Koorleier met gesogte ATKV-Apploustoekenning vereer
Vir sowat vyf dekades het Petra Venter (74) as koorleier gehore meegevoer en leerders se passie en liefde vir koormusiek aangewakker.
Nou is dié gesoute koorleier met ’n ATKV-Applous-eretoekenning vereer vir haar lewenslange bydrae tot koormusiek.
“Dit is vir my ’n besonderse eer om met die toekenning vereer te word,” sê Petra.
“Dit is ongelooflik dat my harde werk raakgesien word. Ek wil graag die ATKV bedank dat ek in my moedertaal my passie en liefde vir koormusiek kon uitleef.”
Petra is die vierde ontvanger van dié eretoekenning. Prof. Petru Grabe, Ria Nel en Pieter van der Westhuizen ook met die toekenning weggestap.
Petra het haar onderwysgraad aan die destydse Potchefstroomse Onderwyskollege verwerf en ook by die Noordwes se konservatorium orrelmusiek geneem.
As koorleier het sy talle kore opgelei en die meeste van haar kore het al met toekennings by feeste weggestap.
Van haar beste herinneringe as koorleier was toe sy by die Hoërskool D.F. Malan die koor afgerig het en hulle ’n plaat getiteld Klip na Kristal opgeneem het.
“Dit was vir my ’n besonderse hoogtepunt en die gedigte wat getoonset is, het met my geresoneer. Jy kan slegs met passie en harde werk ’n klip kap tot dat jy kristal kry. Dit is wat met my beroep ook gedoen het. Ek het met ywerigheid en harde werk gehelp dat my kore presteer.”
In 1974 het Petra haar by die Hoërskool Vorentoe in Johannesburg aangesluit.
“Dit was een van my droomkore. Hulle het soveel passie vir koormusiek gehad en het net gesing. Ons het vir drie weke geoefen toe wen hulle eerste prys by die Johannesburg Afrikaanse Kunswedstryd.”
Sy sou ook die koor afrig wat die eerste ATKV-Applous gewen het.
“In 1978 het ek die Hoërskool Roodepoort se skoolkoor afgerig en hulle het die eerste ATKV-Applouskompetisie gewen. Dit was ’n besonderse prestasie vir my en vir die koor.”
Sy sê haar programme het altyd uit 50% Afrikaanse liedere bestaan.
“Mense het my altyd gevra hoe kry ek die kinders om Afrikaanse musiek te sing, maar dit was nog nooit ’n probleem nie. Die kinders was altyd toeganklik vir Afrikaanse musiek.”
En al is Petra nou in wat sy die herfs van haar lewe noem, het sy steeds ’n groot liefde vir koormusiek.