aitsa-geleentheid vind op 29 November 2022 by die Choose Life-kerk in Pretoria plaas. Kaartjies kan deur iTickets.co.za gekoop word. Tydens die geleentheid gaan nie net die wenners van die onderskeie kategorieë aangekondig word nie, maar Riaan Benade, Elandré, Demi-Lee Moore, Tarryn Lamb en Droomsindroom gaan tydens hierdie luisterryke aand optree.