Koop ’n Afrikaanse boek en maak ’n verskil!
“Ek is mal oor lees. ’n Mens leer wyshede en waarhede, reis en verken kulture, raak sielsryker en verloor jouself in die kompleksiteit van menswees.” Só sê die aktrise Diaan Lawrenson. Diaan is natuurlik nie die enigste een wat mal is oor lees nie. Wat is dan nou lekkerder as om tussen die blaaie van ’n boek weg te raak en in ’n storie te verdwaal, of ver weg gevoer te word? Vir almal wat lief is vir lees en ook besef dat boeke ’n mens op vele maniere verryk, wag daar opwindende nuus. Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer sekere boekwinkels heerlike afslag op Afrikaanse boeke bied. Hierdie spesiale dag val jaarliks op 14 Augustus. Vanjaar is dit op ’n Sondag, en verskeie van die deelnemende boekwinkels het aangekondig dat hulle die aanbod tot Maandag 15 Augustus sal verleng.
Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag is ’n inisiatief van die Vriende van Afrikaans (VVA) ’n afdeling van die ATKV. Chareldine van der Merwe, VVA-projekbestuurder, sê dit is vir haar organisasie heerlik om op hierdie manier die lekkerte van lees en Afrikaanse boeke onder almal se aandag te bring. Die VVA fokus juis op leesbevordering en maniere om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom by kinders te kweek. Die idee vir die Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag het al sowat 18 jaar gelede ’n werklikheid geword, en elke jaar is daar verskeie boekhandelaars wat hieraan deelneem.
“Vir die VVA is hierdie ’n manier om te verseker dat die Afrikaanse geskrewe woord voortbestaan. Ons wil graag hê dat almal, oud en jonk, toegang moet hê tot goeie, heerlike Afrikaanse leesboeke. As die publiek nie die Afrikaanse boekbedryf ondersteun nie, gaan daar later geen nuwe boeke meer wees om aan te koop nie. Hiermee hoop ons om mense aan te moedig om Afrikaanse boeke te koop. Uiteindelik is dit ’n geleentheid waarby sovele baat: lesers kry afslag op die boeke waarop skrywers tantieme verdien en boekhandelaars verkoop meer boeke. Hoe meer boeke verkoop, hoe beter vir die Afrikaanse boekbedryf in geheel,” sê Chareldine.
Protea-boekwinkels is een van die deelnemende boekwinkels met ’n heerlike aanbod: Koop drie Afrikaanse boeke en betaal slegs vir twee. Hierdie aanbod is by alle Protea-boekwinkels landwyd beskikbaar.
Volgens Chareldine was die Koop-’n-Afrikaanse-boek-dag in die verlede altyd baie suksesvol. Daar was beslis ’n toename in die aantal aankopers en Afrikaanse boeke het oral van die rakke gevlieg, sê sy. Vanjaar hoop hulle dat dit weer eens ’n groot sukses gaan wees, ten spyte van moeilike finansiële tye. Sy hoop dat mense nie net vir hulself of hul kinders nuwe boeke sal koop nie, maar ook vir diegene wat dit nie kan bekostig nie.
“Elke aankoop van ’n Afrikaanse boek op 14 Augustus of terwyl die afslag geldig is, is ’n manier om die voortbestaan van die Afrikaanse boekbedryf te verseker. Maak seker jy is deel daarvan,” sê Chareldine.
Die volgende boekwinkels en uitgewers vier saam met die Vriende van Afrikaans en die ATKV Koop-’n-Afrikaanse-boekdag en bied afslag:
Protea-boekwinkels: 25%-afslag op alle Afrikaanse boeke op 15 Augustus. Hulle bied ook ‘n promosie aan waar jy drie boeke koop en slegs vir twee betaal.
- Protea Bloemfontein
- Protea Carlton
- Protea Hatfield
- Protea Potchefstroom
- Protea Cape Gate
- Protea Online: proteaboekwinkel.com
- Protea Stellenbosch
- Protea TUT Church Street
- Protea UJ
- Protea UCT
LAPA Uitgewers:
Ons Vrouemaand-uitverkoping begin 15 Augustus, waar lesers tot 75% afslag op uitgesoekte e-boeke en gedrukte boeke wat deur vrouens geskryf is, kan kry, ter ondersteuning van Koop-‘n-Afrikaanse-boek-dag.