Kom praat saam met die ATKV oor moedertaal
In die kakofoniese kolonie wat ons in die 21ste eeu bereis, is taal toenemend ’n kerninstrument, veral in die lig gesien daarvan dat ’n mengelmoes van nagenoeg 7 000 tale wȇreldwyd gepraat word.
In die bewaring en bevordering van tale, staan moedertaal en onderrig daarin sentraal. Ons eie nasievader Nelson Mandela het raakgevat hieroor: “If you talk to a man in a language he understands, that goes to his head. If you talk to him in his language, that goes to his heart.”
Moedertaal slyp ons identiteit en selfwaarde. As ’n organisasie wat Afrikaans as moedertaal bevorder, fokus projekte van die ATKV deurlopend op die uitbou van die taal. Dit sluit in die paneelbesprekingsreeks, Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses.
Die tweede gesprek in dié reeks word op 26 Oktober 2023 by Peachy, 44 Stanley in Johannesburg gehou. Multimediapersoonlikheid Lundi Khoisan, musikant Deon Meiring en Mpumi Rakhudu van die Afrikaanse Hoër Seunskool en algehele wenner: ATKV-Redenaarsfinaal 2023, Afrikaans Addisionele Taal, sal saampraat en vertel oor hoe moedertaal ’n rol speel om ’n jongmens te lei tot meertalige sukses.
Magon Mouton, bestuurder: Jong volwassene-ontwikkeling en Innovasie by die ATKV, sal die gesprek fasiliteer. Volgens haar is Suid-Afrika ’n pragtige smeltpot van kulture, tale en tradisies. “Met meer as 11 amptelike tale en ’n ryk kulturele erfenis, bring ons diverse samelewing rykdom en groot uitdagings, veral vir jong volwassenes wat hul weg moet vind binne ’n multikulturele, veeltalige omgewing.”
Een van die sleutels tot die suksesvolle navigasie hiervan is moedertaalonderrig op tersiêre vlak of meer informele platforms. “Moedertaalonderrig speel ’n kernrol in die bewaring van kultuur en identiteit, asook in die bevordering van selfvertroue en eiewaarde. Dit bied ’n fondament vir ’n blink toekoms in ’n multikulturele samelewing.”
Voorts verseker moedertaalonderrig dat jong volwassenes kan kommunikeer en verstaan in die taal wat hulle van kleins af leer, aldus Magon. Dit verbind hulle met hul onderskeie gemeenskappe en help kultuur ontwikkel.
Die unieke uitdaging van jong Suid-Afrikaners is om hul moedertaal te help bewaar en terselfdertyd hul plek te vind binne ’n multikulturele en veeltalige samelewing. Dit kan lei tot ’n identiteitskrisis en verwarring, veral wanneer geleenthede vir moedertaalonderrig ontbreek.
Die rol van organisasies soos die ATKV hierin is belangrik, benadruk Magon. “Vir die ATKV is die bevordering van moedertaal ’n sleutelfaktor tot sukses. Moedertaalonderrig strek wyer as net opvoeding. Die werwing en verwerking van kennis vind ook daarin plaas.”
Die goeie nuus is die groeiende bewustheid onder jong volwassenes oor die belangrikheid van moedertaalonderrig, ook in die bevordering van kulturele diversiteit en begrip. “Dit lei tot groter bereidwilligheid om mekaar se tale en tradisies te waardeer en te respekteer,” bevestig Magon.
“Om in ’n veeltalige omgewing te floreer, kan intimiderend wees, maar bied ’n geleentheid vir groei en horisonne verbreed, wat jong volwassenes én die samelewing verbeter.”
Volgens Magon is die behoud van moedertaalonderrig en die bevordering van kulturele diversiteit ’n belofte aan die toekoms van Suid-Afrika waarin jong volwassenes ’n rykdom van tale, tradisies en geleenthede kan omarm en saam bou.
Sy meen dis ons plig om die bevordering van moedertaalonderrig te ondersteun en te beskerm. “Ons moet die rykdom van ons taal en kultuur as ’n gawe erken en dankbaar koester. Dis ook ’n erfenis aan die volgende generasies.”
Multimediapersoonlikheid Lundi Khoisan is beslis daaroor dat Afrikaans die taal is waarmee sy mense op reis neem én waarin sy haar identiteit vind. “My moedertaal is dít waarin ek skep en stories vertel. Moedertaalonderrig is belangrik vir die voortleef van die kunste en skeppings van ons hart en siel.”
“My liefde vir my moedertaal is so ingewikkeld soos my liefde vir my huis,” verklaar sanger en liedjieskrywer Deon Meiring.”Dis waar ek die gemaklikste voel, maar ek weet ek kan nie my hele lewe net daar deurbring nie. Tog bly dit een van my mees basiese behoeftes.”
Dit laat Deon wonder oor moedertaalliefde. Hy kan haar nie net van een kant af ken nie, wis hy. “Nes die meeste kinders was ek al verleë as my moedertaal my by die skool aflaai.”
Vandag is hy steeds dankbaar dat “sy my steeds onvoorwaardelik gehelp het met my skoolwerk”. Hy deel ook sy moedertaal met baie mense, van wie hy kan verskil óf saamstem. “Selfs met mense wat haar nie eintlik ken nie. Dis egter juis my moedertaal wat my help om hulle bietjie meer opreg raak te sien.”
Mpumi Rakhudu meen moedertaal is vir baie bloot ’n eerste taal of taaldialek wat ’n persoon praat vanaf geboorte of waaraan hulle blootgestel is binne die kritieke opgroeifase.
Hy glo moedertaal speel ’n kritieke rol in mense se persoonlike en intellektuele ontwikkeling. “Moedertale staan voor as ryk dele van verskeie kulture en identiteite wat mense se erfenis en geskiedenis behou. Dis ’n noodsaaklike deel van ’n individu se opvoeding en vorm die grondslag vir taalvaardighede, begrip en ’n dieper verstaan van die wêreld.”
Belangstellende wat die tweede gesprek in die ATKV se paneelbesprekingsreeks, Moedertaal: Die wegspringplek vir meertalige sukses, op 26 Oktober 2023 by Peachy, 44 Stanley vind bywoon kan RSVP by https://view.forms.app/foreverfriday/moedertaal-2