Kinders se ogies blink danksy kleuterskole

Die kleuterskole Bana ba Lesedi en die Ennis Thabong Preschool by Hartbeespoort vertel nie die “sad storietjie van ’n plaaslike gemeenskap en ’n paar mense wat probeer om ’n pleister op hul lot te plak nie”.
“Dié kleuters wat hier skoolgaan, kom dalk uit die mees behoeftige huishoudings in dié omgewing, maar een ding is seker hulle kry die beste onderrig.”
So gesels Amelia van der Walt oor die twee skole waarvan sy die beskermvrou en mentor vir die afgelope tien jaar is.
Die Ennis Thabong Intermediate School, (waar die Ennis Thabong Preschool begin is), is in 2010 saam met Doxa Deo Skool Xanadu (nou PLG Hartbeespoort Academy) as die wenners van die ATKV-Handevatkompetisie aangewys. ’n Kompetisie waar ’n skool uit ’n meer bevoorregte gemeenskap ’n opbouende projek saam met en ten bate van ’n skool uit ’n minder bevoorregte gemeenskap aanpak.
Agt jaar later staan die Ennis Thabong Preschool, wat begin is met drie skeepsvraghouers (met die hulp van die Cargo of Dreams-organisasie) 70 kinders sterk. En nou, danksy die ATKV-Handevatkompetisie het die Nasionale Loterykommissie ’n bedrag van R563 000 bygedra om nog ’n skooltjie, Bana ba Lesedi, vir die Sunway-gemeenskap te open om ’n groter verskil te maak.
Die droom van ’n tweede skooltjie het vlerke gekry toe ’n plaaslike besigheid, Shadeport Systems, van hul eiendom teen ’n huurkoste van R0 vir die volgende tien jaar beskikbaar gestel het.
In 2017 is ’n ou fabriek op dié terrein in ’n kleurvolle voorskoolse kindersorgsentrum verander.
Met die Lotto-geld is daar ook behoorlik gewerskaf. Ablusiegeriewe, ’n kombuis, klaskamers, afdakke, ’n reuse-sandput en ’n voetgangersbrug is gebou. Grondwerke moes gedoen word om die terrein funksioneel en veilig te maak. ’n Watertenk, meubels, kombuis-, speel- en opvoedkundige toerusting is ook aangekoop.
Die skooltjie wat in Januarie 2018 sy deure geopen het, het met agt kinders begin en spog nou ses maande later met 100 woelwaters tussen die ouderdomme van twee en ses jaar.
“Die verskil wat dié twee skole in die lewe van die kinders maak, is ongelooflik,” vertel ’n trotse Amelia.
“Ek kan met vrymoedigheid sê dat hierdie kinders kry private onderrig met ’n benadering wat fokus op ’n gesonde siel. Met die minimum kry ons dit reg om ’n optimale situasie te skep. Ons glo dat alle kleuters behoeftes het – arm en ryk – so die uitdaging is om in hul spesifieke behoeftes te voorsien met doelgemaakte omgewings en benaderings.”
Die Ennis Thabong Preschool en Bana ba Lesedi sal egter nie vandag wees wat dit is as dit nie vir Lorraine Maake was nie.
Amelia sê dat hulle aan die heel begin vir Lorraine genader het omdat sy as gemeenskapsleier waardevolle insig kon lewer oor wat die gemeenskap nodig het en hoe om die projek suksesvol te loods.
Dit was egter nie lank nie voordat Lorraine, wat nog altyd ’n hart vir vroue en kinders gehad het, ’n perfekte tuiste in die projek gevind het.
“Kinders het spesiale aandag vroeg in hul lewens nodig. Van die kinders het mismoedig hier aangekom en deesdae blink hul ogies. Ons gee vir hulle sorgsame onderrig, dissipline en help hulle om hul rol in die wêreld te verstaan.”
Amelia vertel dat sy en Lorraine saam geleer het wat in Suid-Afrikaanse gemeenskappe werk en wat nie.
“My hoop is dat hierdie skole kan voortgaan om kinders te help om die struikelblokke van armoede te oorkom. My droom is dat die stories oor die verskil wat ons maak, net meer en meer sal word.
“Bana ba Lesedi en die Ennis Thabong Preschool is ’n plek van hoop vir die onderwysers en die kinders. Elke dag as ek met hierdie kinders werk, herinner ek myself daaraan dat wanneer jy die hart van ’n kind aanraak, raak jy ook God se hart aan.”
Vriende van Bana ba Lesedi waar sonder hierdie projek nie sou kon plaasvind nie is die Doxa Deo Hartbeespoort-gemeente (volgehoue ondersteuning aan Bana ba Lesedi, onder meer salarisse van die personeel) en SABRIX (skenkings van stene en half-stene het bouwerk 30% goedkoper gemaak). Spur het ook danksy Shadeport speeltoerusting geskenk.
* Die Nasionale Loterykommissie maak staat op fondse uit die opbrengs van die Nasionale Lotery waarmee die kommissie ’n verskil in die lewens van alle Suid-Afrikaners, veral diegene wat kwesbaar is, wil maak en die volhoubaarheid van die begunstigde organisasies verseker. Fondse word versprei aan geregistreerde en kwalifiserende nie-winsgewende organisasies op die gebied van liefdadigheid; kuns, kultuur en erfenis; sport en ontspanning. Besoek gerus www.nlcsa.org.za om meer te lees oor die projekte wat deur die Nasionale Loterykommissie befonds word.