Kopskuif-werkswinkel inspireer fokus en veerkragtigheid
“Sien hierdie sessie soos ’n plaaslike supermark. Jy het nie alles op die rak nodig nie. Vat wat vir jóú belangrik is.”
Só het André Hendricks van ATKV-Kopskuif sy werkswinkel vir onderwysers en skoolbesture by die Victoria-Wes Gekombineerde Skool afgeskop. Die sessie het deel gevorm van die voorprogram van die Karoo-toneelfees, en soos gewoonlik het André nie lank gevat om die gehoor in die palm van sy hand te hê nie.
Daar is die sêgoed. Die hoede. Die humor. Maar ook daardie gemaklike manier waarop hy jou laat lag en, voor jy jou kom kry, aan iets laat dink wat ’n bietjie nader aan die siel lê.
André, wat reeds 21 jaar as lewensafrigter werk, het sy boodskap rondom een eenvoudige woord gebou: GREAT.
“G” staan vir “gesondheid”: Maak jou gesondheid ’n prioriteit. Stel grense. Jy kan nie alles vir almal wees nie – soms moet ’n mens eenvoudig leer om “nee” te sê.
“R” is vir “reflekteer”. Vra drie vrae: Wat werk? Doen meer daarvan. Wat werk nie? Stop. Wat ontbreek? Begin dit doen.
“E” is vir “eenvoud”. Hoe eenvoudiger jou lewe, hoe beter leef jy. Less is more.
“A” is vir “aksie”. Nie môre nie. Nie wanneer alles perfek in plek val nie. Kry ’n “doen dit nou”-ingesteldheid.
En uiteindelik is “T” vir “tyd”. Verlore tyd kan nie ingehaal word nie. Wees bewus van waar jy op hierdie oomblik in jou lewe is.
Maar tussen al die wenke het André die gehoor met drie vrae gelos: Is jy positief? Maak jy ’n impak? Waarom doen jy wat jy doen?
Vir André self lê die antwoord op laasgenoemde waarskynlik in die werk. Hy sê hy woon sy sessies by, hy daag nie bloot op om ’n praatjie af te rammel nie.
Op 6 Augustus het André weer die skoolsaal ingevaar vir ’n tweede Kopskuif-werkswinkel – dié keer met graad 11- en 12-leerders. Die boodskap was egter veral op die graad 12-leerders gerig: stars of 2026.
Hy het begin by iets wat maklik onderskat word: woorde dra krag.
As jy gedurig vir jouself sê dat jy nie gaan slaag nie, jy nie goed genoeg is nie of sukses nie vir jou bedoel is nie, begin daardie woorde uiteindelik soos waarheid voel. Dieselfde geld egter ook vir die positiewe.
Sê vir jouself dat dit moontlik is. Ten spyte van my omstandighede, is dit moontlik.
Hy het die leerders herinner dat ’n 100%-slaagsyfer in hul skool moontlik is, maar net as hulle dit self glo én bereid is om daarvoor te werk.
Hy het hulle herinner dat die finale eksamen teen 13 Oktober begin en teen 26 November eindig. Die tyd vir halfhartigheid raak min.
En toe breek hy “STARS” op.
“S” is vir “sacrifice” (opoffering). Sit nou alles in. Kry jou prioriteite reg. Hierdie is die tyd om te besluit wat belangrik is en wat kan wag.
“T” is vir “tyd”. Een van die grootste foute wat jongmense maak, is om te dink daar is nog baie daarvan oor. Moenie tyd mors nie.
“A” is vir “attitude” (houding). Hy gebruik die beeld van ’n ballon: dit is nie die kleur van die ballon wat hom laat opstyg nie, maar dit wat binne-in is. Dieselfde geld vir ’n mens. Jou gesindheid teenoor jou skoolwerk, jou onderwysers, jou vriende en uiteindelik jouself bepaal baie meer as wat jy dink.
“R” is vir “resilience” (veerkragtigheid). ’n Swak punt, ’n teleurstelling of moeilike omstandigheid hoef nie die einde van die storie te wees nie. Jy kan weer opstaan.
“S” is vir “selfdissipline”. Niemand kan elke dag namens jou kies om te leer, betyds op te staan, jou werk te doen en aan te hou wanneer jy nie lus is nie. Daardie deel bly joune.
Die twee Kopskuif-sessies het verskillende gehore gehad, maar eintlik dieselfde kernboodskap gedra: jy het meer beheer oor die rigting van jou lewe as wat jy dink. Welstand is nie iets wat jy eendag bereik en dan kan afmerk nie – dit is ’n belegging in jouself.
En vir die stars of 2026 is die boodskap nog eenvoudiger: Die tyd is nou.