Johan Jack Smith se afsterwe laat ’n groot leemte
Johan Jack Smith se kreatiwiteit, aweregse sin vir humor en vermoë om geleenthede raak te sien, het van hom ’n gewaardeerde kollega by die ATKV gemaak.
Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, sê dit is vir die organisasie ’n groot skok om te verneem van Johan se afsterwe.
“Toe ek vanoggend die nuus kry, het Jan F.E. Cilliers se ‘Stil, broers, daar gaan ’n man verby,’ dadelik by my opgekom. Die res van daardie strofe sê, ‘daar’s nog maar één soos hy’… En ja, daar was net een Johan Jack Smith.
“Sy kreatiwiteit en sy vermoë om uit die gewone iets ongewoon te skep, is iets wat my vir ewig sal bybly. Hy laat groot spore agter hom en sy teenwoordigheid gaan ongelooflik baie gemis word – nie net in die gange van die ATKV nie, maar ook in die Afrikaanse kultuurwêreld,” sê Sonél.
Johan Jack Smith het grootgeword in Virginia in die Vrystaat. Hy het grafiese kuns en ontwerp studeer, maar sy kop staan joernalistiek toe en hy sluit nadat hy sy BTech diploma voltooi het by Media24 in Johannesburg aan. Hy resenseer deeltyds boeke vir Rapport en Beeld en skryf ook onder die skuilnaam Peter Jobo sportstories vir die Daily Sun. Sy gereelde rubriek, “Bekentenisse van ’n (toekomstige) rocker-pappie”, is baie gewild onder lesers.
As kreatiewe gees blink Johan uit in elke projek wat hy aanpak. Sy destydse rockgroep, Volkspeler, bied ’n musikale uitlaatklep wat ook sy slag met woorde ten toon stel. Van sy gedigte word in 2017 in Nuwe stemme 6 opgeneem en ’n kortverhaal van hom verskyn in dieselfde jaar in die versamelbundel, Op die spoor van. Sy debuutroman, Zola, word in 2020 bekroon met die Eugène Marais-prys en is ook op die kortlys vir die UJ-debuutprys.
Hy was ten tyde van sy afsterwe besig om sy meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat te voltooi en was vroeër vanjaar die tweede ontvanger van die Jaap Steyn-beurs. Die beurs word toegeken aan die mees belowende M-student in die tweede jaar van ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan dié universiteit.
Johan is aanvanklik as boekeredakteur by Taalgenoot aangestel, waarna hy die assistent-redakteurspos beklee. Johan dien sedert die middel van 2016 as redakteur van Taalgenoot en onder sy leierskap is hierdie publikasie verskeie kere bekroon. Taalgenoot het onder meer vier keer sedert hy die leisels oorgeneem het die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se prys vir die beste interne tydskrif ontvang.
Johan deel in ’n onlangse onderhoud sy motto in die lewe: “Time waits for no man, so go, man, go.”
“Almal wat hom geken het, kan getuig dat hierdie groot gees nooit teruggehou het nie en ’n diep indruk gelaat het by elkeen met wie sy paaie gekruis het. Die ATKV betreur sy heengaan en dink spesiaal aan sy vrou, Almerie, hul seuntjie, Rijger, sy ouers en twee broers.”