Jonges ontroer by ATKV-skoleskryfprogram

“Op elke fees is daar ’n sessie wat aan jou hart ruk. Ek het nie geweet dit gaan tydens hierdie skoleskryfprogramsessie wees nie.”
Só sê Darryl David, programleier van die Adam Small-fees in Pniël, na afloop van ’n paar talentvolle leerders se roerende voorlesings by ’n geleentheid wat in samewerking met die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, aangebied is.
Trane het oor sommige lede van die gehoor se wange gebiggel, toe die leerders vol selfvertroue, maar tog net kind, hul hartseerverhale van selfskending, dwelmafhanklikheid, depressie, bipolêre gemoedsteurnis en kinderverwaarlosing voor volwassenes en ander ondersteunende leerders voorgelees het.
David het ná die leerders se aangrypende voorlesings die opmerking gemaak dat kinders van verál die Wes-Kaap baie swaar kry.
“Dit moet mos nie so wees nie,” sê hy.
Anzil Kulsen, die skoleskryfprogramleier, het die jeuggesprek gelei toe sertifikate aan die wenners oorhandig is.
Die leerders kon vir die prosa- of die poësiekategorieë inskryf tydens of na afloop van die skryfwerkswinkels onder leiding van Kulsen. Die temas was “My belangrike reis” of “Dit is wie ek is”.
“Die skryfstukke kon baie vrolik gewees het of nie. Die leerders het besluit waaroor hulle wil skryf. Soos ons nou gehoor het, het dit geneig na die traumatiese, somber kant van die lewe.
“Die leerders skryf uit hul harte, soms uit ’n plek van diep seer en trauma. Dit is so belangrik dat hulle eerlik bly in hul psiges en deur te skryf oor wat skaaf, afstand kry en hul eie seer verwerk,” sê Kulsen.
Die skoleskryfprogram is Anzil se breinkind en word deur die ATKV en die VVA ondersteun. Die ATKV is reeds sedert 2017 en die beginjare van die fees daarby betrokke, meestal deur ondersteuning vir die skoleskryfprogram en gesprekke met die kinders.
Die Vriende van Afrikaans dra ook jaarliks by tot leesontwikkelingsprojekte en literêre gesprekke wat aangebied word.
Vanjaar het die skoleskryfprogram op die Woensdag voor die fees afgeskop met ’n boeiende praatjie deur die akteur en televisiepersoonlikheid, Johnny Davids, wat met die hoërskoolleerders by die P.C. Petersen Primêre Skool oor sy boek, Boytjie, gesels het. Shireen Crotz van die VVA het die gesprek gelei.
Die leerders het aandagtig geluister hoe hy praat oor sy swaarkry en verwaarlosing as kind in Kylemore en Eersterivier. Hy het vertel van die een belangrike besluit wat jy moet neem om weg te draai van iets wat jou seermaak, en juis dít kan jou lewe heeltemal verander en red.
Johnny het verder gesels oor die belangrikheid van ’n mentor en dat die besluit by jou lê om uit jou moeilike situasie of omstandighede te ontsnap.
Twee leerders het elk ’n boek van hom gewen deur ’n vraag reg te beantwoord. Janine Myburgh, feesbestuurder en voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) en haar span het ná die gesprek sowat 100 worsrolle aan die leerders uitgedeel.
Twee dae voor die amptelike aanvang van die fees het Chareldine van der Merwe, ATKV-projekbestuurder: VVA, Shireen Crotz, ATKV-projekorganiseerder: VVA, Janine Myburgh en Anzil Kulsen sertifikate aan die wenners by die skole oorhandig.
Die betrokke skole was die Simondium Primêre Skool, die Pniël Primêre Skool, die P.C. Petersen Primêre Skool en die Kylemore Senior Sekondêre Skool.
Kulsen sê: “Deur met jonger kinders te begin werk, skep jy ’n bewustheid van die noodsaaklikheid van gesprekke aanhoor en leer jy hulle om op ’n volwasse manier oor dinge te dink, sodat hulle opgewasse aan gesprekke kan deelneem. Op hierdie manier skep die jong skrywers vir hulself reeds ’n gehoor.
“Aan die einde van die dag wil ons hê hulle moet nuwe perspektief kry en nie in hulle situasie vasgevang word nie. Ek kan net bid dat elke skryfpoging help met genesing en dat die vaardighede wat hulle tydens die werkswinkels geleer het nuwe deure oopmaak. Wie weet? Dalk oorweeg ’n paar van hulle selfs skryf as ’n loopbaan,” sê sy.
Myburgh sê sy was verskriklik opgewonde om hierdie projek saam met die ATKV te begin.
“Dit was so verfrissend om saam met die kinders te werk. Daar is soveel talent versteek in die kinders van die vallei. My hoop is dat ons meer kinders by die fees betrek en dat meer skole inskryf vir die skoleskryfprogram. Daar is soveel waarde daarin.
“Kinders kort platforms en ondersteuning om uit te styg bo omstandighede, anders gaan hulle huis toe en dwaal. Met enige program wat ’n mens begin en waarmee jy hulle boei, wen jy dalk klaar ’n kind oor.
“Ek is bly die kinders kry ook die geleentheid om voor hulle maats oor hulle skryfwerk te praat. Hulle gesels oor moeilike goed, maar dit is belangrik dat die kinders weet hulle is nie alleen nie en iemand anders worstel ook met dieselfde probleme.
“Ons moet ook baie dankie sê aan die skoolhoofde en onderwysers wat so bereidwillig was om deel te wees van hierdie projek, en aan die VVA vir hul ondersteuning,” sê Myburgh.
Sy noem wél dat sy meer onderwysers by volgende jaar se ATKV-leeskonferensie wil sien, en dat skoolhoofde hulle onderwysers moet toelaat om dié waardevolle en impakvolle konferensie by te woon.
Die wenners van die ATKV-skoleskryfprogram was:
Hoërskoolwenners:
- Mary-Ann Kleinschmidt
- Reschke Horton
- Mikah Swartz
Laerskoolwenners:
- Anastacia Ferdericks
- Li-Isha Malgas
- Tyrone September