Koop boeretroos en red ’n renoster

Aan die einde van 2019 was daar slegs 3 817 renosters in die Krugerwildtuin oor. ’n Totaal van 327 renosters is al in dié park gestroop.
Teen die tyd weet die meeste van ons dat die renoster ’n bedreigde spesie is en dat stropery heel waarskynlik tot die uitsterwing van die besonderse diere gaan lei.
Daarom het ATKV-tak Cum Laude besluit om hulle by renosterbewaring te skoei.
Die tak het met hulle Renoster F-projek jaarliks ’n kalender uitgebring en die opbrengs gaan na die Limpopo Renosterbewaringsgroep.
En nou kan koffieliefhebbers ook hulle deel doen om te verseker dat ons nageslag ook dié magiese diere kan waardeer.
“Ons is baie opgewonde oor ons KoffieKnertsie-insiatief,” sê Louis Reynders, takvoorsitter.
Die tak het hande met Proe’tes Coffee gevat en vir elke pak koffie wat jy koop, word 10% aan die Limpopo Renosterbewaringsgroep geskenk.
Die koffie is ook enig in sy soort.
“Die koffie is onderskeidelik gegeur met brandewyn, maroela en whiskey. Dit bevat geen alkohol nie, maar die reuk en smaak is tipies aan dié drankies. Dit kan in bone of gemaal aangekoop word.”
Die tak verkoop ook handgemaakte leerhandsakke.
“Ons aanlyn winkel verkoop die koffie en leerprodukte. Hoe meer mense koop, hoe groter die fondse wat aan die Limpopo Renosterbewaringsgroep geskenk kan word. Koop ’n leersak, koop koffie – jy kry nie net die produk waarna jy op soek was nie, maar jy maak ook ’n verskil.”
Volgens Louis is dit vir die tak veral belangrik om bewusmaking onder die jeug te skep.
“Hulle is ons toekoms en iewers sit ’n klein Einstein wat met ’n oplossing gaan kom vir renosterstropery. Ons moet hierdie diere bewaar vir ons nageslag.”
Gaan maak gerus ’n draai op https://www.rhinoleatherwork.co.za/.