Komberse teen die koue danksy ATKV-Kultuurkuier

Die ATKV se Kultuurkuier is ’n geleentheid om ATKV-takke van regoor die land byeen te bring om saam as vrywilligers en agente van verandering relevante temas te bespreek en daaroor te besin. Die tema van vanjaar se kuier is “Gemeenskap, Omgewing en Verbintenis – die ankers om te floreer” en die ATKV-takke beoog om tydens die Kultuurkuier inspirasie te put uit gesprekke, werkswinkelsessies en wegbreekgroepe om só verder te bou op die projekte wat hulle reeds in hul gemeenskappe van stapel gestuur het.
Vanjaar se Kultuurkuier vind van 18 tot 20 Julie by ATKV-Goudini Spa plaas en in die gees van Mandeladag het die ATKV besluit om die afgevaardigdes wat die geleentheid bywoon, uit te nooi om komberse saam te bring, wat dan later geskenk kan word aan mense in nood. Hierdie aksie pas in by vanjaar se tema, maar bied ook aan die takke ’n verdere geleentheid om ’n verskil te maak. Meer as 300 afgevaardigdes woon die geleentheid by.
Tarina Schweidler, voorsitter van die ATKV se Wellington-tak, vertel dat die verwoesting wat die Kaapse storms in landelike gebiede rondom Wellington veroorsaak het die geweldige nood aan droë warm komberse onderstreep. Die ATKV-tak Wellington sal die komberse wat ingesamel is, versprei.
“Daar is soveel mense in landelike gebiede sonder vervoer. Dit vat nie baie reën om landelike huise te laat oorspoel nie. ’n Mens kan dalk nie jou hele klerekas weggee nie, maar jy kan iets doen, en dan doen iemand anders weer hul deel.
“Dit is waarom ons dit aan Mandeladag verbind. Dit gaan hier om bloot die regte ding te doen,” verduidelik Schweidler.
“Ek het ’n sagte plek vir bejaardes in landelike gebiede, want hulle is die meeste van die tyd maar die ouerfigure vir hul kleinkinders. Die ouers klim vieruur die oggend op die plase se vervoer en kom eers in die aand terug.
“Intussen reën dit vanjaar so baie in die Kaap dat paaie en huise oorstroom. Die son skyn te min, so wasgoed en beddegoed kan nie droog word nie. Om droë, skoon komberse uit te deel, is die maklikste manier om te help.”
Wellington se ATKV-tak het jare reeds goeie verhoudinge met bejaarde dienssentrums, veral met dié wat plaasgemeensappe bedien.
“Ons tak is sterk en gewillig. Via die netwerke waar ons werk is alles in plek – ledelyste, vergaderplekke en vervoer. Ons gaan beslis eers voor ons eie agterdeur vee.”
Schweidler sê dit roer die hart om te sien hoe gewillig die bejaardes self is om hul beste te gee om hul kleinkinders te help terwyl die ouers werk. Die komberse gaan juis hul hand sterk om die kinders beter te versorg.
“Ons is opgewonde om te sien hoeveel komberse Dinsdag in die Kaap aankom, en dan sal die administrasie inskop om die nood gou te verlig sodat die kinders en hul gesinne warm kan slaap.”
Die ATKV-Kultuurkuier skop Woensdag af met ’n paneelbespreking. Die deelnemers aan die gesprek is Johannes de Villiers (skrywer), Dave Pepler (omgewingskundige en radiopersoonlikheid), Martelize Brink (joernalis), asook Denise Stubbs (van die nie-regeringsorganisasie, Thokozani, en direkteur van Diemersfontein Wyne).
Daarna sal wegbreekgroepe saam besin oor maniere om die land se gemeenskappe beter te dien.