Kaapse streeksbyeenkoms inspireer, motiveer

Op ’n sonnige wintersoggend het 220 ATKV-taklede opgedaag by die streeksbyeenkoms van die Wes-Kaap en Boland/Karoo, waar Elize Fortuin en Almero Oosthuizen onderskeidelik die streeksbestuurders is. Die geleentheid is gehou by die asemrowende ROOT 44, geleë in die pragtige wynlande van Stellenbosch. ’n Gees van opgewondenheid het geheers, aangesien taklede weer vir die eerste keer ’n streeksbyeenkoms kon bywoon ná die Covid-19-pandemie. Taklede was openlik honger vir kontak met hul medetaklede en om weer gesellig met mekaar te verkeer. Die mees verafgeleë takke het van Touwsrivier, Wolseley, Piket-Bo-Berg en Swellendam gekom.
Tommy Truscott, finansiële direkteur van die ATKV-Groep, het die takke bedank vir die belangrike rol wat hulle binne gemeenskappe speel. Hy het genoem dat die ATKV trots is op die belangrike werk wat ATKV-takke op voetsoolvlak doen.
Volgens die geleentheid se gasspreker, Quinton Adams, ’n opvoedkundige sielkundige, navorser, direkteur van Masekhane Development Solutions en alombekend as die ShackBuilder, sal Suid-Afrika nié uitmekaar val nie – maar dan moet ons glo wat ons sê. Quinton en sy span bou al vir meer as 17 jaar veiliger wonings in informele nedersettings vir diegene wat geen heenkome het nie. Hulle probeer om veiliger strukture op te rig om hierdie mense se lewensomstandighede te verbeter en hul menswaardigheid te herstel. In sy navorsing is daar bevind dat lewensomstandighede in die informele nedersettings só haglik is dat dit lei tot siektes en sterftes. Die aaklige toestande vernietig die menslike siel en breek dit af. Die meeste van die materiale wat gebruik word vir die bou van huise is substandaard en hou boonop ’n brandgevaar in. Quinton en sy groep het begin om vir die mense te wys hoe om beter en veiliger huise te bou en sodoende hul trots te herstel. Verder is daar begin om vaardighede vir hulle aan te leer.
Quinton meen dat solank daar armoede en ongeregtighede heers, niemand kan rus nie en dat dit nie veel van ’n persoon se tyd in beslag neem om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak nie. Hy noem dat ons eerder self die moue moet oprol as wat ons knelpunte aan politici wil oorlaat. Volgens hom het daar ’n positiewe oplewing in Suid-Afrika gekom ná Covid-19. Quinton se boodskap van ubuntu was ’n werklike inspirasie vir almal en is hy met luide applous toegejuig.
Suna Treurnicht van die ATKV-tak Velddrif was beïndruk deur Quinton se aanbieding en veral deur sy woorde, “Dinge gebeur wanneer jy begin beweeg. Begin klein, aktiveer jouself en wees verbeeldingsingenieurs.”
Bernice Hendricks, takvoog van die ATKV-jeugtak Beeldskoon in Macassar noem dat die byeenkoms vir haar soos balsem vir ’n moeë gees was. “Die merkwaardige werk van Quinton en sy span het ons aangespoor tot aksie. Sy aanbieding het bevestig dat enige uitdaging in ’n geleentheid omskep kan word. Ek het opnuut bewus geraak van die noodkreet van die armes, die vergetenes en die verlorenes … dat ons nie moet omstanders wees wat kla oor ongeregtigheid nie, maar die hand aan die ploeg moet slaan. Al is jou idee klein, het dit nie net die vermoë om ’n huisgesin of gemeenskap te bereik nie, maar kan selfs ’n globale impak oor die wêreld heen maak.” Damian Rooi, voorsitter van dié jeugtak, noem dat die aanbieding hom geïnspireer en gemotiveer het en dat hy tot die besef gekom het dat alles moontlik is.
Annie Cruywagen, voorsitter van die ATKV-tak Atlantis, het genoem dat die oggend vir haar en haar span só gemotiveer en geïnspireer het dat hulle met nuwe hoop en moed skouer aan die wiel gaan sit en nuwe projekte gaan aanpak.
Strelende agtergrondmusiek is verskaf deur Lawrence Felton, die Tiervlei Rieldansers het ’n vertoning gelewer en Deon Meiring was die gaskunstenaar.
Taklede is gevra om ’n kinderboek saam te bring vir die takke-afdeling se leesprojek en ’n krat kon hiermee gevul word. Hierdie boeke sal aan verskeie leesgroepe uitgedeel word.
Gemeet aan die positiewe terugvoer was die oggend ’n reusesukses, teweeggebring deur die spanwerk van die gassprekers, die kunstenaars en deur die voortreflike diens van ROOT 44.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.