Ken en bestuur só jou kind se emosies
Jy het dit seker al beleef. ’n Peuter wat nie sy sin kry nie en ’n kabaal opskop. Met ’n rooi gesiggie, trane wat oor die wange loop en al skoppende en skreeuende op die grond is dit die meeste ouers se ergste nagmerrie.
By Abbasorg, die sosiaal-maatskaplike verantwoordelikheidsprogram van die ATKV, poog die personeel om ouers by te staan met hulle kind se vroeë ontwikkeling en om as’t ware hulle kind se emosies te verstaan en te bestuur.
AbbAsorgsentrums regoor die land doen daagliks wonderlike werk onder kinders en het ten doel om ’n veilige omgewing te skep waar kinders gehalteopvoeding en -versorging kan ontvang.
Maar hoe gemaak as jy met ’n klein rakker sit wie se emosies wipplank ry?
“Die eerste ding wat ouers moet doen, is om hulle eie emosies te reguleer,” sê Marita Rademeyer, ’n kindersielkundige van Pretoria.
“As ’n ouer byvoorbeeld geïrriteerd is, gaan kinders ook emosioneel reageer. Jonger kinders mag dalk angstig of klouerig wees, terwyl ’n adolessent sy eie irritasie sal toon of grense sal toets.”
Volgens haar vind sy dikwels dat ouers met kinders se gedrag sukkel waar die oorsaak eintlik in die ouer se wêreld gesetel is.
“Ouers wat baie angs weens die pandemie ervaar, kan verwag dat hulle kinders baie vrese sal ervaar, wat tot probleemgedrag kan bydra. Dit is baie belangrik dat ouers ’n gesonde uitlaatklep vir hulle emosies vind.”
Sy sê ouers is gewoonlik meer gefokus op hulle kinders se gedrag eerder as op hulle eie emosies.
“Jong kinders kan veral optree op maniere wat moeilik is om van sin te maak.
“Die kind kan ’n tantrum gooi omdat hy nie sy sin gekry het nie, maar hy kan ook oorweldig voel deur te veel stimulasie in die omgewing, of hy kan angstig wees omdat hy van mamma moet skei. Of hy kan aanvoel dat mamma afgetrokke is en hy probeer om haar onverdeelde aandag te kry.”
Sy sê ouers fokus ook baie daarop om ’n kind te straf as hy iets verkeerd gedoen het, maar ouers moet eintlik ’n kind lei in die gedrag wat hulle van die kind verwag.
“’n Meer positiewe benadering tot dissipline werp meer vrugte af. Byvoorbeeld as Jannie nie sy tande geborsel het nie, kry hy raas. Dit werk beter om vir jou kind te sê: ‘Dis tandeborseltyd, kom ons kyk of jy kan borsel vir so lank as wat die uurglasie vat om uit te loop’.
“Dit voel na meer werk vir ouers, maar hierdie benadering lei tot aanleer van gewenste gedrag wat dan by kinders ’n gewoonte word.”
Vir meer inligting oor die werksaamhede van ATKV-AbbAsorg klik hier. AbbAsorg fokus op die voorskoolse ontwikkeling van kleuters – spesifiek diegeaffekteerde voorskoolse kind in die ouderdom van 3 tot 6 jaar oud. Kinders geaffekteer deur armoede, MIV/vigs en ander maatskaplike probleme.
Het jy geweet jou bydrae – klein of groot – kan vir kleuters die geleentheid gee om die fondament te lê vir ’n beter toekoms. Ondersteun vandag nog die ATKV se Woekerfonds. Klik hier.