Kreatiwiteit is die sleutel tot ’n gesonde samelewing
Een van die wêreld se grootste kreatiewe denkers, Albert Einstein, het gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Kennis is beperk. Verbeelding omspan die wêreld. Hierdeur het hy gesê die mens se verstand het geen perke nie. Gee dit vlerke!
Om die lig te werp op die rol wat kreatiwiteit en innovasie in ons lewens speel, vier ons jaarliks op 21 April Wêreldkreatiwiteit-en-innovasiedag, ’n internasionale dag wat deur die Verenigde Nasies ingestel is. Op die VN se webtuiste staan daar, “As ’n vaardigheid het kreatiwiteit geen perke nie. Wanneer die menslike verstand vryheid het, verken dit perspektiewe wat niemand nog voorheen oorweeg het nie. Deur betrokke te wees by kreatiewe aktiwiteite verbeter nie slegs jou kennis nie, dit het ook ’n positiewe invloed op jou gesondheid. Dit is so dat daar nie ’n universele definisie vir kreatiwiteit is nie. Die konsep is oop vir interpretasie ‒ van artistieke uitdrukking tot probleem-oplossing in die ekonomiese-, sosiale en volhoubare ontwikkelingsfere. Daarom wil die VN graag bewusmaking kweek oor die rol van kreatiwiteit en innovasie in alle aspekte van menslike ontwikkeling.”
Die ATKV glo kreatiwiteit is die sleutel tot ʼn gesonde samelewing
Met die ATKV se vele projekte sluit ons moeiteloos aan by die viering van kreatiwiteit en innovasie. Die ATKV bly toegewyd aan die volhoubare ontwikkeling van kuns en kultuur, wat ten nouste verweef is met kreatiwiteit en innovasie, en glo dat dit kernbelangrik vir ʼn gesonde samelewing is. ’n Ideale platform om kreatiewe denke aan te moedig, is die DigiKuns-projek ‒een van ’n paar Digi-projekte wat deur die ATKV aangebied word. Dit is hierdie jaar die vierde keer dat die kompetisie aangebied word en as jy ’n passie vir die kunste en kultuur het, is hierdie kompetisie net vir jou. DigiKuns is ’n opwindende nuwe digitale kunsplatform wat ’n unieke kreatiewe uitdaging aan laer- en hoërskoolleerders, studente, volwassenes en senior burgers binne en buite die landsgrense stel.
Dié jaar se tema is mense en die omgewing. Deelnemers word gevra om ’n visuele interpretasie van mense en die omgewing te skep in die vorm van ’n oorspronklike kunswerk. Verskillende kunsmedia kan gebruik word, onder meer gemengde media, fotografie, oorspronklike digitale illustrasie, beeldhouwerk, collage, skilder en verf, en ook illustrasie (potlood, houtskool of pensketse). Waarvoor wag jy? Spring nou aan die werk en spog met jou kreatiwiteit op hierdie enig-in-sy-soort kuns-en kultuurplatform. Beeld op ’n visuele manier daardie regte storie, wenstorie of droomstorie uit wat jou lewe verryk het of steeds verryk. Klik hier vir meer inligting: https://indd.adobe.com/view/af9b96b8-2f41-40df-ad28-00aac17f72a4