Karoo-toneelfees is ’n vars kultuurbries
Talle jongmense het onlangs die geleentheid gekry om hul talente op die verhoog ten toon te stel toe die eerste Karoo-toneelfees van 5 tot 7 Oktober in die Apollo-teater in Victoria-Wes aangebied is.
Bekende gesigte het as beoordelaars opgetree, belangrike figure en organisasies het die fees bygewoon en dit was volgens alle aanduidings ’n reusesukses.
Sewe skole het aan vanjaar se fees deelgeneem, maar dié getal sal waarskynlik volgende jaar aansienlik toeneem.
Volgens Brandon Erasmus, toneelfeesvoorsitter, is uitnodigings na al die skole in die distrik gestuur, maar skole buite die distrik het reeds hul beplanning vir die jaar gedoen en kon dus nie plek in hul programme vir die fees vind nie.
“Een van die mees algemene versoeke wat ons ontvang het van die skole wat dit nie vanjaar kon maak nie is om die toneelfees in die toekoms buite die skoolvakansie aan te bied. Dus sal volgende jaar se fees van 11 tot 13 April plaasvind en ons verwag dat meer skole dit sal bywoon,” sê Brandon, wat ook as die voorsitter van die die ATKV-gesinstak in Victoria-Wes dien.
Brandon sê die idee vir die Karoo-toneelfees het reeds in 2019 by hom posgevat.
“Ons het voorheen altyd aan die Logan-toneelfees, ’n nasionale kompetisie wat in die Noord-Kaap aangebied word, deelgeneem, maar die deelnemende skole op daardie fees is hoofsaaklik uit die Wes-Kaap afkomstig,” sê Brandon.
“Ek het destyds pas teruggekeer van universiteit en was in my eerste jaar van skoolhou toe ek die idee van ’n Karoo-fees met my toneelgroep bespreek het. Ons het besef daar bestaan ’n wesenlike potensiaal daarvoor: Victoria-Wes het die Apollo-teater, wat as die ideale venue sou dien, en ons dorp is maklik toeganklik vir die res van die provinsie.”
Brandon sê die beplanning vir die toneelfees het begin die dag toe die ATKV-gesinstak op 7 Maart vanjaar op Victoria-Wes gestig is.
“Dit was nog altyd my begeerte om ’n ATKV-tak in Victoria-Wes op die been bring. Ons dorp het so baie kultuur en ek het besef ’n tak sal ons help om daardie kultuur te ontgin en met mense van elders te deel,” sê Brandon.
Hy sê Jaco Spies, streeksbestuurder van die ATKV se takke in die Noord- en Oos-Kaap, was deurslaggewend in die beplanning en uitvoering van die toneelfees.
“Ons het, om eerlik te wees, nie baie skenkings vir die fees ontvang nie en sonder Jaco en die bydrae van die ATKV, asook AfriForum se steun, sou die fees nie moontlik gewees het nie,” sê Brandon.
Rowlen von Gericke (Getroud met rugby), Danielle Retief (Song vir Katryn) en die gesiene joernalis Rasaad Adams het as beoordelaars opgetree.
“Die beoordelaars het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en is almal vreeslik opgewonde oor die toekoms van die fees,” sê Brandon.
Pryse is in talle kategorieë toegeken, onder meer vir die beste akteurs, die beste produksie en die beste regie.
Verteenwoordigers van die Noord-Kaapse departement van onderwys, die Sol Plaatje-universiteit en verskeie gesiene sakemense op Victoria-Wes het die fees bygewoon en onomwonde hul toekomstige hulp en ondersteuning aan Brandon-hulle beloof.
“Ons visie is om die fees oop te stel en nasionaal te gaan, en daarvoor is daar goeie beplanning nodig – iets waarmee ons reeds besig is,” sê Brandon.
Rowlen sê hy en Danielle se betrokkenheid by die toneelfees het reeds in 2019 begin.
“Ek en Danielle was deel van ’n toergeselskap wat deur die dorp getoer het en dit is toe dat ons die mense van die Apollo-teater ontmoet het,” sê hy.
“Van daar af het ons drie keer ’n jaar teruggekeer, selfs tydens die Covid-pandemie, om ons werkswinkel, Act Out Workshops, aan te bied. Brandon het destyds van sy leerders na ons werkswinkel gebring en só het ons en die ATKV hande gevat en ’n verhouding met Victoria-Wes en sy mense gebou.”
Rowlen sê die gehalte van die produksies was meer as skaflik vir ’n eerste toneelfees waaraan skole sonder noemenswaardige begrotings deelgeneem het.
“Hierdie was kinders wat in die middel van die vakansie steeds bereid was om aan ’n toneelfees deel te neem,” sê hy.
“Ons deel in hierdie gemeenskap. Vir my en Danielle gaan dit meer oor wat die kinders leer en dat hulle aanhou leer. Maar ja, die gehalte was heel lekker en die geriewe by die Apollo was fantasties.”
Rowlen is vol lof vir Brandon.
“Brandon is ’n eksentrieke, lieflike mens wat net liefde in sy hart het. Hy gee werklik om vir sy leerders, hy het die regte energie vir die fees en hy en Jaco verstaan mekaar baie goed en werk uitstekend saam.”
Jaco sê die rede vir die ATKV se geloof in die mense van Victoria-Wes is eenvoudig.
“Ons glo in die opheffing van enige en elke gemeenskap,” sê hy.
“Die mense van Victoria-Wes se harte is oop vir ondersteuning en daar is verskeie rolspelers in die dorp wat eie inisiatief neem – iemand soos Brandon, wat reeds die voortou neem. Dit gaan eenvoudig daaroor om mense soos hy oor die lang termyn te ondersteun.”
Brandon sê die toneelfees verwelkom enige steun. Kontak hom by 073 966 6892, of stuur ’n e-pos na karootoneelfees@gmail.com.