Karoo-toneelfees: ’n Klein dorp met ’n groot verhoog
Van 4 tot 8 Augustus het Victoria-Wes, die pragtige Karoodorp in die Noord-Kaap, weer bewys dat ’n klein dorp ’n groot verhoog kan wees. Vir vyf dae lank het ’n span van nagenoeg 13 ATKV-personeellede uit verskillende afdelings hul kennis, ervaring en vaardighede ingespan om doelgerigte ontwikkelingswerk onder die jeug van die Karoo te doen.
Die span het onder meer verteenwoordigers van die Vriende van Afrikaans (VVA), ATKV-Crescendo, die ATKV-tak Sommer Net Ons in Pacaltsdorp, André Hendricks (ATKV-Kopskuif), Anzil Kulsen, asook Ebeth Wilson, ATKV-streeksbestuurder: Oos- en Noord-Kaapstreek, ingesluit.
Hulle het ’n uiteenlopende program aangebied wat Doen en Leer-werkswinkels, kreatiewe skryfwerkswinkels, liedjieskryfwerkswinkels en musiekadministrasie, boeketrommeloorhandigings, boekgesprekke vir laerskoolleerlinge, koffieskuifsessies en ’n Ommietafelgesprek ingesluit het. Só het die Karoo-toneelfees vanjaar veel meer as net ’n verhoog vir toneel geword – dit was ook ’n ruimte vir opleiding, gesprekke, kreatiwiteit en die ontwikkeling van jong talent.
Vanjaar was die vierde keer dat die fees plaasgevind het, terwyl die Victoria-Wes Gekombineerde Skool die gasheerskool was. Wat in 2023 as ’n relatief klein plaaslike inisiatief begin het, het oor vier jaar gegroei tot ’n gevestigde kultuurgeleentheid wat skole en jong mense van verskillende gemeenskappe en provinsies na Victoria-Wes lok.
Volgens Brandon Erasmus, voorsitter van die Karoo-toneelfees en voorsitter van die ATKV-gesinstak in Victoria-Wes, lê die hart van die fees juis daarin dat dit oor veel meer as kompetisie gaan.
“Toneel is tog ’n maatstaf vir groei. Dit vorm jou as mens en dit vorm identiteit,” sê Brandon.
Vanjaar het 16 skole aan die fees deelgeneem. Die Victoria-Wes Gekombineerde Skool se eie toneelgroep het besonder goed gevaar en onder meer die pryse vir beste akteur en beste ensemble ontvang. Hulle het ook as naaswenner vir beste produksie geëindig en ’n cum laude-beoordeling van 89% ontvang. Die toekenning vir beste produksie het aan die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje gegaan, maar die uitslae vertel net ’n gedeelte van die storie.
Die feesprogram is doelbewus só saamgestel dat jong mense nie bloot op ’n verhoog verskyn en weer huis toe gaan nie. ’n Gemengde voorprogram het onder meer skryfwerk, musiekontwikkeling en werkswinkels ingesluit, voordat die hoofprogram met die skole en hul produksies gevolg het.
Verskillende afdelings en vertakkings van die ATKV het saamgewerk om dié breër ontwikkelingsruimte moontlik te maak. Daar was betrokkenheid vanuit onder meer die VVA-span en ATKV-Crescendo – ’n goeie voorbeeld van hoe taal, toneel, musiek, skryfwerk en gemeenskapsontwikkeling binne een fees bymekaar kan kom.
Brandon sonder veral Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA, se rol uit: “Baie dankie vir Chareldine. Sy het my kom lig en sy het soveel van die afdelings van die ATKV ingebring om van die fees ’n sukses te maak. Dankie dat jy altyd in ons droom glo.”
Chareldine sê die ATKV se betrokkenheid moet juis verstaan word binne ’n veel groter prentjie.
“Die ATKV omarm alle aspekte van Afrikaans, maar ook veeltaligheid. Ons is amper 100 jaar oud en hou aan werk om ons voetspoor en Afrikaans te verbreed. Vandag is ons ’n Afrikaanse kultuurtuiste met 70 000 hooflede, 30 kultuurprojekte per jaar wat 55 000 inskrywings genereer en meer as 22 000 mense regstreeks beïnvloed.”
Volgens haar lê die waarde van die organisasie se werk nie bloot in die aanbied van projekte nie, maar in wat binne gemeenskappe en onderwysruimtes moontlik gemaak word.
“Vir die ATKV is ’n fees soos hierdie meer as net kuns en kultuur. Dis ’n ruimte waar moontlikhede ontstaan, ontgin en versterk word. By die ATKV word jy bemagtig om in jouself te belê, in jou toekoms te belê en die verskil te wees. Ons moet hande vat. Die Afrikaanse taalgemeenskap is klein – ons kan nie teen mekaar werk nie. Daar is een pad, en dit is saam met mekaar.”
Ebeth Wilson beklemtoon die besonderse rol wat drama in die ontwikkeling van kinders speel.
“Daar is min dinge wat vir leerders soveel dissipline leer soos drama. Dit leer vaardighede wat jy nie noodwendig in ’n klaskamer leer nie,” sê sy. Sy het ook die onderwysers en regisseurs bedank vir die ure se toewyding wat dikwels lank voor die verhoogligte aangaan, begin.
Die fees kon volgens Brandon ook nie sonder sy vennote en ondersteuners plaasvind nie. Benewens die ATKV het die Noblesfontein-windplaas, FillisITC, ATKV-Hartenbos en die Noord-Kaap Erfenispioniers, wat pryse geborg het, ’n belangrike bydrae gelewer. Plaaslike ondernemings, organisasies en gemeenskapslede het verder met geld, produkte, dienste en praktiese hulp ingespring.
Vir Brandon is die droom nou om Victoria-Wes se plek op die nasionale kultuurkalender verder uit te bou.
“Ek sien die Karoo-toneelfees uiteindelik as ’n toonaangewende skoolteater- en kultuurfees in die Karoo, met ’n nasionale profiel. Ek wil hê Victoria-Wes moet ’n plek word waar skole weet hulle kan kom om nie net aan ’n kompetisie deel te neem nie, maar om werklik blootstelling, opleiding en ontwikkeling te kry.”
Want in ’n dorp soos Victoria‑Wes beteken ’n verhoog dikwels veel meer as net ’n verhoog – dit kan die eerste plek wees waar ’n kind ontdek dat hul stories ook die moeite werd is om gehoor te word.