Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vir 20ste keer gevier
Hoe lekker is dit nie om op jou gunstelingrusbank agteroor te kan sit met ietsie om te drink en jou gunsteling- Afrikaanse boek oop te slaan nie?
Watter genre ook al, fiksie of niefiksie, dit is altyd uiters bevredigend om op jou eie tyd in ’n ander wêreld verlore te raak.
Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, vier op 14 Augustus die Afrikaanse geskrewe woord met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag.
“Die VVA fokus op die bevordering van lees en maniere om ’n liefde vir lees vanaf ’n jong ouderdom by kinders te kweek,” sê Shireen Crotz, projekorganiseerder by die VVA.
“Ons streef ook daarna om die taalarmoede wat tans in ons samelewing heers te verlig en om kinders trots op hul moedertaal te maak.”
Shireen sê die VVA was aanvanklik ’n onafhanklike organisasie voordat dit met die ATKV kragte saamgespan het.
“Daar is in 2014 besluit dat die twee organisasies se visie en missie baie ooreenstem. Dit is dus ons doelwit, ondanks die feit dat boeke nie noodwendig vrylik vir almal beskikbaar is nie, om in samewerking met mekaar ’n leeskultuur te skep en bietjie vir bietjie ons ideaal te bevorder,” sê sy.
Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vier vanjaar sy 20ste herdenking.
“Nolte Smit, destyds ’n lid van die VVA se spitsraad, het in 2004 die idee gekry om skrywers te ondersteun ten einde die voortbestaan van Afrikaanse letterkunde te beskerm en te bevorder,” verduidelik Shireen.
“In die proses help ons ook om uitgewers en boekwinkels se omset ’n hupstoot te gee. Ons vra elke jaar met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag vir uitgewers en boekwinkels om inisiatiewe aan te bied en afslag te gee sodat kinders en oumense wat nie noodwendig boeke kan bekostig nie, minstens die moontlikheid gebied word om boeke te kan koop of lees. Die uitgewers en boekwinkels doen jaarliks werklik baie moeite met Koop-’n-Afrikaanse-boekdag om Afrikaanse boeke op die mark te bevorder.”
Shireen sê boekwinkels landswyd neem aan Koop-’n-Afrikaanse-boekdag deel.
“Graffiti Boeke bied byvoorbeeld 10%- tot 20%-afslag op sy webtuiste vir nuwe vrystellings en topverkopers. Exclusive Books bied verskillende boeke teen baie spesiale pryse. Protea Boekwinkels bied landwyd in al sy takke afslag van 20% op algemene Afrikaanse leesboeke, fiksie en niefiksie vir jonk en oud. CUM-Boeke bied ook landswyd afslag van 20% op Afrikaanse boeke.
“Dus kan jy sien dat verskeie van die grootste boekwinkels in Suid-Afrika in hierdie idee inkoop. Dit is seer sekerlik ook vir hulle ’n wenresep, anders sou hulle nie aan hierdie projek deelgeneem het nie.
“Ons leef in moeilike tye en die ontvlugting wat boeke bied, maak nie saak wat jou omstandighede is nie, moet beklemtoon word. Die lekkerte van lees gee ook ons verbeelding vlerke, veral wat jongmense betref; hulle kreatiewe denke verbeter, hulle brei hulle woordeskat uit en hulle leer van ander kulture en wêrelde.”
Shireen sê die VVA wil verseker dat meer mense, veral jongmense, Afrikaanse boeke lees deur sy projekte soos Koop-’n-Afrikaanse-boekdag uit te brei.
“Ons vlagskipprojek by die VVA is ons boektrommelprojek. Dit is waar ons vir kleuterskole en skole wat goed bestuur word en daar ’n besliste behoefte bestaan ’n boektrommel ter waarde van R9 000 skenk. Die projek word wonderlik ondersteun deur skenkers wat ons baie goedgesind is.
“Die boektrommelprojek stel ons in staat om kinders van jongs af te wys dat daar talle lekker, goeie boeke in Afrikaans beskikbaar is. Dit is ook ’n groot tree in die regte rigting om die Afrikaanse geskrewe woord nog lank te laat voortbestaan, afgesien van die feit dat daar in sowat 58% van Suid-Afrikaanse huishoudings nie vir kinders gelees word nie.
“Ons wil beslis hierdie statistiek laat afneem deur na skole uit te reik. Ons doen dit maar op ons eie beskeie manier, maar soos hulle sê, elke bietjie help!”
Shireen sê dit is noodsaaklik dat kinders se uitgebreide familie daartoe bydra dat ons jeug meer Afrikaans lees.
“Daar word baie keer in ons gemeenskappe gevra: Wie se werk is lees? Dan kom die antwoord: Lees is die onderwyser se werk. Dit is nie die geval nie,” beklemtoon sy.
“Die kind moet al in die baarmoeder aan lees blootgestel word. Dit wil sê die ouer moet vir die kind lees sodat hulle aan die geluide en klanke gewoond raak. ’n Fetus kan reeds op 18 weke gedempte geluide hoor. Kleingoed wat blootgestel word aan lees se woordeskat is later baie beter as diegene wat nie daaraan blootgstel is nie.
“Slegs 14% van Suid-Afrikaners lees aktief omdat talle huishoudings weens onbekostigbaarheid nie toegang tot boeke het nie. As ’n ouer moet kies tussen ’n boek koop of die huishouding aan die gang hou, weet ons wat die keuse sal wees.
“’n Derde van alle ouers vertel ook nie vir kinders stories nie, al is dit so belangrik, terwyl 50% nog nooit vir hulle kinders ’n boek voorgelees het nie. Dit is waar oumas en oupas – en selfs tannies en ooms – ’n rol kan speel.
“Ouers is baie keer by die werk om ’n salaris te verdien, maar in baie van ons gemeenskappe is daar ouer familielede wat kan help om vir kinders te lees. Daar moet nie eers vir kinders voorgelees word wanneer hulle in graad R kom nie, dit moet van kleins af gebeur. Dit help hulle vir die klaskamer sowel as sosiale aspekte van skoolgaan voorberei.
“Onderwysers kan nie altyd die nodige individuele aandag aan elke kind afstaan nie, dus is dit baie belangrik dat ouers hul uitgebreide familie inspan. Ouers moet eenvoudig ’n gesonde balans tussen hul kinders se skermtyd en leestyd tref.”
Om meer uit te vind oor die VVA se werksaamhede, klik hier en onthou om jou stuiwer in die armbeurs te gooi deur op 14 Augustus ’n Afrikaanse boek te koop.