Karel Bester & Die Kraaines Band vir SAMA benoem
Daar broei al vir ’n geruime tyd ’n nuwe soort energie in die alternatiewe musiekkringe. Tasbaar, veelsydig en onverskrokke. Nuwe kunstenaars spruit op en wys hul staal. ’n Nuwe beweging en generasie wat in opstand kom teen die dekadensie van die lewe. Taalgenoot se Ruk en Rym-musiekkompetisie het ’n teelaarde geword vir dié uitsonderlike kunstenaars.
Een van dié groepe Karel Bester & Die Kraaines Band wat onlangs vir ’n Suid-Afrikaanse musiektoekenning (SAMA) benoem is vir hulle album ONKRUID. Karel Bester, voorbok van die groep, sê hy was geskok toe hy die nuus ontvang het.
“As dit kom by my eie endeavors vat ek altyd alles met ’n knippie sout. Met dit gesê, het ek vreeslike trots en tevredenheid met die kwaliteit van die kuns van die album wat ons bymekaargesit het. Toe die nuus my slaan, was ek oorweldig met ewe aantalle gevoelens van dankbaarheid en verrassing.”
Die groep het verlede jaar algeheel derde gekom in Taalgenoot se Ruk en Rym-kompetisie.
Karel vertel dat hulle vier jaar gelede al aan die album begin werk het.
“Die album se tunes is al vanaf 2022 in rotasie by ons live shows, maar vroeg in 2025 het ons die opname van die album ten volle aangepak, met die idee om ses enkelsnitte maandeliks vry te stel vanaf Julie tot Desember 2025, en dan die album. Ruk en Rym het die perfekte geleentheid gebied om ons enkelsnit ‘Galop Van Die Suikerruiter’ lekker te push,” sê hy.
Karel meen dat die alternatiewe landskap vandag, danksy kompetisies soos Ruk en Rym, floreer.
“Ek voel nog altyd dat elke beweging in alternatiewe Afrikaans ’n soort protes was. Die Voëlvry-beweging was polities. Die MK-beweging van die 2000’s was meer ’n algehele kulturele protes. My generasie se protes is eksistensieel – ’n stil protes teen die verlies aan betekenis.”
En só ook is ONKRUID ’n protes teen die banale en die voorgeskrewe norme van die samelewing.
“Al die liedjies is geskryf as weerspieëlings van verskeie aspekte van die nu-jong alternatiewe Afrikanerkultuur wat worstel met ’n nihilistiese samelewing en die soeke na identiteit en iets om in te glo.
“Die stryd teen dekadensie en alles wat saam met dit kom, en om uiteindelik, soos egte onkruid, te blom – maak nie saak hoe baie die lewe jou probeer ‘pluk’ nie.”