Kanniedood-tak springlewendig en gesond
Christo de Klerk van die ATKV-tak Kanniedood is die president van Blind Suid-Afrika. Hy beywer hom vir die regte van mense met siggestremdhede en voel ook sterk oor die bevordering van Afrikaans.
Die ATKV het meer as 200 takke met meer as 4 000 vrywilligers. Dit is meer as 4 000 mense met hope talent, vaardighede en ’n liefde vir die Afrikaanse taal. ’n Hutspot van talent.
Dit is vir die ATKV ’n groot voorreg om saam met hierdie lede in ons taal te woeker en ook om saam met hulle hul prestasies te vier. Een van die Kanniedood-tak in Alberton se lede het ook onlangs ’n groot prestasie behaal deur president van Blind Suid-Afrika te word. Christo de Klerk is al sedert 2006 ʼn lid van die ATKV-tak Kanniedood en bied jaarliks vir die tak ’n gedigte-en-musiek-program aan.
Christo, wat self blind is, was in die Skool vir Blindes op Worcester (nou Pionierskool) en het daarna regte aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy het in 1970 met ʼn BA in regte en in 1972 met ’n LLB-graad gegradueer en ses jaar lank as advokaat gepraktiseer. Hy is daarna as ’n rekenaarprogrammeerder opgelei en het onder meer by twee groot banke gewerk.
Hy is sedert 1974 by Blind SA betrokke en is passievol oor die handhawing van die regte van blinde mense. Nog iets waaroor hy passievol is, is Afrikaans en hy geniet die uitlewing van die Afrikaanse taal en kultuur by die Kanniedood-tak.
Die Kanniedood-tak
Elize du Preez is sedert Januarie 2020 voorsitter van die Kanniedood-tak en sy en haar man, Sarel, is al vanaf 2007 by die tak betrokke.
Dis ’n ware kuiertak, vertel Elize, en hulle bied maandeliks ’n program aan wat by die temas van hul jaarprogram inpas.
“Ons spoor graag mense aan om by die ATKV-takke aan te sluit om saam met ander lede die doelwitte van die organisasie na te streef,” gesels Elize.
Enigeen is welkom by die organisasie en hul tak het vier mense met gestremdhede, wat aktief in hul tak is en ’n groot verskil maak.
“Stafie Pelser, ons ondervoorsitter, Christo en sy vrou, Martie, is siggestremd en ons het ook ’n lid, Johan Brits, wat serebraalgestremd is.”
En al hul lede is dit eens. Hul tak is ’n ware “kanniedood-tak” en dis vir hulle ’n fees om hul liefde vir Afrikaans te deel.
Vind meer uit oor die ATKV-takke by https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ en meer inligting oor Blind SA by https://blindsa.org.za/.