KKNK 2024: Doepa vir die siel
Afrikaans sing, speel toneel en dans, en van 23 tot 31 Maart 2024 gaan Afrikaans behoorlik by die jaarlikse KKNK op Oudtshoorn gevier word – en die ATKV gaan dit beslis nie misloop nie. Die organisasie is trots op hul verbintenis met hierdie kunstefees, wat vanjaar al vir die 28ste keer gehou word.
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, vertel dat die organisasie al sedert die KKNK se ontstaan in 1995 by die fees as borg en strategiese vennoot betrokke is.
“Gemeenskapsontwikkeling deur middel van die kunste en die skep van platforms vir jong talent was vir ons oor die jare ’n hooffokus,” sê Gerrie.
“Dit is die ATKV se missie om proaktief en op ’n volhoubare wyse om te sien na die diverse taal- en kultuurbehoeftes van die Afrikaanssprekende gemeenskap, en kunstefeeste bied die ideale platform hiervoor.”
Volgens Gerrie is die kunste fundamenteel tot ons bestaan: Dit verryk en inspireer ons, dit bevorder kreatiwiteit en verenig gemeenskappe.
“Daar is min plekke waar Afrikaanse kultuur, kunste en kreatiwiteit so gedy soos op die verhoog, in diep filosofiese gesprekke oor boeke, selfs net wanneer ’n mens tussen stalletjies dwaal.”
Vanjaar se fees bied weereens vir jonk en oud ’n kunste-ervaring van hoogstaande gehalte,” sê hy.
Kom kyk hoe die ATKV vanjaar by die KKNK gaan woel:
Kry vir jou ’n ‘lucky’ pakkie
As jy graag in die teater verras wil word, het die Lucky Pakkie-teater iets vir almal se smaak. Dit werk nes die lucky packets waarmee ons grootgeword het en nes doerietyd gaan jy ook deur die inhoud daarvan verras word. Verwag 12 Lucky Pakkies-optredes met elemente van drama, komedie, kabaret, sang, mimiek en ander verrassings. Elke Lucky Pakkie bestaan uit vier uiteenlopende vertonings van 15 minute elk. Daar is drie verskillende Lucky Pakkies:
– Melkbaard word daagliks om 11:00 aangebied en beloof gesinsvriendelike teater.
– Sagtebaard word daagliks om 14:00 opgevoer en ouerbegeleiding word aanbeveel.
– Hardebaard is daagliks om 17:00 op die planke en het ’n ouderdomsbeperking van onder-16.
Die Lucky Pakkie-vertonings gaan elke dag in Baron van Reedestraat voor die Spur aangebied word. Kaartjies is by die tente, maar is ook via Webtickets beskikbaar.
Vermaak vir die kinders (en vir die kind in jou)!
Die Klein KKNK-teater is ’n spesiale, goed toegeruste teatertent wat vanjaar in die Feesmark aangetref kan word. Die goeie nuus is dat toegang tot hierdie besonderse teatervertonings gratis vir alle Feesmark-kaartjiehouers is. Plek in die teater is egter beperk en sodra vertonings vol is, moet Ma en Pa en die kleingoed vir ’n volgende een teruggaan.
Die Klein KKNK-teater stel kinders van alle ouderdomme bloot aan dit wat teater waarlik is. Daar word tot en met drie kinderteaterproduksies daagliks aangebied – en dit bied ook heerlike ontsnapping en vermaak vir volwassenes. Verwag ook boekvoorlesings deur bekendes, poppekasoptrede en speletjies. Maak ’n knoop in jou oor om die ATKV se eie Dinosourusse kan nie lees nie op die planke te ervaar. Emmie en haar vreemde oupa Bas het ’n yslike probleem, want daar is ’n dinosourus in haar slaapkamer. Dié kinderteaterstuk vermaak nie net kinders met hul kleurryke karakters en heerlike liedjies nie, maar ouers sal net so lekker kyk. Dit is uit die pen van die teatermaker en aktrise, Ilne Fourie.
Ondersteun die jeug
Hoërskoolleerders kry die kans om hul ster by die KKNK se Jeugkunstefees te laat skitter. Die ATKV vat vanjaar weer hande met die Wes-Kaapse onderwysdepartement om hierdie geleentheid moontlik te maak. Die deelnemers kry ’n kans om die kunste te ervaar, om aan werksessies en gesprekke deel te neem en om ook nuwe vriende te maak. Ons sien uit daarna om te sien hoe ’n volgende generasie Afrikaans op die planke laat leef.
En wat is die ATKV se feesvoorskrif?
Neem:
- 1 groot lepel KKNK 2024
- 1 medisynemaat toneel
- 1 medisynemaat musiek
- 1 medisynemaat kuns
- 1 medisynemaat stalletjiebesoeke
- 1 medisynemaat Klein-Karoo-ervaringe
Meng alles saam met ’n opskeplepel Afrikaans en siedaar! Jy het ’n kuur vir elke kwaal.
Kry die volledige feesprogram aanlyn by www.kknk.co.za. Kaartjies is via Webtickets beskikbaar.