KKNK 2025: Kuierkol bied iets vir almal

Vanjaar se 29ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), geborg deur Absa, het ’n heerlike nuwe formaat vir ’n ou gunsteling verwelkom.
Die Kuierkol, ’n vennootskap tussen die ATKV en RSG, is vanjaar vir die eerste maal in Baron van Reedestraat gehuisves.
Feesgangers kon heerlik in die koelte ontspan, terwyl regstreekse uitsendings van Eloise Cupido en Martelize Brink luisteraars regoor die land elke oggend en middag betrek het.
Daar was ook blitswerkswinkels oor radiodramas met Estel de Beer en optredes deur verskeie kunstenaars, onder andere Petronel Baard, Selby Williams, Gerhard Steyn, Karin Kortje, Jak de Priester en die KZN Midlands Youth Choir.
Komediante Yaaseen Barnes en Stuart Taylor het tydens die komedie-segment die lagspiere geoefen gehou.
Die storievoorlesings en gesigverfaanbieding was baie gewild onder die jongspan. Bazoo die bergskilpad en Tippie die olifant het kom kuier en kinders het saam met dié diertjie-figuurtjies vir foto’s poseer.
Besoekers kon ook ’n midweek-wegbreek vir vier mense na ’n ATKV-oord van hul keuse wen.
Die Kuierkol was daagliks van 09:00 tot 19:00 oop en het gratis vermaak gebied.
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, sê: “Vir meer as twee dekades het RSG uitgesaai op die CP Nel-museum se ‘voorstoep’ in ’n baie spesifieke formaat. In gesprekke oor die vennootskap tussen die KKNK, RSG en die ATKV, was dit duidelik dat die ATKV en RSG iets anders wil aanbied.
“Dit was met die nuwe vennootskap ’n gulde geleentheid om hierdie aanbod by die fees af te stof. En só is die ATKV en RSG se Kuierkol gebore – nie nét met RSG se immergewilde regstreekse uitsendings nie, maar ook ’n verskeidenheid inhoud deur die vennote – van werkswinkels tot gewilde musiekoptredes.
“Die ambience was ook wonderlik en die vennote het moeite gedoen om dit ’n heerlike oase vir feesgangers te maak.
“Die Kuierkol bied ook ’n wonderlike feesgees gedurende die dag en vroegaand, en dit is ’n plek waar mense kan ontspan en vermaak en ingelig kan word. ’n Gratis aanbod soos die Kuierkol is slegs moontlik met finansiële ondersteuning, daarom is ons dankbaar vir die ATKV se samewerking wat saam met die KKNK die teenwoordigheid van RSG en die Kuierkol moontlik gemaak het.”
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, sê dat die ATKV ’n organisasie vír mense en óór mense is.
“Dit is vir die ATKV van kernbelang om in mense te belê. Elke projek wat ons loods, het een doel voor oë: Kom ons gee vir jonk en oud ’n platform – ’n geleentheid om te groei en hul kreatiwiteit uit te leef, en op die koop toe in Afrikaans.”
Behalwe vir die ATKV se betrokkenheid by die Kuierkol, was die ATKV-Boeke-oase ook ’n groot sukses.
“Ons besef maar te deeglik watter groot rol boeke en letterkunde in die ontwikkeling en vooruitgang van ’n nasie speel, want dit beïnvloed ons denke, maak ons wêrelde groter en maak ons harte oop,” het sy gesê.
Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder, sê: “Dit was vir RSG ’n groot voorreg om die heel eerste Kuierkol saam met die ATKV aan te bied. Om daagliks met ons luisteraars te kon skouers skuur, talent te ondersteun, gesprekke te hê en deel te vorm van die groter KKNK, was voorwaar ’n baie groot lekkerte.”
Amoré sê RSG was baie opgewonde om weer terug te wees by die fees en wou vir sy luisteraars vermaak op ’n vars wyse aanbied. Uiteindelik het die omvattende program perfek aangesluit by vanjaar se KKNK-tema, “Al die ietse”.
Mercia gaan akkord en beklemtoon die ATKV se toewyding tot die kunste. “Iemand het eenkeer gesê: ‘Waar daar geen menslike konneksie is nie, is daar geen deernis nie. Sonder dinge soos deernis, ’n gemeenskap, toewyding, goedheid en menslike begrip, verbrokkel vrede.’
“By die ATKV voel ons passievol oor die rol wat die kunste kan speel in die kweek van onderlinge begrip en samehorigheid.”