Kompetisie slaan hoenderpoot hok
Om te kan skryf, bly een van die grootste mylpale vir jou graadeentjie. Dit is ’n vaardigheid wat hy reeds in sy eerste jaar op laerskool moet bemeester en wat hy lewenslank gebruik, al is dit ook die eeu van rekenaars. Boonop kry graadeenleerlinge reeds van die eerste kwartaal af punte vir hul skrif. En dit maak sin, want ’n kind se skryfwerk beïnvloed sy suksesbelewing regdeur sy skoollewe.
Ná 43 jaar in die onderwys het Lida Grové, lid van die ATKV-tak Kapaailand, aan ’n manier gedink om leerders aan te moedig om hul handskrif te verbeter. Die uiteinde was die jaarlikse ATKV-Skoonskrifkompetisie vir grondslagfaseleerders van plaaslike laerskole in Ugie en Maclear. Om die druk van onderwysers te verlig, kon leerders se kompetisiedeelname ook vir assessering gebruik word. Volgens Lida is beoordeling volgens die CAPS-dokument gedoen. Al vereiste was dat die leerders ’n stukkie uit hul Afrikaans-leesboekie self moes oorskryf. Dan is dit beoordeel volgens die voorgeskrewe vereistes, soos lettervorming, spasiëring en netheid.
Die graadeenleerders het, afhangende van die tyd van die jaar wat die kompetisie plaasvind, skrifpatrone, hul naam en letters en woorde wat hul reeds bemeester het, geskryf. Hulle moes die skrifpatrone volgens eie insiatief versier.
Elke leerder het ’n sertifikaat van deelname ontvang, wat tydens die jaarlikse skoolprysuitdeling uitgedeel is. Só ontvang elke leerder ten minste iets op die prysuitdeling. Die lekkerste is natuurlik die eerste, tweede en derde pryse wat deur die ATKV geborg is.
“Só word skoonskrif, wat vir sommige leerders ’n uitdaging is, weer ’n opwindende aktiwiteit. En die kompetisie is iets waarna grondslagfaseleerders jaarliks kan uitsien,” sê Lida.
Sluit aan by die ATKV en #weesdieverskil. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.