Kampus-Sêr betower gehoor in Potch
Vingerklap- en voetestamplekker sêr het onlangs weer gesorg vir hoendervleisvermaak by die Noordwes-Universiteit se jaarlikse Kampus-Sêrkompetisie, voorheen bekend as Enkelsêr. Dié sêrgeleentheid, waarvan die finaal op 28 Julie plaasgevind het, is ’n hoogtepunt op die NWU se kunstekalender en is vanjaar deur die ATKV geborg.
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof: kultuur, sê die NWU het ’n aktiewe kunstekultuur op kampus. “Die NWU Kunste werk hard om Kampus-Sêr en ander projekte met sukses aan te bied. Die ATKV vat graag hande met strategiese vennote wat tot die voordeel van studenteprojekte dink, werk en droom. Die ATKV se vennootskap met NWU Kunste is kosbaar en lewer jaarliks uitstekende resultate. Vanjaar se Kampus-Sêrkompetisie was van hoogstaande gehalte,” sê hy.
Die ATKV het vir 20 jaar die nasionale Universiteitesêrkompetisie aangebied. Gerrie sê, “Ongelukkig het dié projek weens eksterne faktore doodgeloop. Daar was egter nog ’n diepe behoefte by die meeste studente om aan sêr deel te neem. Duisende hoërskoolleerders neem jaarliks aan ATKV-kunsteprojekte deel. Wanneer dié leerders op universiteit kom, wil hulle voortgaan om aan kunsteprojekte soos debat, toneel en koor of sêr deel te neem. Daarom sal die ATKV enige universiteit ondersteun wat aan studente ’n kunste-ervaring bied.”
Koshuissêrgroepe maak van vroeg in die jaar reeds gereed om hul talente ten toon te stel. Volgens Jaco van der Walt, senior bestuurder van kunste by die NWU, was die kaartjies vir die vertonings in die Sanlam-ouditorium en die NWU-konservatorium vroegtydig uitverkoop. “Dit wys dat hierdie geleentheid groot belangstelling en afwagting onder studente en musiekliefhebbers gewek het,” sê hy.
Jaco sê die sêrgroepe het ’n hoë standaard van a cappella-musiek ten toon gestel, met elke koshuis wat baie moeite gedoen het met choreografie, kostuums en natuurlik die verwerkings. “Die optredes was niks minder as uitsonderlik nie en het die gehoor verstom met die ongelooflike harmonieë en musikaliteit wat op die verhoog vertoon is,” sê hy.
Ná ’n intense stryd van vokale kundigheid het Patria-manskoshuis as die wenners van die kompetisie na vore getree en die ATKV-prys van R5 000 gewen. Jaco sê hul foutlose uitvoering en betowerende verhoogteenwoordigheid het die beoordelaars ongetwyfeld beïndruk en het hulle van die eerste plek in die mansafdeling verseker. Patria is ook gekroon as die algehele wenners van die kompetisie. Die ATKV se prys van R5 000 aan die beste damessêrgroep het gegaan aan Kasteel-dameskoshuis, wat die gehoor betower het met hul unieke bewegings en harmonieë.
Die beoordelaars tydens hierdie spoggeleentheid was Stéfan Louw, Steffie le Roux, Rineke Viljoen, Mzwandile Mabuza, Jacques Linde, Langa Lerato en Brian Kenneth.
“Die kompetisie was ’n oorweldigende sukses, met uitverkoopte kaartjies, uitsonderlike optredes en verdienstelike wenners. Die geleentheid het klem gelê op die belangrikheid van musiek en die kuns om mense saam te bring, en het die ongelooflike talent wat binne die Noordwes-Universiteit bestaan, gevier,” sê Jaco. Die ATKV het ook gesorg dat die beste eie komposisies en die voorgeskrewe liedere beloon word met ’n kontantprys. Die prysgeld van die ATKV beloon studentekreatiwiteit en moedig studente aan om nuwe musiek vir die verhoog te skep.