Just Mia wil nét musiek maak
Just Mia, of Mia Malherbe van Wyngaardt, ’n sanger en kitaarspeler wat in Pringlebaai grootgeword het en sedert 2016 in Randburg woon, het vanjaar in die Taalgenoot-RUK EN RYM-kompetisie die derde plek behaal.
Mia sê sy sing al vandat sy kon praat. “Maar ek het eers op universiteit, toe ek deel geword het van ’n sêrgroep, werklik myself en my stem gevind,” voeg sy by.
“Ek het altyd by skoolbyeenkomste gesing en hulle het my altyd gevra om op te tree, dus was dit van kleins af deel van my menswees. Maar ek het eers op universiteit hier op die ouderdom van 19 of 20 werklik my talent ontdek en begin ontwikkel. Dit is waar ek werklik besef het dít is wat ek wil doen. Hoewel ek besig was om te swot, het ek sommer net geweet as ek hier vanaf Potchefstroom weggaan, gaan ek my musiekloopbaan begin en ek gaan my drome volg.”
Die ontslape Britse sanger en liedjieskrywer Amy Winehouse en die Ierse rockgroep The Cranberries is Mia se grootste musikale invloede.
“My klank is baie rou en indie folk,” verduidelik sy.
“Daar is baie invloed van Amy Winehouse en ’n klein bietjie van Adele, as ek dit so kan stel, maar nie presies só nie, want dit is baie alternatief Afrikaans, maar indie folk.
Mia sê sy is mal oor die RUK EN RYM-konsep.
“Ek dink dit is die beste ding wat vir alternatiewe Afrikaanse musiek kon gebeur het,” gaan sy voort.
“Ek het al voorheen, toe ek net in die bedryf begin het, aan ’n paar musiekkompetities deelgeneem nadat ek my studies in Potch voltooi en in 2016 na Johannesburg getrek het. Ek het byvoorbeeld al in 2013 op universiteit aan Idols deelgeneem en my ‘golden ticket’ gekry. Ek is ‘theatre week’ toe, maar ek het in die top-100-fase uitgeval. Dit was baie erg vir my. Toe het ek weer in 2016 aan Idols deelgeneem, ook weer my ‘golden ticket’ gekry, toe in die top-80-fase uitgeval. Ek het daarna vir myself gesê ek wil dit nie weer doen nie, want dit was te traumaties. Maar ek het in 2018 vir The Voice South Africa ingeskryf en ek was in Francois van Coke se span. Daar het ek in top-32 uitgeval.
“RUK EN RYM is vir my eersteklas en dit is werklik ’n kompetisie waar ek vir die eerste keer gevoel het ek hoort. Nie dat ek nie gevoel het ek hoort nie op The Voice nie – dit was baie lekker en dit het baie dinge vir my in my loopbaan verander en ook hoe ek die musiekbedryf sien – maar RUK EN RYM het soos huis gevoel. Ek het baie tuis gevoel daar, dit is my mense. Ek stap weg met ’n hart vol dankbaarheid.”
Mia sê sy het op haar normale manier vir RUK EN RYM voorberei.
“Ek het baie gerepeteer en seker gemaak die liedjies wat ek gaan opvoer, lê my na aan die hart. Ek wou liedjies opvoer waarop ek trots is en werklik wou opvoer. Ek het voorheen besef, as daar liedjies is waarby ek nie aanklank vind nie, dan dra dit nie so goed oor nie.”
Mia, wat ook kitaar- en sanglesse aanbied en twee klein sakeondernemings bedryf, sê RUK EN RYM het beslis haar loopbaan beïnvloed.
“Net die feit dat ek derde gekom het, het baie traksie na my sosialemediablaaie gebring. Ek ervaar ook baie bykomende ondersteuning en ek is so ongelooflik dankbaar daarvoor.”
Mia bespreek wat sy oor die kort- en langtermyn as ’n musikant wil bereik.
“Ek wil baie graag soveel musiek as wat ek kan, vrystel en myself ook soveel as moontlik as ’n musikant verbeter.
“My doelwit in die langtermyn is om eenvoudig net musiek te maak totdat ek fisiek nie meer kan nie, want dit is tog wie ek is. Ek kan myself nie nié sien musiek maak nie. Die feit dat ek ’n bestaan daaruit maak en my rekeninge kan betaal, is iets wat ek maar net as ’n bonus beskou. Ek is baie dankbaar dat ek elke dag van my lewe letterlik musiek kan leef.”
Mia sal op 15 Desember in Hartebeespoortdam by die Beef Stock-fees optree en sy werk tans aan ’n nuwe liedjie, “Ligter”, wat sy beoog om vroeg volgende jaar vry te stel.