Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vier die geskrewe woord
As daar nou een dag van die jaar is wat boekwurms rooi omkring op hul kalenders, is dit Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.
Met ’n groot aanbod boeke wat jaarliks die rakke tref, is dit soms moeilik om te begroot en almal te koop wat op jou wenslysie is.
Op 14 Augustus vier die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, die Afrikaanse geskrewe woord met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag. Op hierdie spesiale dag kan jy jou verlustig aan winskopies wanneer meeste handelaars afslag bied op Afrikaanse boeke.
“Ons wil die lekkerte van boeke en lees in Afrikaans onder almal se aandag bring, veral omdat daar wonderlike Afrikaanse boeke op die mark is,” sê Shireen Crotz, projekorganiseerder by die VVA.
Van 13 tot 16 Augustus bied Bargain Books 10%-afslag op alle Afrikaanse boeke. Graffiti gee ’n volle 20%-afslag op nuwe vrystellings en topverkopers, terwyl Wordsworth ook 10%-afslag op alle Afrikaanse boeke aanbied.
Dit sluit enige Afrikaanse boek in, hetsy dit nou ’n Deon Meyer vir jouself is of ’n boek deur Jaco Jacobs vir die jongspan.
Vanjaar is die 22ste keer wat dié dag gevier word. Wyle Nolte Smit, destyds ’n lid van die VVA se spitsraad, het in 2004 die idee gekry om skrywers te ondersteun ten einde die voortbestaan van Afrikaanse letterkunde te beskerm en te bevorder. In die proses word uitgewers en boekwinkels se boekverkope ook ’n hupstoot gegee.
“Ons wil die waarde van boeke en lees deur die projek bevorder en help verseker dat daar nog steeds goeie Afrikaanse boeke sal verskyn. Almal kan by hierdie projek baat: lesers, skrywers, boekwinkels en uitgewers,” sê Shireen.
Volgens haar is dit ook vir die VVA belangrik om ’n leeskultuur, veral onder kinders, te kweek.
“’n Kind of ’n mens wat lees, verstaan die wêreld beter, weet die wêreld is veel groter as sy leefwêreld, weet ons is nie almal eenders nie en besef ons dink ook nie eenders oor sake nie. Iemand wat lees het ’n geleentheid om ander mense met respek te hanteer,” vertel Shireen.
Sy spoor mense aan om op dié dag ook boeke te koop vir behoeftiges.
“Daar is baie mense daar buite, veral kinders en bejaardes, wat bitter graag wil lees, maar nie ’n boek kan bekostig nie.”
Sy sê dit is ook ’n wen-wen-dag, want lesers, skrywers, uitgewers en boekwinkels word bevoordeel.
“Lesers kry afslag op boeke waarvoor skrywers tantième verdien. Hoe meer boeke verkoop word, hoe beter vir die totale Afrikaanse boekbedryf, en jy kan deel wees hiervan.”
Shireen benadruk dat lees ontvlugting bied en nie onderskat moet word nie. En dié dag fokus veral daarop om jonger lesers se belangstelling in lees en boeke te bevorder.
Lees verbeter ’n kind se woordeskat, en dit stel jong mense bloot aan nuwe wêrelde, omgewings en kulture. Dis die ideale dag om vir jou kind ’n boek te koop. Wie weet? Dalk stap jy ook met een of twee boeke daar weg!