Kinderboeke in die kollig by die RSG/ATKV-vierkant
Om ’n kinderboek te skep, verg ’n ryklik verweefde proses waarin verskeie fasette – van die eerste vonk van ’n skrywer se verbeelding en die treffende kleure en lyne van die illustrasies, tot die noukeurige samestelling deur die uitgewer – bymekaarkom om towerwêrelde vir jong lesers te ontsluit.
Tydens vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees het Christelle Webb-Joubert, aanbieder van onder meer RSG se Skuif nader, by die RSG/ATKV-vierkant met ’n paneel bedryfsrolspelers gesels.
Tydens hierdie gesprek, waarin die volle spektrum van die kinderboekbedryf ontrafel is, is daar diep besin oor die krag van verbeelding, die impak van illustrasies en waarom lees die grootste geskenk is wat ’n ouer aan ’n kind kan gee.
Riana Scheepers
Riana het bekendheid verwerf in talle genres, insluitend teaterwerk soos haar stuk Vivaldi en die vondeling wat by die fees te sien was. Sy erken dat sy aanvanklik kinderboeke begin skryf het nog voordat sy self kleinkinders gehad het, met die blote gedagte dat daar iewers boeke vir hulle moet wees teen die tyd dat hulle opdaag. Sy skryf immers net dit wat sy self graag sou wens om te lees.
“Ek is net só versot op dit wat in ’n kind se kop aangaan. Daai wonderwêreld wat in ’n kind onder sewe se kop bestaan is waarvan ek hou. Hulle kan nog droom; hulle het nie allerhande dinge aan hulle nie. Soos my ouma gesê het: ‘Hulle het nog die hemel in hulle oë.’”
Volgens Riana is kinderlesers baie meer opgewonde as volwasse lesers. Die fantasiewêreld is van kardinale belang vir ’n kind se ontwikkeling. Dit leer hulle nie net om kreatief en uit die boks te dink nie, maar rus hulle ook toe om latere lewensprobleme as volwassenes die hoof te bied.
Vir Riana is die hele wêreld vol stories. Haar eie grootwordjare op die platteland was ver van tradisionele Europese sprokies met prinsesse in koetse af. Dit het tot die skepping van een van haar bekendste karakters, Wilde Willemientjie, gelei – vernoem na haar oupa se liefdesnaam vir haar.
Dit blyk dat konvensionele, fyn en ideale feetjies selde by Riana se smaak gepas het. Dit het gelei tot een van haar mees geliefde reekse oor Christelientjie – ’n feetjie wat gegrond is op ’n dogtertjie met Downsindroom. Christelientjie is nie fyn nie; sy is plomp en lomp, het hoogtevrees, sukkel soms met haar balans en spraak, maar besit onwrikbare deursettingsvermoë as die sonskynfeetjie van die Grootrivier.
Vir aspirantskrywers het Riana eenvoudige raad: Wees oorspronklik, hou ’n spesifieke, lewende lesertjie in jou kop, en moenie bang wees om die verbeelding vrye teuels te gee nie.
Wendy Maartens
Tydens die voortsetting van die gesprek het Wendy Maartens aangesluit by Riana oor die belangrikheid van die verlede, volksverhale en legendes. Vir haar is die skryf van boeke – veral bundels – ’n hartsaak.
“Ons het respek vir ’n bundel. Dis vir my asof ’n bundel net langer op ’n rak bly leef en ek sê dit met respek teenoor alle skrywers. Dis asof ’n mens ’n enkelboek gouer uithaal om weg te gee of te verkoop, maar ’n mens dink twee keer voor ’n bundel weggemaak word.”
Wat die toekoms van lees betref, is Wendy glad nie bekommerd nie. Sy glo dat die mens gebore word met ’n ingebore, oer-DNS-behoefte om te “ontsyfer”; om te griffel en hul identiteit in geskrewe merke te vind – of dit nou op papier, klip of in die sand is.
“Tegnologie mag mense tydelik op ’n sylyn dwing, maar die basiese behoefte om te lees en stories te interpreteer, bly onveranderd,” glo sy.
Sy benadruk egter dat ouers ’n deurslaggewende verantwoordelikheid het. Kinders moet hul ouers sien lees en die vreugde van boeke beleef. Lees en voorlees is vir haar die beste vorm van koestering. Sy maak dit duidelik dat lees ’n kwessie van prioriteite is: om te beweer daar is nie geld vir boeke nie, maar wel vir kitskos, skep ’n kulturele armoede wat kinders van hul regmatige verbeeldingserfgoed ontneem.
Die oggend se gesprek het ook insette van Shawna-Leze Meiring, besturende redakteur van kinderboeke by Penguin Random House Suid-Afrika, gebied oor die proses waardeur ’n kinderboek van ’n aanvanklike idee tot ’n gedrukte publikasie ontwikkel. Martinus van Tee, bekende illustreerder en outeur van verskeie kinderboeke, waaronder The Witching Kitchen, het sy perspektief as skrywer en kunstenaar gedeel. Tydens die gesprek het hy illustrasies van die sprekers geskep en later ook as karikatuurkunstenaar opgetree tydens die langtafel, die tradisionele afskopgeleentheid van die Woordfees.
Of dit nou deur Riana se kinderboeke of die kinderverseboek is wat sy saam met Suzette saamgestel het om nuwe stemme ’n platform te gee, of Wendy se passie vir volksverhale en bundels – beide skrywers bly bakens van hoop vir die Afrikaanse kinderboek.