Kuierkol: ’n Fees van stemme en stories by KKNK
Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) vier vanjaar ’n besondere mylpaal: 30 jaar van kreatiwiteit, kuns en kultuur wat diep spore in die landskap van die Suid-Afrikaanse kunste getrap het.
Vir drie dekades lank is die KKNK ’n plek waar stories gedeel word, waar kunstenaars en gehore mekaar vind en waar Afrikaans – in al sy kleure en klanke – met trots gevier word. Teen dié historiese agtergrond keer die gewilde RSG/ATKV-Kuierkol vanjaar vir die tweede keer terug – groter, beter en lekkerder as ooit tevore!
Die Kuierkol het verlede jaar reeds bewys hoe kragtig samewerking kan wees wanneer twee gevestigde kultuurinstellings hande vat. Die Radio Sonder Grense (RSG) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se vennootskap het benewens dat dit ’n ontmoetingsplek geskep het ook ’n lewende feesruimte voorsien waar radio, letterkunde, musiek en gesprekke spontaan ineengevloei het. Vanjaar se aanbod bou voort op daardie sukses met nog meer energie, nog meer stemme en nog meer geleenthede vir feesgangers om van die ervaring deel te word.
Feesgangers kan hulle gereed maak om voluit saam met van hulle gunstelingradiopersoonlikhede van RSG te kuier. Die Kuierkol is nie bloot ’n verhoog of ’n uitsaai-ateljee nie – dit is ’n dinamiese ruimte waar gesprekke ontvou, stories gedeel word en lag en insig hand aan hand loop. Hier word radio tasbaar – jy hoor nie net die stemme wat jou elke dag vergesel nie, jy ontmoet hulle, gesels saam en word self deel van die storie.
Die ATKV se betrokkenheid by die KKNK is ’n natuurlike verlengstuk van sy kernmandaat om in mense te belê en om taal, kultuur en die kunste te bevorder. Dit is ’n reusevoorreg vir die ATKV om saam met die KKNK ’n nalatenskap te bou wat die rykdom van Afrikaans omhels en uitbou. Saam vier hierdie twee instellings nie net die verlede nie, maar belê hulle doelbewus in die toekoms, in jong stemme, nuwe idees en die voortdurende groei van ’n florerende feeskultuur.
Hartlik geluk, KKNK, met 30 jaar van kreatiwiteit en kultuurskepping. Oor drie dekades heen het die fees ’n voetspoor oor Suid-Afrika heen gelaat – van gevestigde kunstenaars tot opkomende talent, van diepdenkende teater tot ligter vermaak wat mense bymekaar bring. Die KKNK is meer as ’n fees – dit is ’n kulturele ontmoetingspunt waar gemeenskappe mekaar vind en waar kreatiwiteit vrylik kan asemhaal.
Vanjaar se RSG/ATKV-Kuierkol beloof om hierdie gees ten volle te beliggaam. Die volledige program is hier beskikbaar.
Die jongspan word spesiaal bederf wanneer Bazoo, die vriendelike bergskilpad, saam kom lees en kinders op ’n speelse manier aan die vreugde van stories bekendstel. Oom Karoolus en Lente bring weer hulle unieke energie na die verhoog, terwyl gevestigde kunstenaars soos Willie Joubert, Petronel Baard en Jak de Priester – saam met vele ander – sorg vir musiek en optredes wat die Kuierkol laat bruis.
Wat die Kuierkol besonders maak, is die toeganklikheid daarvan. Of jy nou ’n toegewyde RSG-luisteraar is, ’n boekliefhebber, ’n musiekentoesias of bloot iemand wat die feesatmosfeer wil opsuig – hier is ruimte vir almal. Feesgangers word na die Kuierkol in Baron van Reedestraat uitgenooi om nader te staan, in te skakel en deel te neem. Dit is ’n plek waar toevallige verbygangers maklik vasval in ’n gesprek, ’n optrede of ’n onverwagte oomblik van inspirasie.
Benewens die Kuierkol kan feesgangers ook ’n draai maak by die ATKV-Boeke-oase – ’n rustige toevlugsoord waar die liefde vir lees en skryf sentraal staan. Hier word boeke nie net vertoon nie, maar gevier. Skrywers en lesers kom bymekaar, idees word uitgeruil en die krag van die geskrewe woord word opnuut bevestig.
Die RSG/ATKV-Kuierkol is uiteindelik ’n weerspieëling van wat die KKNK oor 30 jaar heen so besonders gemaak het: samehorigheid, kreatiwiteit en ’n diep verbintenis tot kultuur. Dit is ’n uitnodiging aan elke feesganger om voluit te fees – om te luister, te leer, te lag en saam te droom.
Mag elke besoeker vanjaar die fees met ’n oop hart en oop ore beleef. Kom maak gerus ’n draai by die RSG/ATKV-Kuierkol en ervaar self waarom hierdie samewerking ’n hoogtepunt op die feeskalender is. Die ATKV en RSG kan nie wag om jou te verwelkom nie en om saam met die KKNK se 30ste bestaansjaar die krag, kultuur en kreatiwiteit van ons gemeenskappe te vier.