Kleingoed kry hulle eie ATKV-Inkstories

Dit is meer as ’n jaar gelede wat ons lewe onherroeplik verander is en talle projekte aanlyn moes plaasvind. Nou, vir die eerste keer sedert die inperking gaan ATKV-Inkstories in die Kaap aangebied word en hierdie keer fokus die ATKV op die klein boekwurms.
In 2018 het die ATKV se taalafdeling ’n nuwe projek, Inkstories, verwelkom. Hierdie projek het ontstaan om die liefde vir Afrikaanse letterkunde te bevorder. ATKV-Inkstories bied ’n platform waar enigiets van digbundels, romans, niefiksie, musiek en jeugverhale bespreek word.
Met die volgende ATKV-Inkstories gaan daar op kleuterboeke gefokus word.
“Dis ons eerste ATKV-Inkstories waar kleuters ons eregaste is,” sê Mandie Ehlers, projekorganiseerder.
Die skrywer Bianca Flanders gaan by die geleentheid haar immergewilde Prinses Pampoenpit vir die kleingoed voorlees.
“Stories is magic,” sê Bianca.
“Stories verander die manier hoe ons dink en voel. Stories het die krag om die wêreld te verander.
“Stories leer kinders om groter te droom. Om daardie kreatiewe kant van hulle brein te gebruik. Dit leer kinders die emosionele intelligensie om ’n beter mens te wees.”
Daar gaan ook oor kleuterboeke oor die algemeen gesels word en die uitdagings daaraan verbonde.
“Ons gaan gesels oor die boeke waarvan Bianca gehou het as kind. Ook oor haar inspirasie vir die boek,” sê Mandie.
Die geleentheid vind op 5 Junie om 11:00 by die Protea Hotel by Marriott, Stellenbosch, Technopark plaas. Klik hier om jou plek te bespreek.
“ATKV-Inkstories is die platform waar jy jou liefde vir Afrikaans kan uitleef en jou taal-en-kultuurtenk kan volmaak.
“Die hele gesin is welkom. Jy kan deel van die verskil wees deur hierdie geleentheid by te woon en só jou kleuter lief te maak vir boeke en lees,” sê Mandie.