Skip to main content

Hierdie talentvolle sangeres en liedjieskryfster gaan hopelik binnekort ’n huishoudelike naam word en die Suid-Afrikaanse musiekbedryf aangenaam verras met die bekendstelling van haar debuutalbum hierdie week.

Dié 21-jarige sangsensasie, in Mitchell’s Plein gebore en getoë, stel haar 10-liedjie-album, WOORDE, hierdie Woensdag 27 Oktober 2021 bekend op al die vooraanstaande digitale musiekplatforms.

“Dit was nog my hele lewe lank my grootste droom om my eie musiek bekend te stel. En nou, met die bekendstelling van my eie album waarna mense kan luister en hopelik inspirasie kan put uit die verskillende musiekgenres wat ek ingesluit het, kan ek uiteindelik uitsien na die verwesenliking van my droom,”  sê die Afrikaanse musiekster, wat haarself as “skaam en stil” beskryf.

Jodi is op 16-jarige ouderdom vir die eerste keer raakgesien deur die ATKV-Crescendo-beoordelaars tydens haar 2016-oudisie. Vyf jaar later is sy een van Suid-Afrika se nuutste musiekwonders wat sing en liedjies skryf  en baie opgewonde is omdat almal nou haar oorspronklike musiek gaan hoor. Sy vertel: “Musiek het my gehelp met my spraakgebrek en sonder musiek sou daar nie ’n Jodi Jantjies gewees het nie. Musiek het gehelp om my deur vele uitdagings in die lewe te kry en om as ’n selfversekerde storieverteller anderkant uit te kom deur middel van my musiek.” Sy sing in Engels en Afrikaans, en het reeds menige gehore as deel van die ATKV-Crescendo-span met haar talent beïndruk, van Aardklop tot by die Suidoosterfees en die #Onsefees.

As deel van haar debuutalbum het Jodi nog een van haar groot drome bewaarheid – sy het haar rolmodel, liedjieskryfster en sangeres, Karen Zoid, genader om ’n duet saam met haar te sing. Jodi het dit as ’n enkelsnit, Gee My Die Woorde, vrygestel. Dié enkelsnit is reeds op 22 Oktober 2021 vrygestel op alle digitale musiekplatforms. “Om saam met Karen te werk, was ’n ongelooflike ondervinding waartydens ek so baie geleer het. Dit was ’n absolute droom wat bewaarheid is. Sy is my rolmodel en ek het so baie by haar geleer terwyl ons in die ateljee was, en selfs terwyl ons die musiekvideo gemaak het. As kind was sy die één kunstenaares saam met wie ek nog altyd wou werk, en ek is so dankbaar en bevoorreg dat sy my gehelp het om daardie droom te verwesenlik,” verduidelik Jodi.

As die dogter van ’n pastoor en ’n trotse Christen, het Jodi reeds in Maart vanjaar ook haar EP, Dit is ... Jodi Jantjies, met vier liedjies vrygestel.

Teen volgende maand kan musiekliefhebbers en Jodi se aanhangers ’n eksklusiewe CD en DVD van haar WOORDE bestel. Hierdie beperkte en eksklusiewe aanbod bevat haar album in ’n CD-formaat, asook ’n DVD met beeldmateriaal van Jodi se storie en die reis van die album tot by vrystelling. ’n Beperkte voorraad FynBos-wyn met ’n spesiaal ontwerpte etiket is ook deel van die pakket. Hierdie boetiek-wyn is deel van die reeks Spoegwolf-wyne en behoort aan nog een van Jodi se helde, Danie du Toit.

“Daar gaan slegs 50 kopieë beskikbaar wees en elke pakket gaan ’n persoonlike brief van my aan die koper bevat,” deel Jodi. Hierdie beperkte musiekpakket sal van einde November 2021 af beskikbaar wees. Kontak gerus vir Whaden Johannes per e-pos by crescendo02@atkv.org.za of bel 021 880 1761 om ’n bestelling te plaas.

Jodi Jantjies se sosialemediabesonderhede
Facebook   Twitter   
Instagram

Nog skakels
Gee My Die Woordehttps://www.youtube.com/watch?v=Lr0aPzEsW5k

Lied van My Harthttps://www.youtube.com/watch?v=rjrwTkbSc_g
Armageddonhttps://www.youtube.com/watch?v=dsoaxlmhm9A
Apple: https://music.apple.com/za/artist/jodi-jantjies/1527529048