Koop boeretroos en help ’n kind om skool te gaan

Daar is min dinge so verruklik soos die geur van vars gemaalde koffiebone en min van ons kan ons dag begin sonder ’n heerlike koppie boeretroos.
Nou kan jy steeds jou koppie koffie geniet, maar terselfdertyd jou deel vir liefdadigheid doen en help om ’n kind skool toe te stuur.
Die ATKV se woes lekker koffie Roer! is heerlike koffie (gemaal of bone) en met elke aankope van hierdie koffie kan jy dit vir die ATKV moontlik maak om deur middel van die Skoolhulpfonds hulp aan behoeftige gesinne te verleen.
Die ATKV wil met sy ATKV-Skoolhulpfonds hulpbehoewende leerders help om hulle drome te bewaarheid en hulle bystaan met onder meer skryfbehoeftes, skooluniforms en skoolfooie.
“Daar is nou meer as ooit baie gesinne daarbuite wat uitdagings die hoof moet bied as dit kom by die betaling van skoolfondse en die aankoop van addisionele artikels wat leerders in ’n skooljaar benodig,” sê Elda Kruger, streeksbestuurder by die ATKV.
“Ek was spesifiek op soek na iets wat mense in elk geval koop om sodoende nie individue te vra om meer geld te bestee nie, maar eerder net om hul geld vir ’n lekker koppie koffie vir ’n goeie doel aan te wend.”
SCURO Coffee Crafts in St. Francisbaai vervaardig die koffie en die wins gaan direk na die ATKV-Skoolhulpfonds.
Dit kos R65 vir ’n 250 g pak koffie. Daar is twee geure: Brasiliaanse – bone of gemaal of Suid-Amerika-Afrika vermeng – gemaal.
"Dit behoort elke kind se reg te wees om skool te gaan en ’n fondasie vir ’n blink toekoms te lê. Dié koffie gaan nie net jou dag opkikker nie, maar ook die ATKV se hande sterk maak om met sy ATKV-Skoolhulpfonds hulpbehoewende leerders te help om hulle drome te bewaarheid.”
Om van die Roer!-koffie te bestel skakel vir Elda by 079 996 5299 of stuur ’n e-pos na eldak@atkv.org.za.